Staat sluit sy saak in Maree se borgaansoek
Staat sluit sy saak in Maree se borgaansoek

Staat sluit sy saak in Maree se borgaansoek

Die regspartye het tot 1 Oktober tyd om hul geskrewe betoë vir mnr. Johan Maree se formele aansoek om borgtog in te dien en die uitspraak sal daarna gelewer word.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Die vier dae lange hofverrigtinge rakende die vermeende pedofiel wat tereg staan op 40 klagte van onder meer verkragting en die vervaardiging en verspreiding van pornografie, se formele aansoek om borgtog is gister afgehandel.

Die regspartye is versoek om op 1 Oktober geskrewe betoë te lewer en die uitspraak sal hierna volg.

Mnr. Johann Maree word daarvan beskuldig dat hy sowat 34 jong seuns in Windhoek vir pornografie verkrag en misbruik het.

Gister se hofverrigtinge het hervat waar dit op 9 September verdaag het, met die kruisverhoor van insp. Christina Simaho wat vir die staat getuig het.

Die staatsaanklaer, mnr. Phelem Like, het 'n berig van Republikein, wat geskryf is net toe die saak aan die lig gekom het, as bewysstuk ingedien om die openbare belang te demonstreer.

Hy het ook gepoog om 'n petisie teen Maree se vrylating op borgtog, wat deur sowat 1 700 mense wêreldwyd onderteken is, as 'n bewysstuk in te dien, maar die hof het dit nie aanvaar nie omdat dit 'n elektroniese petisie is, sonder handtekeninge of kontakbesonderhede en sonder dat dit deur iemand met outoriteit geverifieer is.



SIMAHO SE KRUISONDERVRAGING

Simaho het borgtog op grond van agt besware teengestaan. Haar besware sluit in die erns van die oortreding, die feit dat die staat 'n sterk saak teen die beskuldigde het, en die risiko dat die beskuldigde sal vlug of by die ondersoek en getuies sal inmeng.

Maree se verteenwoordiger, me. Eva Nangolo, het tydens gister se kruisverhoor gesê Simaho is eers in Mei vanjaar as die hoof van die polisie se eenheid vir die beskerming van vroue en kinders aangestel. Sy is eers as hoofondersoekbeampte aangestel nadat die ondersoek reeds voltooi is.

“Jy het nooit hierdie saak ondersoek nie,” het Nangolo gesê.

Nangolo het verder beweer dat Maree, indien hy borgtog toegestaan word, op 'n plaas 10 km buite Groot Aub gaan woon en daarom nie by getuies kan inmeng nie.

Sy het ook uitgewys Simaho is in kontak met die kinders se ouers en sal daarom onmiddellik in kennis gestel word indien Maree met een van die kinders kontak maak.

Simaho het gesê: “Hy weet waar die kinders bly, waar hulle skoolgaan en aan watter sport hulle deelneem.

“Hy sal hulle vind en hulle manipuleer om nie vir hul ouers te sê dat hy interaksie met hulle gehad het nie.”

Nangolo het ernstig beswaar gemaak teen Simaho se stelling dat Maree 'n manipuleerder is.

“Jy ken hom nie persoonlik nie, maar jy maak afleidings dat hy 'n manipuleerder is,” het Nangolo gesê.

'OPGEMAAKDE VERKLARINGS'

Nangolo het weer eens, nes die geval met komm. Nelius Becker se kruisondervraging, beweer die slagoffers het nie die polisie genader om verklarings af te lê nie, maar dat hulle na die kinders gegaan het.

Sy beweer die verklarings is opgemaak, of dat die polisie die kinders gelei het om verklarings af te lê wat nie die waarheid is nie.

Hierop het Simaho geantwoord dat daar spesifieke maatreëls is wat gevolg moet word wanneer verklarings van minderjariges geneem word.

“Die polisie het baie reëls en riglyne wat hulle daagliks ontwyk,” het Nangolo gesê.

Tydens herondervraging deur die staat het Simaho gesê die aflê van alle verklarings is volgens die reëls gedoen.

Meer as tien verklarings is glo afgelê waarby Simaho, volgens Nangolo, slegs by een teenwoordig was.

Maree het op 24 Augustus die getuienisbank ingeneem en hy is deur die staat kruisondervra. Nangolo het geen ander getuies geroep nie.

Die staat het tydens die formele aansoek om borgtog twee getuies geroep – Simaho en Becker – en het gister hul saak afgesluit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!