Sportlui skaar hul agter Naomi Osaka
Tennis
Vooraanstaande tennisspelers en ander sportlui het hulle agter Naomi Osaka geskaar nadat die Japanse tennisster haar aan die Franse Ope onttrek het weens omstredenheid oor haar besluit om die mediaonderhoude ná wedstryde te boikot.
Ondersteuners van die 23-jarige wenner van vier Grand Slam-titels meen sy ly aan “depressie” en “angs”.
Osaka (tweede gekeur) het Maandag die skokaankondiging gemaak nadat sy beboet en gedreig is dat sy uit die toernooi geskop sal word omdat sy nie Sondag die verpligte mediakonferensie ná haar oorwinning in die eerste ronde bygewoon het nie.
Osaka, tweede op die wêreldranglys, het vooraf op Twitter gesê sy sal weens kommer oor die impak van mediakonferensies op haar geestesgesondheid nie in Parys met die media gesels nie.
Sy het Maandag na Twitter teruggekeer om haar onttrekking aan te kondig: “Ek dink dis die beste vir die toernooi, die ander spelers en my welstand om my te onttrek sodat almal voortaan op tennis kan fokus.”
Hoewel sy aanvanklik min steun van haar medespelers ontvang het weens die mening dat mediaverpligtinge deel is van beroepsport, is sy sedert haar onttrekking met ’n stortvloed ondersteuning begroet.
“So trots op jou. Versorg jouself en sien jou vinnig weer in die wenkampie,” sê die Amerikaanse major-kampioen Venus Williams.
Haar suster, Serena, en jonger Amerikaanse spelers Coco Gauff en Sloane Stephens het ook boodskappe van ondersteuning gedeel nadat die fokus verskuif het van Osaka se verantwoordelikhede na haar welstand.
Die legendariese Billie Jean King het, soos haar mede-baanbreker Martina Navratilova, klem gelê op die belangrikheid van geestesgesondheid.
“Dit is ongelooflik dapper dat Naomi Osaka eerlik is oor haar stryd met depressie,” sê King.
“Dit is nou belangrik dat ons haar die nodige tyd en ruimte gun. Ons wens haar sterkte toe.”
Groot name in ander sportsoorte het hul ook agter Osaka geskaar. Die gholfspeler Michelle Wie, NFL-spelers Russell Wilson en Tyler Lockett, asook die Olimpiese legende Usain Bolt het boodskappe van ondersteuning op sosiale media gedeel.
“Jy is nie veronderstel om ’n besluit soos hierdie hoef te neem nie – maar dit is uiters indrukwekkend om standpunt in te neem wanneer diegene in beheer nie hul eie mense beskerm nie,” sê die NBA All Star-speler Steph Curry.
Daar is ook diegene wat die organiseerders van Roland Garros kritiseer vir hul hantering van die kwessie.
Gilles Moretton, president van die Franse Tennisfederasie, het Maandag ’n verklaring uitgelees waarin die beheerliggaam sy ondersteuning vir Osaka beweer, maar hy het geweier om enige vrae te beantwoord.
Osaka, wat volgens die sake-webblad Sportico die afgelope 12 maande US$55,2 miljoen verdien het, word beskou as een van die grootste trekpleisters by die Olimpiese Spele in Tokio in Julie en Augustus.
Osaka sê sy gaan ’n blaaskans van tennis neem en die organiseerders van die reeds beleërde sportskouspel sal hoop dat sy betyds vir die Spele na die baan sal terugkeer.
– Reuters, Netwerk24
FOTO
Die aandag het effens verskuif van Naomi Osaka se mediaverpligtinge na haar geestesgesondheid. Foto Getty Images

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie