Staat ry skuldgolf
Staat ry skuldgolf

Staat ry skuldgolf

Die regering gaan swaar op die plaaslike mark steun om sy begrotingstekort te finansier en meer as N$8 miljard se buitelandse skuld te delg.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy



Die regering gaan in 2021-'22 meer as N$28 miljard moet leen en sowat N$1,5 miljard uit die notering van MTC gebruik om van sy skuld terug te betaal en 'n beraamde begrotingstekort van bykans N$15,9 miljard te finansier.

Namibië se totale skuldlas in die nuwe boekjaar gaan N$130 miljard oorskry, toon finansminister Iipumbu Shiimi se begroting wat gistermiddag in die parlement ter tafel gelê is.

Vergeleke met 2020-'21 gaan die regering se totale skuld tydens die volgende drie begrotingsjare met amper N$50 miljard tot sowat N$159,3 miljard of 77% van die bruto binnelandse produk (BBP) styg. Rente op dié skuld gaan terselfdertyd met ­ongeveer N$2 miljard tot bykans N$9,8 miljard toeneem.

Hy dien sy begroting midde vooruitsigte van “matige” ekonomiese herstel vanjaar en oor die medium termyn in, het Shiimi gesê. Dít na die pyn en swaarkry van die afgelope jare se resessiedruk en die Covid-pandemie wat die ekonomie erg ontwrig het, het hy bygevoeg.

Shiimi se totale begroting vir 2021-'22 beloop sowat N$67,95 miljard en is bykans N$4,2 miljard kleiner as die vorige een. Hiervan is bykans N$62,4 miljard vir bedryfsuitgawes en N$5,3 miljard vir die ontwikkelingsbegroting. Vergeleke met 2020-'21 is dit bykans 5% en 15% onderskeidelik minder.

Shiimi verwag inkomste van sowat N$52,1 miljard in 2021-'22 – bykans N$3,4 miljard minder as in 2020-'21.



UITGAWES

Sowat N$484 miljoen gaan in 2021-'22 aan die verkryging en verspreiding van die Covid-19-entstof bestee word.

Die totale vergoedingspakket van staatsdiensamptenare beloop bykans N$28,5 miljard, sowat 0,8% minder as in 2020-'21.

Voorsiening is gemaak vir N$706 miljoen in regeringswaarborge, maar geen besonderhede word verskaf nie.

Ander uitgawes waarna spesifiek in die begroting verwys word, is N$211 miljoen vir die gelikwideerde Air Namibia; N$127,5 miljoen vir die NBC; N$71 miljoen vir Namibia Wildlife Resorts (NWR) en N$44 miljoen vir die Paaiekontrakteursmaatskappy (RCC).

Vir die landboubemarkings- en handelsagentskap (Amta) is N$59 miljoen begroot en vir die landbousake-ontwikkelingsagentskap (AgriBusDev) N$62 miljoen. Die Namibiese finansiële hulpfonds vir studente (NSFAF) gaan N$1,2 miljard ontvang.

Voorts is N$107 miljoen vir die Namibiese Instituut vir Patologie (NIP) opsy gesit.

Die ministerie van verdediging se begroting vir 2021-'22 is met sowat N$795 miljoen tot ongeveer N$5,4 miljard gesny. Die totale vergoedingspakket van dié ministerie se werknemers is 18% kleiner as in 2020-'21.



SKULD

Vir die skuld wat in 2021-'22 aangegaan moet word, gaan die regering vir bykans N$5,7 miljard van spesiale Covid-19-kredietfasiliteite by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Afrika-ontwikkelingsbank (AfDB) gebruik maak.

Bykans N$8 miljard se Eurobond- en GC21-skuld gaan gedelg word – die Eurobond deur finansiering in die Namibiese mark en laasgenoemde gaan in langtermyn-skuldinstrumente omgeskakel word.

Deur die Eurobond met plaaslike skuld af te betaal, wil die regering sy blootstelling aan ongunstige wisselkoersskommelinge verminder.

Die regering se plaaslike skuld gaan van sowat N$75,8 miljard in 2021-'22 tot bykans N$97 miljard styg. Buitelandse skuld, daarenteen, gaan van sowat N$33,6 miljard tot bykans N$33,1 miljard verminder.

MTC se notering op die Namibiese aandelebeurs (NSX) word teen Oktober vanjaar beoog. Dié maatskappy is tussen N$6 miljard en N$7,2 miljard werd, luidens Shiimi se fiskale strategie vir 2021-'21. Die regering se belang van 49% in MTC behoort dus met die notering vir sowat N$3 miljard in die staatskas te sorg.

Die helfte hiervan gaan vir die finansieringstekort gebruik word, terwyl die res vir “produktiewe” projekte met lang termyn ekonomiese voordele bestem is, luidens die strategiedokument.

Volgens Shiimi is daar geen plaasvervanger vir fiskale volhoubaarheid nie. Die begrotingsbeleid van die uitgawe­raamwerk vir die medium termyn (MTEF) van 2021-'22 tot 2023-'24 is konsolidering wat gunstig vir ekonomiese groei is, het hy gesê.

Shiimi het sy begrotingstoespraak afgesluit deur Nelson Mandela aan te haal: “Dit lyk altyd onmoontlik tot dit gedoen is.” - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!