Staatsalarisse vreet kapitaal
Swak begrotingsbeplanning en die impak van die derde Covid-19-golf beteken die regering moet sowat N$2 miljard méér bestee as waarvoor voorsien is.
Jo-Maré Duddy – Nóg bykans N$1,2 miljard wat nodig is om staatsamptenare in 2021-'22 te betaal, beteken bykans N$280 miljoen minder gaan in die huidige begrotingsjaar in ontwikkelingsprojekte belê word.
Die minister van finansies, mnr. Iipumbu Shiimi, het gister tydens die indiening van die hersiende begroting gesê in totaal moes N$2,2 miljard vir bedryfsuitgawes tussen begrotingsposte rondgeskuif word om die regering se boeke vir 2021'-22 te laat klop.
Die meeste hiervan is weens onderbegroting vir personeeluitgawes en die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste wat meer geld tydens die derde Covid-19-golf moes bestee, het Shiimi gesê. Hersiende begrotingsdokumente toon die regering se salarisrol styg van die bykans N$28,5 miljard in die hoofbegroting tot 'n geskatte N$29,6 miljard tans.
Buiten vir die herverdeling van geld tussen poste, is projekte ter waarde van N$279,8 miljoen in die ontwikkelingsbegroting van Maart vanjaar “opgeskort”. “Bedryfsbesparings” van N$41,4 miljoen het ook gehelp om die kontantgat toe te stop.
STAATSKAS
Die fiskus verwag nou N$1,5 miljard méér inkomste as waarvoor in die hoofbegroting voorsiening gemaak is. Dié meevallers is danksy N$408,6 miljoen uit viskwotaveilings, Namibia Post and Telecommunications Holdings (NPTH) wat N$400 miljoen se bykomende dividende verklaar het en sowat N$304 miljoen meer uit tantième.
Individuele belastingbetalers gaan ook beter as verwag opdok en vir nóg N$693,8 miljoen se inkomstebelasting in die staatskas sorg.
“Die ideaal sou wees om dié bykomende inkomste te gebruik om die begrotingstekort te verminder. Ons staar egter geprojekteerde tekorte op personeel- en ander verpligte uitgawes in die gesig,” het Shiimi gesê.
Versuim om dié verpligtinge na te kom, sal tot oorbesteding en onbetaalde fakture lei, aldus hom.
MEER GELD
Beide die onderwys- en gesondheidministeries kry N$400 miljoen meer: Eersgenoemde om onderwysers te betaal en gesondheid om hul Covid-reaksieplan 'n hupstoot te gee.
Die regering se mediese fonds (Psemas) kort nóg N$230 miljoen, waarvan N$200 miljoen vir die styging in eise tydens die derde golf van Covid bestem is.
Die volgende ministeries kry meer om salarisse te kan betaal: Werke en vervoer (N$5 miljoen), verdediging (N$458 miljoen), nywerheidsontwikkeling (N$43,2 mijjoen), asook arbeid (N$1,3 miljoen). Van dié ministeries het ook bykomende geld vir ander uitgawes ontvang.
Goeie nuus is die toekenning van nóg N$15,3 miljoen aan die ministerie van geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike dienste vir die uitrol van maatskaplike toelaes. Shiimi het nie hierop uitgebrei nie. Die begroting vir die bekamping van stropery is met N$4 miljoen verhoog. Nóg N$220,4 miljoen is aan die ministerie van staatsondernemings (SOE's) toegeken om onder meer die skuld van AgriBusDev te betaal, lokomotiewe vir TransNamib te huur en bedryfsuitgawes van Namibia Wildlife Resorts (NWR) te dek.
Die Namibiese uitsaaier (NBC) het N$141,7 miljoen meer gekry om op die lug te bly.
Bykomend is N$166 miljoen vir die werksaamhede van die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) beskikbaar.
Besteding op veteranesake het met N$19,1 miljoen toegeneem.
Die ministerie van binnelandse sake, immigrasie en veiligheid en sekuriteit is N$27 miljoen ryker om hul vloot in stand te hou en die Instituut vir Forensiese Wetenskappe te bedryf. Justisie het nóg N$5 miljoen vir getuiefooie ontvang. Landbou, water en grondhervorming se begroting is met N$7,6 miljoen verhoog vir onder meer die leningskema van Agribank.
SYFERS
Shiimi verwag nou totale inkomste van sowat N$53,6 miljard in 2021-'22 vergeleke met die bykans N$52,2 miljard in die hoofbegroting. Totale beraamde besteding styg van N$67,95 miljard tot amper N$69,7 miljard. Die verwagte begrotingstekort is nou bykans N$16,1 miljard teenoor N$15,9 miljard in die hoofbegroting.
Totale skuld het effens gekrimp – van N$127,67 miljard tot N$127,68 miljard. Verwagte rente op skuld is N$8,3 miljard vergeleke met N$8,5 miljard in Maart.
Namibië se skuld van US$500 miljoen vir sy eerste Eurobond is gister gedelg, het Shiimi gesê. Hy het in Maart gesê die Eurobond sal deur finansiering in die Namibiese mark afgelos word.
Namibië se ekonomie sal vanjaar na verwagting met 1,9% groei, minder as die 2,1% wat in die hoofbegroting geprojekteer is, het Shiimi gesê. Die land het verlede jaar met -8,5% gegroei, die ergste inkrimping ooit.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie