Staats se salarisse veilig
Die eerste minister het uitgebrei op die regering se pogings om die ekonomie te red.
Augetto Graig
Regeringsamptenare en toppolitici wat deur die staat betaal word, se inkomste is veilig van die impak van die Covid-19-uitbreking in Namibië. Vir lede van die staatsdiens is selfs bonusse steeds gewaarborg.
Hierteenoor is duisende belastingbetalers se inkomste onder druk, namate meer maatskappye deur afdankings, kleiner salarisse en minder voordele besnoei om die ekonomiese gevolge van die coronavirus te probeer oorleef.
Eerste minister Saara Kuugongelwa Amadhila het nie direk op die koerant se vraag oor die moraliteit van die situasie geantwoord nie.
Die vakbondleier mnr. Job Muniaro (NUNW) sê egter meer word nou van die regering verwag en om amptenare se besoldiging te sny, sou ’n fout wees.
“Ek verwag diens en sou eerder sê werk 24 uur ’n dag, as om salarisverlagings aan te moedig,” sê hy.
Die kabinetsekretaris , mnr. George Simataa, herstel tans van Covid-19 en kon nie antwoord nie, terwyl die Vakbondkongres van Namibië (Tucna) se leier, mnr. Mahongora Kavihuha, sê mense moet die kwessie in konteks sien.
Kuugongelwa-Amadhila sê wel die regering het stappe geneem om die lewensbestaan van Namibiërs te beskerm deur maatskaplike en ekonomiese steun aan individue en families te voorsien wat deur Covid-19 benadeel is. Besighede is ook steun gegee om afleggings te help vermy, sê sy. Dit ten spyte daarvan dat die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) teen begin Augustus nog geen betalings aan maatskappye in sekere sektore gedoen het nie.
Kuugongelwa sê ook staatsamptenare het finansieel en ander bydrae aan individue geskenk en van hul voorregte, veral in terme van vervoer, afgestaan om geld te bespaar vir die stryd teen Covid-19. Sy sê salarisverhoging sal nie vanjaar vir politici en staatsdiensamptenare van toepassing wees nie.
“Die beskerming van werksposisies vir staatsdiensamptenare, van wie vele die enigste broodwinners van hul families is asook in hul omliggende gemeenskappe is, is nog ’n stap wat die regering geneem het. Verder is maatskaplilke welsynsprogramme voortgesit en ’n sterk mediese reaksie teen die uitbreking is volgehou,” sê sy.
Oor die impak van Covid-19 op die ekonomie herhaal Kuugongelwa-Amadhila syfers vrygestel deur die finansiesministerie en die sentrale bank – dat ’n inkrimping van 7,8% in die plaaslike ekonomie verwag kan word. In 2019 het Namibië se ekonomie reeds met 1,1% verklein. Die eerste minister sê dié effek is soortgelyk aan nagevolge wat wêreldwyd ervaar word.
Pogings tot die redding van die Namibiese ekonomie wat steeds finaliseer word sluit in toepassing van die nasionale werk en salaris beskermingskema vir Covid-19, wat minister van finansies mnr. Ipumbu Shiimi op 10 April aangekondig het. Hiervoor is N$645 miljoen begroot, waarvan die regering vir N$400 miljoen pa staan, en die SSC N$245 miljoen na bydra.
Uitstaande fakture is ook spoediger deur die regering uitbetaal, ter waarde van N$1,2 miljard, en van die BTW-terugbetalings (sowat N$3 miljard was uitstaande op 31 Maart 2020) is N$1,8 miljard reeds versprei.
Kuugongelwa-Amadhila sê die regeringsproses vir uitbetaling word hertoegerus om toekomstige agterstand te vermy.
Verder word lenings aan klein besighede met N$500 miljoen deur die regering gewaarborg, en sedert 1 Junie bied Agribank ’n landbousakelening en oorbruggingsfinansiering waarvoor N$350 miljoen begroot is.
Verligting word ook gebied aan polishouers by finansiële instansies anders as banke. Nie-mynbou-ondernemings kan een jaar se belasting terugleen tot op N$470 miljoen, en individue kan hiervoor aansoek doen tot op N$1,1 miljard, sê sy.
N$80 miljoen is opsy gesit vir die ministerie van landbou, water en grondhervorming om watertoevoer aan alle gemeenskappe te verseker, terwyl heffings op keroseen verwyder is, omdat dit as noodsaaklike verbruikersgoedere beskou word. Boonop is N$600 miljoen beskikbaar gestel vir die ministerie van basiese onderwys, kuns en kultuur om water en ablusiegeriewe by 193 skole landswyd te verbeter, sê sy.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie