‘Staak ontwikkeling van Ziveli’
Hoewel die ontwikkelaars van ''n nuwe leefstylontwikkeling by Windhoek meen hulle benodig nie ’n omgewingsklaringsertifikaat nie, sê die ministerie van die omgewing en toerisme die omgewingswet word oortree.
Elvira Hattingh - Ná maande van kommer oor die omgewingsimpak van ''n nuwe leefstylontwikkeling suid van Windhoek op dié bewaringsgebied vir ondergrondse water, het die ministerie van die omgewing en toerisme nou ingegryp.
Die omgewingskommissaris, mnr. Teofilus Nghitila, het op 2 November ’n kennisgewing aan die ontwikkelaars van die Ziveli Lifestyle Village uitgereik om ontwikkelingsaktiwiteite te staak tot tyd en wyl hulle ’n omgewingsklaringsertifikaat verkry.
In die kennisgewing sê die kommissaris daar is met groot kommer waargeneem dat die bedrywighede nie aan die omgewingswet voldoen nie en dat alle konstruksiebedrywighede opgeskort moet word totdat die nodige dokumentasie verkry is.
Dié beplande woonbuurt sal suid van Windhoek op Aris no.29, ’n kleinhoewe van 27 hektaar, geleë wees.
Volgens die kennisgewing sal die versuiming om aan die nodige vereistes te voldoen, daartoe lei dat ’n nakomingsbevel aan die maatskappy uitgereik word.
Intussen het mnr. Dirk Oosthuizen, uitvoerende hoof van Square Foot Developments wat vir dié ontwikkeling verantwoordelik is, gesê hulle sal binnekort toepaslik hierop reageer. Hy het gesê hulle beskou dit net as ’n tydelike oponthoud en sal die nodige menings inwin voor hulle reageer.
Hy het voorheen aan Republikein gesê die regte prosedures is gevolg om die woonbuurt te bou, wat ’n omgewingsimpakstudie oor die kwesbaarheid van ondergrondse waterbronne ingesluit het.
“Daar is geen manier wat ons dit anders sou doen en onverskillig met ’n belegging van bykans N$600 miljoen te werk sal gaan nie,” het hy gister aan Republikein gesê.
Hy het ook voorheen gesê dit is nie nodig dat ’n omgewingsklaringsertifikaat vir die ontwikkeling gekry hoef te word nie.
“Alle goedkeuring is verkry voor die nuwe omgewingswet van krag geword het, wat beteken ons hoef nie ’n omgewingsklaringsertifikaat te hê nie. Nogtans het ons ’n omgewingsagentskap aangestel om vir dié sertifikaat aansoek te doen,” het hy gesê.
Square Foot Developments het vroeër gesê sowat 208 eenhede of erwe sal volgens beplanning ontwikkel word en dat Ziveli water van die nabygeleë Luiperdsvallei-reservoir ontvang. Vanaf Maart volgende jaar sal aanvanklik 50 m³ water per dag beskikbaar gestel word, terwyl groter hoeveelhede water vanaf Maart 2019 deur die munisipaliteit verskaf sal word.
Hulle het ook gesê alle planne vir munisipale dienslewering, bouplanne asook konstruksieplanne is reeds by die munisipaliteit ingedien en daar word net op goedkeuring gewag
Inwoners in dié omgewing is egter bekommerd omdat die ontwikkeling glo binne ’n bewaringsgebied vir ondergrondse water gebou sal word en dat dit die bou van ’n rioolaanleg insluit.
Nog ’n kwessie is die plek waar die rioolaanleg geleë sal wees asook dat "honderde mense" glo hier gehuisves sal word wat ook meer verkeer op die die B1-roete tussen Rehoboth en Windhoek sal veroorsaak.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie