Staatskaping kos SA al meer as R90 miljard
Met die geld wat in Suid-Afrika deur die staat gekaap is, kon 'n miljoen huise vir 5 miljoen mense gebou word.
Jacob Rooi - Suid-Afrika het al enigiets tussen R90 miljard en R120 miljard deur staatskaping verloor, het mnr. Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, Saterdag by 'n lesing in Johannesburg gesê.
Jonas en Derek Hanekom, oudminister van toerisme, het gepraat by 'n geleentheid van die Ahmed Kathrada-stigting by die Apartheidsmuseum.
“Dit is 'n groot bedrag vir enige ekonomie. Met daardie geld sou ons baie kon doen om die landskap van ons land te verander,” het Jonas gesê.
Met R100 miljard sou sowat 'n miljoen huise vir 5 miljoen mense gebou kon word, het Hanekom, wat saam met Jonas in Maart vanjaar in 'n middernagtelike kabinetskommeling deur pres. Jacob Zuma uit sy pos verwyder is, gesê.
“Dit is wat uit ons ekonomie geneem is.” Hanekom sê die taak van die ANC is om 'n beter lewe vir almal te skep. As die party dit nie doen nie, misluk hy in sy eie roeping.
Hy het verwys na die Vrede-melkprojek in die Vrystaat waaraan Mosebenzi Zwane as LUR in die Vrystaat en tans minister van minerale bronne R182 miljoen bestee het. “Ons het gister foto's daarvan gesien. En dis waar ons as regerende party verkeerd gaan. Dis jou geld, dit is geld van die fiskus.
“Dit is bestee aan 'n melkprojek wat geruïneer is. Dit het nie 'n enkele persoon 'n werk besorg nie.
“R30 miljoen daarvan het betaal vir 'n uitspattige Gupta-troue. Jou geld!
“Sommige van ons staan op en sê: Nie in my naam nie, dit is verkeerd.”
Die DA het Donderdag meer as 200 bladsye met bewyse van bedrog en korrupsie oor dié projek by die hoofkantoor van die Valke ingedien.
Die doelwit was om 80 plaaslike inwoners te bemagtig, maar die tender is toegeken aan die Gupta-maatskappy Estina. “Toe word dit duidelik dit was 'n voorafbeplande projek om die Guptas se sakke te vul,” het Mmusi Maimane, DA-leier, gesê.
Jonas, vir wie die Guptas glo probeer omkoop het, is ook gister deur Hanekom geloof.
“Hy is nie R6 miljoen aangebied nie. Ook nie R60 miljoen nie, maar R600 miljoen . . . om met kroeks saam te werk,” het Hanekom onder applous gesê.
Volgens Jonas kan staatskaping as 'n politieke projek beskou word wat die staat ondermyn en staatsinstellings verswak om sleutelbesluite in die staat van buite te dryf en só 'n “skadu-staat” te bou.
Omkoopbare mense word in sleutelposte in die staat aangestel, maar dit ondermyn dan die staat se vermoë en geloofwaardigheid.
“Ekonomieë met swak instellings groei nie. En demokrasieë oorleef as instellings sterk is,” sê hy.
Die staat behoort geloofwaardige leiers te hê wat vertroue inboesem en vermoë help bou.
“Daar is egter steeds 'n groot afhanklikheid van konsultante.”
Die hantering van staatstoelaes is byvoorbeeld 'n grondwetlike taak, maar dit word deur 'n entiteit buite die staat bestuur. “Dit sê baie oor die bekwaamheid in die staat.”
Met verwysing na staatskaping en die gelekte e-posse wat die Guptas en kabinetsministers se betrokkenheid blootlê, sê Jonas dit het deesdae algemeen in die regerende party geword om te sê hulle “het nie geweet nie en was nie deel daarvan nie”.
“Dit is 'n fundamentele verklaring, want dit laat die vraag oor wie regeer die land.”
Op dié manier ondermyn staatskaping die demokrasie.– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie