Staatskaping: Nog net R2 miljard teruggekry
Staatskaping: Nog net R2 miljard teruggekry

Staatskaping: Nog net R2 miljard teruggekry

Francois Williams – Nog net R2,12 miljard is teruggekry van die miljarde rande wat weens staatskaping verlore gegaan het.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Dinsdag in ’n skriftelike antwoord op ’n parlementêre vraag die volgende bedrae gelys wat al teruggekry is:

· Die internasionale konsultant McKinsey het ná ’n siviele eis R902 miljoen aan Eskom terugbetaal.

· Eskom het R600 miljoen teruggekry wat onwettig aan die Gupta-verwante maatskappy Trillian betaal is.

· Die Chinese maatskappy China South Rail het ná onreëlmatige vooruitbetalings vir die instandhouding van lokomotiewe R618 miljoen aan Transnet terugbetaal.

Nog bedrae kan kom as Transnet suksesvol is met siviele eise teen vorige topbestuurders, het Gordhan gesê in antwoord op ’n vraag deur E. Buthelezi van die IVP.

Die regering se spesiale ondersoekeenheid is ook tans in ’n hofsaak gewikkel om namens Eskom ’n steenkoolkontrak van R2,7 miljard met die Gupta-verwante Tegeta-mynmaatskappy tersyde te stel. Dit was vir die lewering van steenkool aan Eskom vanuit Tegeta se Brakfontein-myn.

Die verrotting in staatsondernemings is nog baie diep, maar dit kan oorkom word, het Gordhan gesê. Dit gaan wel moed en ’n grootse poging verg van die direksies en bestuur van die staatsondernemings.

Volgens Gordhan is daar vir elke staatsonderneming ’n plan om korrupsie uit te roei.

Oor die Zondo-kommissie na staatskaping het Gordhan gesê die Denel-direksie gaan nog voor die kommissie getuig, en amptenare van die staatsbosboumaatskappy, Safcol, gaan ook binnekort getuig. Vorige ministers, asook Cheryl Carolus, ’n vorige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), en Siza Mzimela, ’n vorige hoof van die SAL en tans waarnemende hoof van SA Express, gaan ook nog voor die kommissie getuig, het Gordhan gesê.

Die kommissie ondersoek sake betreffende die staatsdiamantmaatskappy Alexkor, en die Alexkor-direksie werk ten volle saam met die ondersoekers, het Gordhan gesê. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer