Staatshuis met klippe verfraai

Die tydsberekening en prioriteit van dié besteding word wyd bevraagteken.
Augetto Graig
Augetto Graig en Tanja Bause – Vir sowat ’n maand reeds wonder verbygangers wat by Staatshuis aangaan, nadat die sypaadjie rondom die kompleks met bruin en wit klippe toegegooi is.

Die skerp hoekige klippe maak stap op die sypaadjies bykans onmoontlik en voornemende drawwers daarlangs moet sedertdien maar na die ander kant van die straat oorbeweeg.

Ná weke se navrae namens lesers het Republikein eindelik amptelike antwoorde hierop verkry.

Die klippe wat in sulke netjiese patrone rondom die Staatshuisgebou asook op die sypaadjies buite die kompleks gelê is, is bloot vir verfraaiing, sê die amptelike woordvoerder vir die president, dr. Alfredo Hengari.

“Die wit en bruin klippe wat rondom Staatshuis geplaas is, is vir die landskap bedoel. Die spesifieke klippe wat gekies word, is ekonomies doeltreffend, aangesien dit minder onderhoudskoste verg,” sê hy.

Volgens Hengari was dit lankal die plan om die landskap rondom Staatshuis op te kikker. “Die projek is in fases gedoen en dit wat nou gesien word, is die finale fase,” sê hy.

Die klippe dek ’n oppervlak van sowat 2 500 vierkante meter. Die werk is deur Namibia Landscapes gedoen op kontrak ter waarde van sowat N$350 000, sê Hengari.

Mnr. Bernadus Swartbooi van die opposisie LPM is egter nie beïndruk deur die belegging nie.

“Ek het dit gesien en gewonder wat gaan daar aan. Ek was onder die indruk die regering sukkel met geld. Daar is hongersnood in die land, maar daar word op tierlantyntjies bestee,” sê hy.

Volgens Swartbooi is dit maar nog een van talle sake waarin die regering die pot mis sit. “Dit is tipiese minagting van die regering vir sy mense. In Staatshuis besef hulle nie hoe rand-en-sent kwessies die mense teister nie,” sê hy. “Dit is hul macho benadering van, ‘ons het die geld, ons kan dit doen, wie sal ons keer?’”

Die Republikeinse Party se leier, mnr. Henk Mudge, sê: “Die koste is irrelevant – bloot die verwaandheid van die regering om enige koste hoegenaamd op iets só onbenullig aan te gaan, is ’n klap in die gesig van elke landsburger wat swaarkry vanweë die roekelose manier waarop hierdie Swapo-regering die Covid-fiasko hanteer het.”

Me. Jennifer van den Heever (PDM) sê sy is heel verward. “Namibië verkeer inderdaad in 'n ernstige ekonomiese krisis, te midde van die coronapandemie en ontberinge, en die versiering van Staatshuis word nie geregverdig nie. Ander belangrike projekte word weens begrotingsbeperkings gevries; waarom nie hierdie nie?” vra sy. “Ons moet dit veroordeel omdat dit lyk asof die regerende party nie omgee vir die behoeftes van ons burgers nie.”

Gewone Windhoekers wonder ook oor Staatshuis se bestedingsprioriteite.

Hilde*, ’n inwoner van Katutura, meen die geld kon beter gebruik gewees het om mense in Katutura en veral die informele nedersettings te help. “Die corona-19-pandemie het ons lewe baie moeilik gemaak. Baie mense het hulle werk verloor of hul salaris is verminder; ons kry baie swaar. Die geld kon gebruik word om die mense te help en nie om klippe te koop nie.”

Andrew* van die Goreangab informele nedersetting sê almal word deur die pandemie geraak. “Dit maak my baie hartseer. Hulle kon ten minste die helfte van die geld gebruik het om vir ons informele verkopers hier ordentlike geriewe met toilette te bou. Die ander helfte kon hulle dan gebruik om die klippe rondom Staatshuis te sit en dit daar mooi te maak. So het hulle dan hul mense bietjie gehelp én gedoen wat hulle wou doen.”

Maria* van die informele nedersetting Havana was nie bewus van die klippe rondom Staatshuis nie. “Ek kom nooit daar nie en ek sien dit nie, maar dit is nie reg nie om geld op klippe uit te gee terwyl ons hier in die informele nedersetting swaarkry nie. Hulle is veronderstel om hul mense te help. Nou lyk Staatshuis mooi, maar my maag is nog steeds leeg,” sê sy.

* Skuilname

[email protected]

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!