Staat en sy masjinerie demp groei, werkskepping

Die Chevauchee-stigting is besig met 'n ekonomiese ­vryheidsoudit in Namibië om die invloed van beleid op groei te bepaal.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Hoe meer die staat se verbruiksbesteding aan maatskaplike welsyn-toelaes en die salarisse van staatsdienswerkers beloop, hoe laer is ekonomiese groei en hoe hoër die werkloosheidsyfer.

Die ideaal is dat die staat nie meer as 10% van die Bruto Binnelandse Produk (BBP) hieraan bestee nie en dat staatsbesteding in die algemeen nie meer as 20% van die land se nasionale inkomste beloop nie.

Só sê adv. Frans Rautenbach, bekende Suid-Afrikaanse arbeidsregkenner, skrywer en kampvegter vir 'n vrye mark en die desentralisering van gesag.

Rautenbach, wie se boek South Africa Can Work verlede jaar verskyn het, het onlangs as gas van die ­Chevauchee-stigting 'n lesing in Windhoek oor die reg, vakbonde en hul rol in ekonomiese ontwikkeling aangebied.

Hy is bekend daarvoor dat hy kaalkop met heilige koeie soos regstellende aksie, gebrekkige onderwys, vakbonde en magshebbers se ­manipulering van openbare beleid en ekonomiese beginsels omgaan.

Sy lesing was een van 'n reeks lesings wat as deel van 'n ­ekonomiese ­vryheidsoudit deur die Chevauchee-stigting en die Fraser-instituut gereël word.

Volgens mnr. Nathan Tjirimuje, 'n Namibiese entrepreneur en die dryfveer agter hierdie stigting, is die doel van die oudit om die soeklig op ekonomiese beleide te skyn en die impak daarvan op ekonomiese groei te bepaal.

“Ná elke lesing, waarheen ons rege­ringslui, die sakesektor, navorsers, die publiek en openbare meningvormers uitnooi, stel ons 'n verslag saam en maak aanbevelings ten opsigte van beleidshervorming,” sê Tjirimuje.



ARBEIDSREGULERING

Rautenbach het verder aangevoer hoe hoër die vlak van arbeidsregulering in die ekonomie is, hoe hoër is die werkloosheidsyfer.

“Daar is oorweldigende getuienis dat verpligte arbeidswetgewing en 'n hoë digtheid van vakbonde in die ekonomie werkskepping dramaties beperk,” sê hy.

“Arbeidsvoorskrifte verhoog die koste van arbeid, wat weer die vraag daarna verlaag.”

Rautenbach voer aan terwyl artikel 6 van die Arbeidswet van 2007 oënskynlik die reg van assosiasie in die werkplek beskerm, dit in wese die teenoorgestelde vermag.

“Vryheid van assosiasie beteken elke mens is vry om hom of haar te ­assosieer met wie hy of sy wil. Maar sonder die vryheid om nié te assosieer nie, is hierdie 'vryheid' nie 'n vryheid nie, maar 'n beperking,” voer hy aan.

Rautenbach stel dus voor dat die artikel gewysig word sodat 'n ­werkgewer en 'n werknemer in hul werkskontrak sekere bepalings van die wet kan weglaat. Hy meen dit sal arbeidskoste verlaag en werkloosheid bekamp. Verder meen hy geografies afgebakende vryemarksones moet geskep word.

Hierdie sones moet van sekere ­arbeidsbepalings vrygestel word, lae belastingstrukture moet geld en dit moet goedkoop en maklik wees om ­sakeondernemings te vestig en sonder rompslomp sake te doen.

Laastens, sê Rautenbach, vertraag swak onderwys ekonomiese groei en bevorder dit werkloosheid.

“Afrika het baie uitstekende private onderwys-diensverskaffers, maar tog voorsien die meeste regerings uiters swak onderwys. Daar is absoluut geen rede waarom die staat die monopolie op onderwys moet hê waarvoor die belastingbetaler opdok nie.”

Hy meen die regering moet onder­wys uitkontrakteer na private diensverskaffers wat 'n beter gehalte ­onderrig as staatskole kan voorsien.

Kommentaar

Republikein 2025-04-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer