Sprekers pak mekaar oor grond
Grondhervorming is nie net 'n politieke kwessie nie, maar raak landbou en die ekonomie direk.
Augetto Graig - Daar is geen kitsoplossings vir grondhervorming en die behuisingskrisis nie, maar die probleme verg dringende aandag, het Dinsdagaand tydens 'n praatjie in aanloop na Namibië se tweede nasionale grondkonferensie geblyk.
Volgens die bekende menseregteprokureur, mnr. Tjombe, is grondhervorming ’n emosionele kwessie wat dikwels verkeerd benader word.
“Ons praat asof alle probleme opgelos sal word as grondeienaarskap van gelaatskleur verander. Ons praat nie oor voedselsekuriteit of die optimale gebruik van grond nie,” sê hy.
Tjombe voel té min aandag word boonop aan stedelike grondhervorming gegee.
Hy en ander sprekers was aan die woord by 'n praatjie wat deur die Regshulpsentrum (LAC) aangebied is as deel van die menseregteorganisasie se 30ste bestaansjaar. Die tema was “Grondregte – strategieë wat sal werk”.
Me. Toni Hancox, direkteur van die LAC, het gevra hoe mense waardig kan lewe sonder “’n huis of plek om jou eie te noem”.
“Die regering bestee ongeveer N$2,5 miljoen per begunstigde aan hervestigingsplase, maar die probleem word nie opgelos nie,” het Tjombe gesê.
Die jeug sal volgens hom druk op die regering uitoefen - veral ná Suid-Afrika onlangs in beginsel onteiening sonder vergoeding aanvaar het. “Ek sien nie dat ons beleidskeppers wakker skrik nie. Sowat 6 500 plase landswyd, waarvan 80% aan die witmense behoort, wat maar 6% van die bevolking is, is onvolhoubaar. Ons sal probleme hê,” het Tjombe aangevoer.
WET, ORDE EN LANDSBELANG
Volgens mnr. Sakkie Coetzee, wat die stem van kommersiële boere verwoord het, is hervorming 'n baie breër kwessie as grondregte.
“Ons moet die harde werklikhede van wetgewing en die ekonomie aan die een kant, en die ambisies van politici en die mense wat grond wil hê aan die ander kant balanseer. Ek is bekommerd ons skep in die proses ’n arm en afhanklike landbousektor. Dit sal voedselsekuriteit bedreig,” het Coetzee gesê.
Volgens hom moet Namibië eers bepaal wat ’n billike inkomste vir ’n huisgesin is. Daarna moet bepaal word hoeveel grond nodig sou wees om dié bedrag mee te verdien, en dán hoeveel boere so 'n stuk grond in stand sal kan hou.
Boerderye se winsgewendheid is volgens Coetzee onder geweldige druk en het sedert 2016 met 8,2% afgeneem. Ongeveer 4 000 kommersiële boere skep tans werk vir sowat 3 500 werknemers - werke wat in gedrang kan kom.
Almal moet volgens Coetzee in beraadslagings Namibië eerste stel. Volgens hom behoort die grondberaad dan op verfynde wetgewing ooreen te kan kom.
BEMAGTIGING VAN LANDBOUERS
Mnr. Mwilima Mushokobandji, uitvoerende direkteur van die Namibiese Nasionale Boerevereniging (NNFU), het die belang van landbouhervorming vir kommunale boere beklemtoon. Volgens hom moet klem gelê word op voedselproduksie, voedselsekerheid en waardetoevoeging tot rou produkte.
“Grondhervorming behoort te gaan oor toegang tot landbou-insette, toegang tot landboudienste, die befondsing van landbou en toegang tot die mark en ander dienste. Ons moet die voorheen benadeeldes bemagtig,” het Mushokobandji gesê. “Die toekoms van landbou in Namibië lê by ons as grondeienaars,” het hy gesê.
Volgens hom moet Namibië beter beroepsopleiding bied, vrouens en die jeug voorkeurtoegang tot grond gee en landbou as ’n loopbaan aantreklik maak.
BEHUISING
Volgens mnr. Charl-Tom Bayer, die gespreksmoderator en departementshoof van grond- en eiendomswetenskappe aan die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) beskik 150 000 Namibiese huisgesinne in stedelike gebiede nie oor voldoende behuising of grondregte nie. Die kwessie raak meer as 600 000 mense.
Meer as 300 000 Namibiërs in landelike gebiede gaan onder soortgelyke omstandighede gebuk. Byna een miljoen Namibiërs het dus volgens Bayer ’n behoefte aan blyplek. Hervestigde boere het volgens hom boonop geen amptelike grondregte nie.
Bayer het verwys na die arbeidsmagopname van 2014, waarvolgens 94% van Namibiërs minder as N$10 000 per maand verdien. Meer as 80% verdien minder as N$5 000 per maand - bedrae waarvoor niemand eiendom kan aanskaf nie.
"Nie genoeg is al gedoen om die redes te ondersoek waarom ons ’n behuisingsprobleem het nie," het Tjombe aangevoer. "Huise is duur, grond is duur, professionele dienste is duur.”
Volgens hom is te min wonings deur die massabehuisingsprojek opgerig. "Huise is bo-op ou probleme gebou, en weer eens kan arm mense huise nie bekostig nie,” het Tjombe gesê.
Mnr. Job Amupanda van die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) was ook teenwoordig en het gesê grondhervorming is ’n politieke kwessie. Hy het weer gedreig jongmense sal plase beset indien die grondkonferensie misluk.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie