Sri Lanka: Dodetal styg tot 290

Die meeste van die ontploffings by drie kerke en vier hotelle was blykbaar selfmoordbomaanvalle.
Die dodetal in die Paasfees-ontploffings in Sri Lanka het tot meer as 290 gestyg, berig The Guardian. Meer as 400 mense is beseer.

CNN berig 24 mense is tot dusver in verband met die agt ontploffings by drie kerke, vier hotelle, waarvan een by die diere­tuin is, en 'n woonkompleks aangekeer.

Die meeste van die ontploffings was blykbaar selfmoordbomaanvalle.

Dit is die eerste groot aanval op dié eiland sedert die einde van die burgeroorlog tien jaar gelede.

CNN sê 'n tuisgemaakte bom is Sondag omstreeks 22:15 naby die Bandaranaike-lughawe in die hoofstad, Colombo, gevind. Dit is deur plofstofkundiges onskadelik gestel. Dit was in 'n PVC-pyp verpak en sowat 1,8 m lank, het Gihan Sene­viratne, woordvoerder van die lugmag, aan CNN gesê.

Volgens Independent is 37 buitelanders dood. Onder hulle is vyf Britte en burgers van Australië, Amerika, Turkye, Denemarke, China en Portugal.

CNN berig Ranil Wickremesinghe, premier van Sri Lanka, het op 'n nuuskonferensie gesê dit wil voorkom asof daar waar­skuwings voor die aanvalle was.

Hy sê hy word nie op die hoogte gehou oor die soort inligting nie en dit is een van die kwessies wat aandag geniet.

Volgens CNN word sosiale media en bood­skapdienste wat Facebook en WhatsApp insluit, steeds geblokkeer om die verspreiding van fopnuus te stuit.

Die weermag word gebruik om plekke van aanbidding te bewaak en veiligheid by die internasionale lughawe in Colombo is verskerp.

'n Aandklokreël is Sondag ingestel om mense van 18:00 tot 06:00 binne te hou.

Kerke, hotelle geteiken

Dosyne mense is op Paassondag dood by die ontploffing by die geskied­kundige St. Sebastian Katolieke kerk, gebou in Gotiese styl, in Negombo net noord van Colombo.

Die polisie vermoed dat die aanvaller by dié kerk homself opgeblaas het. Foto's van die toneel wys hoe lyke oor die grond gestrooi lê, met bloed op die kerkbanke. Die kerk se dak is vernietig in die ontploffing.

Die hotelle wat aangeval is, sluit in die Shangri-La, die Kingsbury, die Cinnamon Grand en die Tropical Inn naby die dieretuin.

Die eerste ses ontploffings is binne 'n kort tydjie aangemeld – presies op die tyd wat kerkdienste begin het. Een van die ontploffings was by St. Anthony's Shrine, 'n Katolieke kerk in Colombo wat gereeld deur toeriste besoek word.

Die ontploffing by die Tropical Inn het eers later gevolg en daarna was daar 'n agtste ontploffing by 'n huis in die hoofstad.

Wêreldwye veroordeling

Staatshoofde van regoor die wêreld het reeds die aanvalle veroordeel. Pres. Donald Trump van die VSA het sy land se “diepste meegevoel” oorgedra en gesê die VSA is oorgehaal om te help indien hulp benodig word.

António Guterres, sekretaris-­generaal van die Verenigde Nasies, het ook die ontploffings veroordeel.

Indië se eerste ­minister, Narendra Modi, het gesê “daar is geen plek vir sulke barbaarsheid in ons streek nie” en Turkye se pres. Tayyip Erdogan het die bomme beskryf as 'n “aanval op die mensdom”.

In sy jaarlikse Paasboodskap op St. Petersplein het pous Fransciskus gesê: “Ek wil my liefdevolle nabyheid uitspreek teenoor die Christen-gemeenskap wat aangeval is tydens gebed, en teenoor al die slagoffers van die wrede geweld”.

Nieu-Seeland se eerste minister, Jacinda Ardern, het ook haar meegevoel met Sri Lanka uitgespreek. Verlede maand het 'n aanvaller vyftig mense by twee moskees in dié land doodgeskiet.

Ekstreme Boeddhistiese monnike

Plaaslike Christen-­groepe sê hulle het die afgelope jare toenemend intimidasie van sommige ekstreme Boeddhistiese monnike ervaar.

Verlede jaar was daar botsings tussen 'n ­meerderheidsgroep Boeddhiste en 'n minderheidsgroep Moslems. Sommige Boeddhiste beskuldig die Moslems daarvan dat hulle mense dwing om tot Islam te bekeer.

Volgens 'n organisasie wat meer as tweehonderd kerke en ander Christen-organisasies in Sri Lanka verteenwoordig, was daar verlede jaar 86 bevestigde voorvalle van diskriminasie, dreigemente en geweld teen Christene in Sri Lanka. Vanjaar is 26 sulke voorvalle aangemeld, waaronder een waartydens Boeddhiste-­monnike glo probeer het om kerkdienste op 'n Sondag te ontwrig. Die laaste voorval is op 25 Maart aangemeld.

Luidens 'n sensus­opname van 2012 is sowat 70% van Sri Lanka se bevolking van sowat 22 miljoen Boeddhiste, 12,6% is Hindoes, 9,7% is Moslems en 7,6% is Christene. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!