Staat gaan miljarde leen én waarborg vir SAL
Pres. Cyril Ramaphosa het besluit die lugdiens moet in sakeredding geplaas word.
Elvira Wood – Die staat gaan nie net ’n lening van R2 miljard aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) waarborg as deel van sy sakereddingsplan nie, hy gaan self óók R2 miljard aan die lugdiens gee.
Die kabinet het Woensdag aangekondig dat pres. Cyril Ramaphosa besluit het dat die lugdiens in sakeredding geplaas moet word.
Dié besluit volg kort nadat die vakbond Solidariteit op 21 November gesê het hy het die hooggeregshof in Johannesburg genader met ’n aansoek om die lugdiens in sakeredding te plaas.
Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, bevestig in ’n verklaring wat Donderdag in die vroeë oggendure uitgereik is, dat die staatswaarborg en verdere finansiering aan die lugdiens gegee gaan word.
Hy stel dit egter duidelik dat die staat dit nie as ’n reddingsboei sien nie.
“Dit moet duidelik wees dat dit nie ’n reddingsboei is nie.
“Dit is die voorsiening van finansiële bystand om ’n radikale herstrukturering van die lugdiens te vergemaklik,” sê hy.
Volgens hom gaan die SAL in sakeredding geplaas word juis om sy bates te beskerm en om die omgewing te skep waarin hy geherstruktureer kan word.
“Sakeredding is ’n deeglik omskrewe proses wat die SAL in staat sal stel om in ’n ordelike en veilige wyse in bedryf te bly en om vliegtuie en passasiers toe te laat om onder toesig van ’n sakereddingspraktisyn aan te hou vlieg,” sê hy in die verklaring.
Gordhan sê daar word verwag dat die sakereddingsproses die volgende sal behels:
1. Bestaande leners ’n lening sal toegestaan word van R2 miljard wat deur die staat gewaarborg sal word en terugbetaalbaar is uit toekomstige begrotingstoewysings. Dié lening sal dit moontlik maak om die sakereddingsproses van stapel te stuur en die lugdiens in bedryf te hou;
2. Die staat sal ’n verdere R2 miljard aan die lugdiens gee op ’n “fiskaal neutrale wyse”;
3. Daar gaan gekeer word dat die lugdiens net inmekaar tuimel wat passasiers, verskaffers en ander belanghebbendes in die steek gaan laat;
4. Die volledige verhaal van kapitaal en rente op bestaande skuld wat nie deur sakeredding beïnvloed sal word nie;
5. Sakeredding sal ’n geleentheid bied om die kostestruktuur van die lugdiens krities te beoordeel, terwyl daar terselfdertyd gepoog gaan word om soveel moontlik poste te behou. Hierdie realiteit is duidelik te sien in die onlangse loononderhandelingsproses tussen die vakbonde en die maatskappy; en
6. Hierdie benadering bied ook ’n gestruktureerde geleentheid om die staatslugvaartbates te herorganiseer op ’n manier waarop hulle beter geposisioneer is om volhoubaar en aantreklik vir ’n beleggingsvennoot te wees.
Gordhan sê die sakereddingsproses begin reeds Donderdag 5 Desember.
’n Sakereddingspraktisyn sal aangestel word om die bestuur van die lugdiens in oorleg met die bestaande bestuur oor te neem.
“Die praktisyn sal ook die nodige rasionalisering onderneem,” sê Gordhan.
Gordhan sê sy departement sal dringend met die sakereddingspraktisyn sowel as vakbonde en ander belanghebbendes vergader.
Kommentaar
Dr. Dirk Hermann, bedryfshoof van Solidariteit, het aan Netwerk24 bevestig dat vakbonde reeds in gesprek is met die departement oor die kwessie.
“Wat ons betref, is hierdie aansoek van die SAL om in sakeredding geplaas te word, glad nie vrywillig nie. Dit is afgedwing deur Solidariteit se aansoek,” sê hy.
Louis Klopper, sakeredder by Coronado Consulting, het kort nadat Solidariteit aangekondig het hy gaan aansoek doen om die lugdiens in sakeredding te plaas, vir Netwerk24 gesê dat sou daar wel op dié proses besluit word, dit groot implikasies inhou – nie net vir die lugdiens nie, maar ook vir ander staatsondernemings.
Hy sê sodra die sakeredder aangestel word, het dié persoon dan tien dae om te besluit of die maatskappy gered kan word of nie.
“Daardie besluit moet geneem word oor wat die beste uitkoms sal wees,” sê hy.
“As ’n sakeredder nou by die SAL moet instap met al die skuld van miljarde rand en gehuurde vliegtuie – wat beteken hy besit nie daardie bates nie – weet ek darem nie,” sê hy.
Sou daar besluit word om wel die SAL te probeer red, sal die sakeredders absolute beheer oor die SAL neem.
“Hulle sal kontrakte kan hersien en tersyde skuif. Hulle sal selfs direkteure kan afdank. Die wet laat hulle dit toe,” sê hy.
Klopper verduidelik dat ’n staatsonderneming luidens die maatskappyewet presies dieselfde hanteer word wanneer hy in sakeredding is as wat hy ’n private maatskappy sou wees.
Klopper hanteer tans die sakeredding van verskeie van die omstrede Gupta-familie se maatskappye.
Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing van Intellidex, stem saam met Klopper dat dinge nie goed lyk vir die lugdiens nie.
Hy sê Donderdagoggend in ’n verklaring dat likwidasie van die lugdiens steeds ’n moontlikheid is.
Hy dink die R4 miljard wat die lugdiens nou met behulp van die staat gaan kry, hom net tot einde Desember in die lug gaan hou. – Netwerk24

Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie