Staatsgreepsaak van Ekwatoriaal-Guinee begin
Staatsgreepsaak van Ekwatoriaal-Guinee begin

Staatsgreepsaak van Ekwatoriaal-Guinee begin

Die mislukte staatsgreep­poging van 2004 in dié olieryke Afrikaland­ is nou in die kollig in Frankryk.
Die mislukte staatsgreeppoging in Ekwatoriaal-Guinee (EG) waarby verskeie buitelanders en sowat 80 Suid-Afrikaners in 2004 betrokke was, gaan nou tydens 'n geskiedkundige verhoor in Parys, Frankryk, wéér ter sprake kom.

Die verhoor van visepres. Teodoro Nguema Obiang Mangue (beter bekend as Teodorin) van EG en seun van pres. Obiang Nguema, het verlede week begin.

Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat 'n visepresident van 'n land in 'n ander land vervolg word weens bates wat hy in die gasheerland glo met staatsgeld aangeskaf het.

Teodorin besit verskeie sport­motors in Parys, 'n seiljag wat teen N$10 miljoen per maand in stand gehou word, en 'n gebou in die eksklusiewe Avenue Foch. Dié gebou, wat ook die ambassade van EG huisves, is sowat N$1,5 miljard

werd.

Die aanklagte teen hom is dat hy glo staatsgeld vir eie gebruik verkwis het. Dit sluit in geldwassery, korrupsie en staatsgeldverkwisting. As hy skuldig bevind sou word, staar hy tronkstraf van tien jaar en 'n boete van meer as N$700 miljoen in die gesig.

Daar is reeds op sy sportmotors soos Bugatti's, Ferrari's en 'n Aston Martin beslag gelê.

Teodorin se regspan voer aan dat die gebou as diplomatieke tuiste van EG immuniteit geniet en dat die Franse regering geen seggenskap daaroor het

nie.

Teodorin se regspan het aangedui hulle gaan Simon Mann, berugte Britse huursoldaat en destyds een van die baasbreine agter die mislukte staatsgreep, as een van die getuies in Teodorin se verdediging roep.

Afgesien van Mann kan nóg betrokke Suid-Afrikaners as getuies geroep

word.

Transparency International France en Sherpa, twee burgerregteorganisasies, is onder die belangegroepe betrokke wat help baklei het dat die saak ná ondersoeke van tien jaar voortgaan.

In 2016 is drie van Societé Generale­ Suid-Afrika-bank se bestuurders in EG gearresteer omdat hulle glo strydig met bankreëls inligting oor die land se finansies laat uitlek het om teen Teodorin in die hofsaak te gebruik.

Na verneem word gaan EG, 'n olieryke land waar die bevolking van bykans een miljoen in uiterste armoede leef, se olietransaksies as die werklike motivering vir die vervolging van Teodorin nou as troefkaart deur sy regspan gebruik word. Dié aanloop strek terug tot destyds

toe die mislukte staatsgreep plaasgevind het. Dít kan volgens iemand na

aan die hofsaak verreikende gevolge inhou.

Nguema is op goeie voet met die Suid-Afrikaanse regering. Hy en pres. Jacob Zuma het reeds verskeie wedersydse ampsbesoeke onderneem.

Teodorin was ook in Suid-Afrika in 2013 al in die pekel weens miljoene rande se sportmotors en 'n huis van R23 miljoen op Clifton se strand, sowel as een in Bishopscourt. Die Clifton-huis was glo so verwaarloos dat boemelaars dit oorgeneem het.

Nadat Kaapstadse bou-inspekteurs die Clifton-huis bekyk het, is 'n ultimatum aan Teodorin gestel om die plek in stand te hou of te verbeur. Volgens die inwonersvereniging is die huis sedertdien opgeknap.

In 2006 is Teodorin in Kaapstad gedagvaar vir uitstaande skuld aan ver­skeie Suid-Afrikaners.

Dit het toe aan die lig gekom dat hy drie sportmotors van R10 miljoen en eiendom van altesaam R49 miljoen in Kaapstad besit.

Ook Amerika het in 2014 gedreig om op van sy bates van N$923 miljoen beslag te lê ook omdat die land se regering gevrees het dit is met opbrengste van korrupsie aangekoop. Teodorin het selfs die popster Michael Jackson se bekende wit handskoen gekoop.

Teodorin het aangevoer dat hy net sowat N$1,3 miljoen as visepresident per maand verdien, maar dat die bates in die buiteland met opbrengste van sy sakeondernemings aangeskaf is. Die hofsaak in Parys gaan waarskynlik nog vir weke voortduur.

- Netwerk24/Le Monde/CNN/Agencia EFE

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!