Spyker- en garekuns vervolmaak
Ndako Nghipandulwa het homself geleer teken en skilder voordat hy sy unieke nismark gevind het.
Tanja Bause
“Daar is baie mense in Namibië wat baie beter as ek kan skilder en dus wil ek die kuns vervolmaak om portrette uit spykers en gare te maak,” sê Ndako Nghipandulwa (31), 'n Namibiese kunstenaar.
Ndako is in die Kwanza-Sul-vlugtelingkamp in Angola gebore.
“My ouers het ná onafhanklikwording in 1990 Windhoek toe getrek. Ek was twee jaar oud toe ek in die hoofstad aangekom het en hier woon ek nog steeds. Ek het my skoolloopbaan en naskoolse studies hier gedoen.”
“Die eerste keer wat ek regtig in kuns begin belangstel het, was toe ek 11 jaar oud was en my oom oorlede is. My ma het sy besittings gaan afhaal. Ons het nooit geweet dat hy skilder of teken nie, maar my ma het op sy kunswerke afgekom en huis toe gebring. Hy het hoofsaaklik diere geteken en ek was baie geïnteresseerd in die tekeninge,” het Ndako gesê.
Hy het op skool bloot vir die pret begin potloodsketse maak.
“My klasmaats het my tekeninge gesien en gevra dat ek 'n tekening van hulle maak. Ek het toe begin om hulle en my familie te teken. Ek het nooit enige formele opleiding in kuns ontvang nie – nie op skool of ná skool nie.”
Ná skool het Ndako siviele ingenieurswese by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) gaan studeer.
“Ek het vir omtrent ses jaar as 'n siviele ingenieur gewerk. Die ekonomie het verswak en werk in konstruksie het skaars geword. In 2017 het ek my werk verloor en by die huis gesit. Dit is toe ek weer begin teken het. Ek het myself ook geleer hoe om met verf te skilder en hoe om die spyker- en garekuns te doen. Tot in daardie stadium het ek my hele lewe lank net met potlood geteken.”
Hy het as skoolkind die eerste keer met spykerkuns te doen gekry. Spykers word in hout ingekap en dan word die spykers met gare verbind om 'n prent uit te beeld.
“'n Vriend van my was besig om herstelwerk aan die woonstelle in ons blok te doen en daar het gedurig gereedskap, spykers en plafonborde in die woonstel rondgelê. Nadat sy werk klaar was, wou hy die goed weggooi. Ek het hulle gevat en weer met die spykers en gare begin rondspeel.”
Ndako het sy eerste skeppings op sosiale media begin wys en mense het begin navraag doen.
“Ek het in daardie stadium geen inkomste gehad nie en het dus besluit om my werke te verkoop. Dit was nie lank nie en ek het my eerste opdragte van mense gekry. Ek het nooit beplan om 'n kunstenaar te wees nie; dit het net gebeur.”
Ndako plaas die plafonbord op die vloer. Dan teken hy die portret met potlood op die bord en begin slaan die eerste spykers in die bord. Hy weet nie hoeveel spykers hy vir een kunswerk benodig nie.
“Wanneer die spyker die sementvloer tref, is hy op die regte diepte ingekap. Dit is hoe ek verseker dat elke spyker op dieselfde diepte ingekap is.”
“Ek het in 'n stadium die spykers probeer tel, maar ek raak aanhoudend deurmekaar, so ek het opgehou dit doen. Ek weet wel dat een gemiddelde grootte kunswerk sowat drie kilogram spykers gebruik.”
Hierna begin hy die garedraad van spyker tot spyker span.
“Ek gebruik wit, grys en swart gare. Deur dit te doen, kry die portret diepte, skaduwees en skakerings. Ek span die gare ook nie net een keer van spyker tot spyker nie; om nog meer diepte te kry, span ek hulle tot vier keer en ook verskillende kleure oor mekaar vir ekstra skaduwee.”
Hy verf sommige van die spykerkoppe swart voordat hy met die gare begin. Veral daar waar mense se hare of oë is, word hulle geverf sodat dit van ver af die illusie skep dat dit soliede swart is. Net van naby sal jy agterkom dit is silwer spykers wat geverf is.
“Ek wil die spyker- en garekuns vervolmaak. Ek het eers begin om net swart gare te gebruik. Toe het ek die twee ander kleure bygesit en die verskil is ongelooflik. Sodra ek dit heeltemal onder die knie het en dit is perfek, sal ek begin om met alle kleure gare te begin werk. Maar ek is 'n perfeksionis en moet eers dié een 100 persent bemeester voordat ek met die volgende fase begin.”
In Maart 2019 het hy sy eerste kunsuitstalling by die Nasionale Kunsgalery in Windhoek gehou.
“Ek het my werke met akrielverf, potloodtekeninge en die spykerkuns uitgestal en drie werke verkoop. Ná die uitstalling het mense my egter opgespoor en ek het alles verkoop.”
Intussen het hy ook al vele bestellings gekry.
“Ek het al muurskilderye op Walvisbaai, Oranjemund en Aranos gedoen. Op Keetmanshoop het ek ook 'n skildery op 'n groot rots gedoen. Omtrent 90 persent van my werke is op bestelling. Ek doen veral baie spykerkunswerke van portrette.”
Hy het ook al van sy kuns in die buiteland verkoop – twee werke in Nigerië, twee in Suid-Afrika en vier in die Verenigde State van Amerika.
“Dit is baie moeilik om die werke na die buiteland te stuur omdat dit nogal swaar is en die vervoerkoste amper meer is as die werk self. Ek is besig om met mense in Duitsland te gesels om 'n uitstalling daar te hou. Dit is nou net weens die hoktyd bietjie vertraag.”
Volgens hom is dit nie altyd maklik om van kuns te lewe nie, maar hy moedig kunstenaars aan om nie moed op te gee nie.
“Hou aan skep en plaas jou werke op sosiale media. Jy moet jouself en jou werk soveel blootstelling gee soos jy kan.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie