Staak jul uraansoektog, eis Kalahari-boere opnuut

Die vooruitsig van in situ-uitloging vir uraan wat waarskynlik tot hoë konsentrasies uraan en ander swaarmetale in drinkwater sal lei, bly ’n “groot probleem” vir inwoners van die Kalahari.
Yandi Du Plessis
Frank Steffen op Stampriet – Headline Investments se plan om uraan in die Kalahari te ontgin, waarvoor ’n mynproses bekend as in situ-uitloging voorgestel word, bly ’n doring in die vlees van die kommunale gebiede en boerderygemeenskappe van Stampriet, Leonardville en Aranos.

Diegene wat gister ’n vergadering bygewoon het wat deur die Namibië Landbou-unie (NLU) en die Stampriet-boerevereniging gekoördineer is, het ernstige kommer uitgespreek oor die feit dat die mynbouprojek reeds toegelaat is om te ver te vorder, ongeag die geoloog dr. Roy Miller se waarskuwings oor die besoedeling van die oorgrensakwiferstelsel hier, bekend as die Stampriet- artesiese kom.

Miller het opnuut verduidelik hoe ernstig die impak van hierdie logingsproses op die kwaliteit en bruikbaarheid van water kan wees. 'n Verslag wat verlede jaar met boere op Leonardville gedeel is, is intussen aansienlik uitgebrei.
Miller, 'n internasionaal erkende geoloog, het ‘n duister prentjie geskets ingeval Headline Investments, 'n plaaslike vennootskap met die Kazakstanse tak van die Russiese kernkragkorporasie Rosatom, toegelaat sou word om 'n uraanaanleg in hierdie gebied op te rig.

“Ons praat nie van Kazakstan, waar hierdie aanlegte opgerig is in ‘n gebied wat geen ander nut het vir sy water met ’n hoë soutinhoud nie," het Miller verduidelik. "Was dit nie vir die feit dat hierdie mense so ‘n produksie-aanleg wil oprig in ‘n gebied wat een van ons hoof-landbouproduksiegebiede is en ‘n gemeenskap huisves wat nié aan die uiters hoë risiko van kernbesoedeling onderwerp moet word nie, sou ek nie gekla het nie.”

Miller het breedvoerig verduidelik hoe die verskillende akwifers van die Kalahari-kom oor miljoene jare ontwikkel het en hoe die uraanafsetsels in hierdie “hoogs poreuse sandsteen” gevorm het.
Die sandsteenformasie is poreus en verbind verskeie watertafels, wat saamsmelt in 'n omvangryke, ondergrondse waternetwerk. Die netwerk strek van die Namibiese Suid-Kalahari na Botswana in die ooste. Dit volg rofweg die ou waterweë wat nou op die oppervlak deur die Auob- en Nossobriviere gedefinieer is.

“Byna 91% van die akwifers lê suid van die huidig bekende uraanvonds," het Miller verduidelik. "Japan het ‘n studie uitgevoer wat ‘n geweldige sterk vloei van hierdie waterstroom toon. Hulle het drie jaar lank 45 000 liter water per uur gepomp sonder dat die watertafel ooit minder as 2,8 meter diep gedaal het. Dit word as oppervlakwater beskou en is nie deel van die water wat deur die akwifers gedra word nie.
“Dit bewys egter dat hierdie mense ‘n groot aantal boorgate sal moet boor om die oplossing te onttrek wat die uraan sal bevat."

In situ-uitloging behels die boor van ’n sentrale boorgat, wat met verloop van tyd miljoene liters water – gekombineer met giftige sure – teen uiters hoë druk in die grond pomp om uraanafsetsels op te los en dan die uraandraende oplossing via omliggende boorgate te onttrek. Die oplossing moet teen ‘n vinniger tempo onttrek word as die spoed waarmee die chemiese oplossing (hoofsaaklik swaelsuur) in die grond ingepomp word.

“In die geval van ‘n sterk stroom ... is dit hoogs waarskynlik dat van die kernbesoedelde water in die akwifers kan beland wat suid vloei en sodoende die hele gebied – insluitend ons buurland – aan ‘n risiko kan onderwerp wat doodeenvoudig geen sin maak nie,” het Miller aangevoer.

Hy het dié kwessie reeds onder die aandag van die minister van landbou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein, gebring. Die minister het bestaande boorlisensies onttrek en 'n komitee saamgestel wat die projek moet ondersoek.

Boere was verstom dat 'n omgewingsimpakstudie (EIA) vir die projek in die eerste plek goedgekeur is, aangesien geen openbare konsultasies plaasgevind het nie. Hulle het ’n beroep op die NLU gedoen om hulle en die publiek via hul webblad in te lig oor grondeienaars se regte wanneer mynmaatskappye bloot hul grond betree en met eksplorasiewerk voortsit.

Boere was dit hoofsaaklik eens dat hulle dringend moet optree – nie net om hulself te red nie, maar alle gemeenskappe in die Kalahari.

“Ons het ‘n behoorlike plan en strategie nodig wat presies uitwys wie negatief deur hierdie oënskynlike bedreiging geraak sal word. Ons benodig getalle in terme van mense en gemeenskappe, nedersettings en dorpe asook lodges, gasteplase en jagplase.

"Ons het almal mense in diens en het baie om te verloor. Anders as Headline is ons beslis deel van ’n volhoubare oplossing en dít moet oorweeg word,” het mnr. Danie Kotze van Aranos voorgestel.

Kotze het verduidelik die boerevereniging gesels opnuut met NamWater om ‘n waterbeheerraad te vestig, wat geraadpleeg moet word voordat sulke projekte toegelaat word.

“Dis ‘n ondergrondse proses, so daar is geen manier om vir seker te weet wat sal gebeur en watter vorm en omvang besoedeling kan aanneem nie,” het Miller gesê.

[email protected]

FOTO’s Frank Steffen
Diegene wat gister ’n vergadering bygewoon het wat tussen die Namibië Landbou-unie (NLU) en die Stampriet Boerevereniging gekoördineer is, het ernstige kommer uitgespreek oor die uraaneksplorasiewerk se impak op die Stampriet- artesiese kom.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!