Staak die afknouery
Staak die afknouery

Staak die afknouery

Adolf Kaure
Dit gaan die verstand te bowe dat afknouery steeds in ons wêreld bestaan.

Ek’s seker almal het al minstens een of meer kere ervaar dat iemand jou lastig val – ék het vir seker.

Maar ek het nie besef hoe ingewikkeld hierdie sosiale verskynsel is tot ek ’n onderhoud met Andeline Wieland, 2017 se Miss Continents en eerste prinses in 2016 se Mej. Namibië, oor haar boelie-ervaring gevoer het nie.

Andeline, wat nou aan die tweede seisoen van M-Net se The Bachelor South Africa deelneem, het met my gedeel hoe sy as tiener deurgeloop het – nie net onder haar eie portuurgroep nie, maar onder volwassenes ook.

Afknouery het soveel gevolge – veral sielkundig.

Andeline het tydens ons onderhoud gesê selfs haar skoolonderwysers het haar afgeknou.

Ná sy in 2012 Mej. Tiener Namibië gewen het, het sy kwetsende e-posse van ander deelnemers se ouers gekry, wat sê sy is nie modelmaer nie.

Dié tipe afknouery kan mens verwerp laat voel en asof jy jouself altyd aan ander moet bewys.

Sy het ook gesê sy het haarself soms gesny en het met bulimie begin sukkel omdat haar portuurgroep haar vertel het sy sou beter lyk as sy donkerder hare gehad het of bruiner was.

Ek het sedertdien besef mense wat iets het wat ander nie het nie, of mense wat uitstaan, word dikwels geboelie.

Dis hoekom ouers in die eerste plek meer moet doen om hul kinders te leer om verdraagsaam te wees teenoor mense wat anders as hulle is.

Die mensdom bestaan uit mense van verskillende rasse, etniese groepe, haarkleur, oogkleur, liggaamgrootte en persoonlikhede.

Ons moet ons kinders leer om ander lief te hê soos hulle is, want God het ons nie dieselfde geskape nie – anders kon hy net sowel robotte gemaak het.

Tweedens moet boelies op ’n vroeë ouderdom beter opgevoed word in skole.

Lewensvaardighede soos selfgeldendheid en gesonde grense moet ook voorkeur geniet, want dié kwessies word al erger soos kinders ouer word.

Boelies word dikwels misdadigers of mishandelende lewensmaats. Slagoffers ly aan posttraumatiese stressindroom (PTSD) en ander silekundige probleme, terwyl ander uiteindelik self ook begin boelie.

Om die bose kringloop van afknouery te stop, moet ouers, opvoeders en selfs sielkundiges met oplossings vorendag kom om dié soms onsigbare monster hok te slaan.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer