St. Paul's lewer kaptein vir o.19 WB-missie
St. Paul's lewer kaptein vir o.19 WB-missie

St. Paul's lewer kaptein vir o.19 WB-missie

Vyf Afrika-lande sal sake uitspook vir een plek by die 2022 Wêreldbeker.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die 16-jarige Jack Parker is as kaptein aangewys van die Namibiese o.19-krieketspan wat aanstaande maand die land se plek by die o.19 Wêreldbekertoernooi moet gaan terugwen.

Die o.19 Afrika-toernooi word van 28 September tot 7 Oktober in Rwanda se hoofstad Kigali gespeel. Namibië, Nigerië, Uganda, Tanzanië en die gasheerland is die vyf spanne wat sake sal uitspook vir die enkele plek by die 2022 junior wêreldtoernooi in Wes-Indië.

Nadat Namibië sedert sy debuut in 1998 net twee keer (2004 en 2010) die tweejaarlikse toernooi vir die ­volgende geslag o.19-spelers ­misgeloop het, het sy 2019-span ­on­verwags misluk, ondanks die voordeel dat die kontinentale kwalifiserende toernooi in Windhoek aangebied was.

Die Namibiërs het tweede geëindig en kon nie vergoed vir hul nael­skraapse glips op die openingsdag teen Nigerië nie, wat enduit onoorwonne gebly het om vir die eerste keer die o.19 WB te haal.

Die afrigter vir die 2021-groep, Fortune Matawu, sê hy het volle vertroue dat 'n spelersgroep aangewys is wat by enige gebeurlikheid of wed­strydsituasie sal kan aanpas.

“Ons het 'n gebalanseerde groep, met bekwame draaiboulers en snelboulers. Ons kan ook tot 'n diep kolf­lys tot op nommer tien saamstel.

“Ek het reeds by Francois van der Merwe (afrigter van die vroue-Eagles, wat onlangs in 'n toernooi in Rwanda die finaal gehaal het) inligting oor die plaaslike omstandighede ingewin. ­Uiteraard kan weersomstandig­hede op enige gegewe dag die toe­stande van die kolfblad verander, maar ons sal kalm bly en die regte elftal vir die spesifieke dag se taak kan kies.”

Die o.19-groep het in Februarie begin met 31 spelers wat ná 'n stel nasionale proewe saamgestel is. Die groep is later tot twintig gesnoei, voordat die finale 14-tal dié week aangekondig is.

Die onttrekking van Divan la Cock (WHS Old Boys), 'n topordekolwer en draaibouler en voormalige nasionale o.19-kaptein, asook die linkerarm-snelbouler Stefan Bezuidenhout van Gobabis – beide op grond van studieverpligtinge – het die keurders van twee bevoegde opsies ontneem.

Matawu sê hy hoop om in die oorblywende weke voor hul vertrek soveel as moontlik wedstrydgeleentheid vir die groep te reël. Moontlikhede sal ondersoek word vir ontmoetings teen premierliga-klubs, of kombinasies van die senior Eagles elite oefengroep.



Die Namibiese o.19-span:

Jack Parker (kaptein) – St. Paul's College, CCD Tigers.

JC Balt – Windhoek Affies, Wanderers.

Renier Bosman – Pro-Ed Akademie, Welwitschias.

Lu-Hendro de Waal – Windhoek Gimnasium, Wanderers.

Dylan Leicher – Windhoek Gimnasium, WHS Old Boys.

William Lottering – Walvisbaai Privaat Hoërskool, Welwitschias.

Ryan Moffet – St. Paul's College, CCD Tigers.

Louis Peters – Gobabis Gimnasium, Gobabis-krieketklub.

Jan-Hendrik Potgieter – Edugate, Otjiwarongo Tornadoes.

Dirkie Theunissen – Windhoek Gimnasium, WHS Old Boys.

Gerhard Janse van Rensburg (paaltjiewagter) – Windhoek Gimnasium, WHS Old Boys.

JW Visagie (paaltjiewagter) – Windhoek Gimnasium, Trustco United.

Alex Volschenk – Hoërskool Waterkloof (Pretoria), WHS Old Boys.

Ramon Wilmot – CCD Tigers (tevore Windhoek Gimnasium).

AFRIGTER: Fortune Matawu

HULPAFRIGTER: Justice Hangula

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!