Staatshospitale sukkel sonder linne, verbande
Staatshospitale sukkel sonder linne, verbande

Staatshospitale sukkel sonder linne, verbande

Produkte waaraan tans ’n reusetekort by verskeie staatshospitale is, is wél in Windhoek beskikbaar.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Drie staatshospitale moes onlangs inderhaas van teaterklere tot verbande koop, nadat aankope in dié verband glo maande laas deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gedoen is.

Veral by die Windhoek Sentrale Hospitaal is die situasie beroerd, met ’n bron in die mediese bedryf wat gesê het basiese en standaardprodukte soos teaterklere, handskoene, deppers en naalde is lankal nie meer ’n gegewe nie.

Vrydag is die teaterlys by dié hospitaal ook glo geskrap omdat daar nie deppers beskikbaar was nie. By die Sentrale en Katutura-hospitaal het personeel rondgestaan en wag om te hoor of daar wel iewers deppers beskikbaar is en of die operasies later sou voortgaan.

Volgens ’n verskaffer van linne wat vir twee dekades staatshospitale van onder meer beddegoed voorsien het, is geen bestellings vir die items glo sedert verlede jaar by hom gedoen nie. Die permanente sekretaris van die ministerie, dr. Andreas Mwoombola, het volgens die verskaffer tydens ’n vergadering in Desember gesê die aankope sal wel gedoen word. In reaksie hierop het die verskaffer die nodige materiaal aangekoop vir die bestellings wat sou kom, maar moes later een van sy takke se deure sluit omdat dit nooit gerealiseer het nie. Van die voorrade wat deur die verskaffer gemaak is, is gemerk as staatsitems en is nou nutteloos vir gebruik deur enige ander instelling.

Die Windhoek Sentrale Hospitaal het drie maande gelede wel teaterklere by die verskaffer gekoop. Ook die staatshospitale op Ondangwa en Onandjokwe moes vra vir verbande en lakens wat toe aan hulle verskaf is.

Volgens die verskaffer is ’n tender vanjaar vir die verskaffing van onder meer linne gevra, maar is nooit toegeken nie. “Die tender het gekom en gegaan en niemand is aangewys nie,” sê die verskaffer.

Die normale prosedure met aankope volgens die verskaffer skop af met ’n versoek van die hospitaal wat aan Mwoombola gerig word. Dit is ook Mwoombola wat moet besluit of daar wel ’n bestelling by ’n verskaffer vir die voorrade geplaas kan word.

Die verskaffer sê daar was altyd bestellings van die ministerie, maar het dit verlede jaar al opgedroog. Hy het voorts gesê die produkte waaraan daar tans ’n reusetekort by verskeie staatshospitale is, is wél in Windhoek beskikbaar. “Die PS weet dit is hier; dit moet net bestel word.”

Republikein het vroeër berig lede van die Namibiese Unie vir Staatsdienswerkers (Napwu) plaas die gebrek aan skoonmaakmiddels en uniforms ook voor Mwoombola se deur. In die minister van finansies se halfjaarbegroting het mnr. Calle Schlettwein bykans N$1,28 miljard vir middele en voorraad vir die gesondheidsministerie begroot . Vir gebruikersware soos uniforms is sowat N$343,2 miljoen beskikbaar, 21% meer as verlede jaar. Volgende jaar sal dié bedrag na verwagting 3% hoër wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!