u2018Staat moet ingryp by hoendermolesu2019
u2018Staat moet ingryp by hoendermolesu2019

‘Staat moet ingryp by hoendermoles’

Twis oor tariewe op ingevoerde hoender in Suid-Afrika moet deur die regering getakel word, meen die vereniging van vleisinvoerders en –uitvoerders.
Elvira Wood - Dit is tyd dat die regering ingryp om die twis vir eens en vir altyd tussen produsente en invoerders van pluimveeprodukte op te los.

Dít is die versoek van die vereniging van vleisinvoerders en -uitvoerders (Amie).

Amie het Donderdag in ’n verklaring ’n beroep op Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, gedoen om in te tree en ’n besluit te neem wat betref tariewe op ingevoerde hoenderstukke.

Die groot geveg gaan daaroor dat die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) wil hê die regering moet ’n invoertarief van 82% plaas op ingevoerde hoenderborsies, asook op hoenderagterkwarte.

Die tariewe is onderskeidelik 12% en 37%.

Amie staan dié aansoek by die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) teen.

Amie is nie die enigste organisasie wat die aansoek teenstaan nie.

EBieSA, ’n organisasie wat 105 swart invoerders in die bedryf verteenwoordig, sê invoertariewe gee onregverdige beskerming aan die groot pluimveeprodusente ten koste van mededingers wat invoer. Dit jaag die prys op wat verbruikers vir hoender betaal en dit kan voedselsekerheid in die gedrang bring.

Die organisasie FairPlay, wat hom vir ’n billike handelsomgewing beywer, steun weer Sapa en sê die hoër tariewe is nodig om die plaaslike bedryf te help red.

Hoendervleis is die vleis wat die meeste deur Suid-Afrikaners geëet word.

FairPlay erken wel dat die verbruiker meer sal moet opdok as die tariefaansoek goedgekeur word.

“Sapa het die potensiële invloed op die kleinhandelprys ondersoek indien die tariefaansoek goedgekeur word,” het hy voorheen aan Netwerk24 in ’n e-pos gesê.

“Dit toon moontlike prysstygings wat wissel van 2% tot 12,3% vir verskillende snitte.”

FairPlay meen dié styging is egter “’n klein prys om te betaal vir die behoud en groei van die grootste komponent van ons landbousektor, en beleggings en uitbreidings wat duisende werkgeleenthede in armoedige landelike gebiede sal skep”.

Amie sê gesien die stand van die Suid-Afrikaanse ekonomie, is dit duidelik dat verbruikers dit bloot nie gaan kan bekostig om meer vir hoender te betaal nie.

“Verkope van hoender in Suid-Afrika het gedaal omdat die ekonomie ingekrimp het. Die onlangse aankondiging dat die bruto binnelandse produk met 3,5% gedaal het, bevestig dit.

“Die brandstofprys styg ook en verbruikers wat onder druk verkeer, se huishoudelike begrotings is onder druk,” sê Paul Matthew, uitvoerende hoof van Amie, in die verklaring.

“Die oplegging van addisionele tariewe op hoender sal by hierdie las voeg, en dit nie verlig nie. Die uitdagings wat die pluimveebedryf in die waardeketting ondervind, kan nie deur tariewe opgelos word nie.

“’n Omvattende en langtermynverbintenis deur alle belanghebbendes moet daargestel word.

“Ons doen ’n beroep op die regering om vinnig en in die belang van alle Suid-Afrikaners op te tree deur toepaslike stappe te doen om te keer dat ’n monopolie in ons belangrike pluimveebedryf geskep word,” sê hy. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!