Sportnaweek vir privaatskole

Meer as 6 000 besoekers op Keetmanshoop verwag
Augetto Graig
Augetto Graig

Vanaf 1 tot 4 Junie verwelkom die Keetmanshoop Privaatskool (KPS) skole van oral in die land wanneer die jaarlikse privaatskole se sportgeleentheid aangebied word.
Die byeenkoms word onder die vaandel van die Namibiese ­Privaatskole Organisasie (NAPSO) gereël.
Die voorbereidings loop vlot, veral ten opsigte van die reëlings om al 18 deelnemende skole se atlete – van wie baie met hul gesinne na die Suidedorp sal reis – te huisves.
Volgens KPS se hoof, mnr. Tinus Botma, vorder dinge goed en sal alles gereed wees om aan die meer as 6 000 besoekers ’n sportbyeenkoms uit die boonste rakke te bied. KPS herdenk ook vanjaar sy twintigste bestaansjaar en die hele geleentheid val mooi in die skool se planne om sy ­suksesse van die afgelope twee dekades te vier.
KPS bied klasse van graad 1 tot 12 en op die oomblik word ’n nuwe koshuis gebou waar tot 60 leerlinge in die toekoms gehuisves sal word. Die skool se 172 leerlinge kom van oral in die streek en vorder almal goed.
“Moedertaalonderrig en Christelike waardes,” is volgens Botma die resep vir sukses. As bewys daarvan spog KPS sedert 2009 met ’n 100% slaagsyfer en ’n gemiddeld van 63% per leerling. “Ons kinders vaar goed,” sê hy.
Almal hoop natuurlik dat KPS by die komende sportbyeenkoms ewe goed sal presteer.
Volgens Botma het die dorp se inwoners hul volle ondersteuning gegee aan die pogings om alles daarvoor gereed te kry.
Dit alles kom egter teen ’n prys, met soveel as N$1,2 miljoen wat benodig was om die dorp se sportkompleks op te knap en waarvan Anglo American N$850 000 geborg het.
I Dream Africa gaan byvoorbeeld sorg vir die tentedorp en die skool het reeds voorsiening gemaak vir mobiele toilette en storte, wat sowat N$500 000 kos. Meer as 1 600 matrasse staan gereed vir dorpsmense wat hul buitekamers en woonstelle regmaak vir deelnemers se aankoms.
Die hoofborg is Securitas wat meer as N$150 000 ingeploeg het.
Maar dit is nie net atlete wat kan wen nie. Daar is ook ’n spoggerige motor en verskeie ander pryse op die spel en wat deur besighede op die dorp, soos Pro Edge, The Gunshop, Zebra Trailers, Dunlop, Afrox en Cengas, geborg is. Alle deelnemende skoolkinders verkoop kaartjies hiervoor en die leerling wat die meeste verkoop, ontvang ’n groot kontantprys.
Vanjaar is verskeie sportkodes ingesluit onder meer tennis, ­mini-hokkie, mini-­rugby, boogskiet, kaskarwedrenne en jukskei. Daar word ook onder die mooi­stes meegeding, met die Mnr. en Mej. ­Privaatskole wat die Saterdagaand gekroon word. Kaartjies vir dié geleentheid waar sangers Wynand en Cheree asook ander kunstenaars optree, sal eersdaags te koop wees.
Sedert die privaatkole naweke in 2001 op Tsumeb begin het, neem dit nog elke jaar in omvang toe. In 2004 het sewe skole deelgeneem en in 2010 was daar 14.

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!