Staat sal Eskom staande hou, reken Moodyu2019s
Staat sal Eskom staande hou, reken Moodyu2019s

Staat sal Eskom staande hou, reken Moody’s

Die kredietgradeerder is onder meer bekommerd oor Eskom se finansiële profiel en swak kontantvloei.
Hanlie Stadler – As dit nie was vir die regering se waarborge nie, sou Eskom se kredietgradering nóg drie vlakke laer – op uiters spekulatief – gewees het.

Danksy die sekerheid dat die staat die nutsmaatskappy sal moet ondersteun omdat Eskom van deurslaggewende belang vir die ekonomie is, is Eskom B2 op Moody’s Investors Service se graderingskaal. Dis weliswaar hoogs spekulatief en vyf vlakke onder beleggingsgraad.

Dié vlak bly toepaslik gegewe Eskom se enorme risiko’s, sê Moody’s Investors Service in ’n nuusverklaring wat die agentskap oornag uitgereik het.

Dit kom nadat Moody’s ’n gereelde hersiening gedoen het om te bepaal of Eskom se gradering steeds toepaslik is in die lig van onlangse ontwikkelinge, en ook in pas met die finansiële en bedryfsprestasie van soortgelyke maatskappye elders.

Volgens Helen Francis, senior kredietamptenaar van Moody’s, verteenwoordig die verklaring nie ’n kredietgradering nie en is dit ook nie ’n aanduiding dat ’n gradering in die nabye toekoms beoog word nie. Moody’s het vanjaar begin om ’n nuusverklaring uit te reik ná elke gereelde hersiening om aan te dui dat dit voltooi is.

Francis sê Moody’s is oor die volgende vyf aspekte bekommerd:

· Eskom se finansiële profiel en kontantvloei is baie swak.

· Die “regulerende raamwerk” skep uitdagings “relatief tot bedryfs- en kapitaaluitgawes”. In kort wys Moody’s daarop dat die proses waardeur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) Eskom se tariefverhogings bepaal, beteken hy kan nie tariewe sodanig verhoog om sy geldprobleme op te los nie.

· Kragstasies vaar op die oomblik swak, wat die afgelope ruk se beurtkrag veroorsaak het.

· Daar is baie risiko’s met die uitvoer van Eskom se groot beleggingsprogram.

· Eskom het ’n groot skuldlas.

Die risiko’s word verminder deur die volgende faktore:

· Die onlangse verhoging van kragtariewe met onderskeidelik 9,41%, 8,1% en 5,2% vir die volgende drie jaar.

· Die R23 miljard wat die regering oor die volgende drie jaar aan Eskom gaan gee, wat dalk tot tien jaar verleng gaan word onderhewig aan sekere voorwaardes.

Kostebesnoeiing wat by Eskom ingestel word. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer