SPP vra Geingob om in te gryp
’n Pleidooi is aan die staatshoof gerig om een van die mees moderne visfabrieke in Afrika se voortbestaan te verseker.
Ronelle Rademeyer en Adolf Kaure
Seaflower Pelagic Processing (SPP) op Walvisbaai het ’n beroep op pres. Hage Geingob gedoen om in te gryp en sy viskwota-krisis op te los.
“Ons het ’n wêreldklas fabriek. . . Die grootste visverwerkingsaanleg op die Afrika-vasteland en nie een ton vis nie.
“Pres. Hage Geingob het by verskeie geleenthede gesê hulle (die regering) luister na die mense. En ons steek nou ons hand namens die belegger (van SPP) en die werkers op, en vra dat hy na ons luister.”
Só het mnr. AJ Louw, voorsitter van SPP, Maandag by dié vismaatskappy se aanleg aan joernaliste gesê.
Seaflower op Walvisbaai is reeds maande lank in ’n stryd met sy regeringsvennoot, die National Fishing Corporation of Namibia (Fishcor), gewikkel oor die nienakoming van die kwotavoorwaardes van hul kontrak.
Fishcor moet ingevolge die kontrak jaarliks ’n maasbankerkwota van 50 000 ton aan SPP gee.
Dié vismaatskappy het in 2017 tot stand gekom nadat Fishcor met African Selection Trust SA Group (AST), waarvan Louw die hoof uitvoerende beampte is, ’n ooreenkoms gesluit om as bedryfsvennoot ’n visverwerkingsaanleg vir maasbanker op te rig, vissersbote aan te skaf en die vangste te bemark. Fishcor besit 40% van die aandele in Seaflower en AST 60%.
Die kontrak bepaal verder Seaflower moet vir Fishcor ’n gebruikersfooi van 8% per ton betaal in ruil vir die kwota wat aan hom toegeken word. Op 50 000 ton beloop dit sowat N$50 miljoen, sê Louw.
“Pres. Geingob was hier nadat ons die aanleg gebou het. Hy was baie beïndruk en het selfs gevra vir ’n skaalmodel van Seaflower se fabriek. Die kontrak tussen AST en Fishcor is deur die kabinet onderskryf; die regering wou dit hê,” sê Louw.
“Ons weet tot vandag toe nie wat ons – die maatskappy, die belegger en werkers – verkeerd gedoen het nie,” het mnr. Adolf Burger, besturende direkteur van SPP, tydens die voorlegging aan joernaliste bygevoeg.
Louw sê die kwota is die enigste struikelblok tussen SPP en die permanente indiensneming van 1 105 werkers.
Hy sê AST het soveel vertroue gehad in die vennootskap dat hy ’n verdere N$100 miljoen bestee om ’n stuk grond reg langs SPP se reuse-aanleg te koop waar ’n stokvisaanleg opgerig sou word om nog 400 werksgeleenthede te skep. “Omdat Fishcor nie by die kontrak gehou het nie, is daardie belegging nou vir die Namibiese ekonomie verlore.”
Louw het verder gesê hy is “baie hartseer en teleurgesteld oor wat gebeur het” en “dit maak hom bitter hoe die regering die situasie hanteer”.
“1 Januarie is om die draai. Ons het ’n powere finansiële jaar gehad en daar is nie een ton vis op ons boeke vir volgende jaar nie.”
Van die 150 000 ton maasbankerkwota wat SPP tot toe nou ingevolge die kontrak moes kry, het Fishcor sedert 2018 net 55 000 ton gegee.
“In 2018 het Seaflower niks van die ooreengekome 50 000 ton gesien nie en vir 2019 en 2020 skuld Fishcor ons 20 000 en 24 334 ton onderskeidelik. Dis bykans 95 000 ton en die waarde daarvan is N$255 miljoen,” sê Louw.
Vrae hieroor is gister per WhatsApp aan mnr. Leon Jooste gerig, maar teen druktyd het hy nog nie die teksboodskap gelees nie.
AANLANDIGE VERWERKERS AFGESKEEP
Intussen het mnr. Jason Angala, bemarkingsbestuurder van African Selection Marketing, bemarkingsarm van SPP, daarop gewys vismaatskappy met fabriekskepe wat die vis aan boord vries, word bevoordeel bó maatskappye met aanlandige visfabrieke wat meer werksgeleenthede skep.
Hy sê volgens die vyfde nasionale ontwikkelingsplan (NDP5), moes die kwotaverdeling vanjaar 50/50 gewees het. Pleks hiervan het vismaatskappye wat aan boord van hul fabrieksbote die vis vries, 85% van die totale toelaatbare vangste (TAC) van 330 000 ton gekry.
“Dié maatskappye wat die vis verkoel land toe bring en daar in fabrieke verwerk, het net 15% van die TAC gekry, maar verskaf aan 83% van die werkers in die visbedryf werk.”
Die strewe ingevolge die NDP5 is om teen 2022 ’n kwotaverdeling van 30/70 in die guns van aanlandige verwerkers te hê.
Op ’n vraag aan dr. Albert Kawana, minister van visserye en mariene hulpbronne, oor waarom die realiteit vanjaar so ver van die NDP5 se strewe verwyder was, het hy geantwoord: “Daardie syfers is uit ’n ou dokument. Toe ek as minister aangestel is, was die verdeling 70/30 in die guns van fabrieksbote wat aan boord vries. Ons werk tans aan NDP 6.”
Hy het gesê die formulering van die NDP6 is die taak van die nasionale beplanningskommissie en net dié kommissie sal kan sê wanneer dit gereed sal wees.
Kawana sê onder die nuwe nasionale ontwikkelingsplan sal 70% van alle kwotas na vismaatskappye gaan wat die vis aanlandig verwerk sodat waarde toegevoeg en meer werksgeleenthede in die visbedryf geskep kan word.
Angala het verduidelik ’n fabrieksboot het 50 mense nodig vir elke 25 000 ton vis wat gevang en gevries word, terwyl verwerkingsfabrieke op land 700 mense in diens neem om soveel ton vis te kan verwerk.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie