Stad se monopolie druk mediese afval duurder
Tans word van hospitale tot laboratoriums gedwing om die munisipale diens as enigste opsie te gebruik.
Henriette Lamprecht – Tariewe vir die verwerking van mediese afval van private gesondheidsinstellings in Windhoek het met tot 456% per maand gestyg nadat die hoofstad se stadsvaders die monopolie hierop verkry het.
Tans word van hospitale tot laboratoriums gedwing om die munisipale diens as enigste opsie te gebruik weens ’n resolusie wat tydens ’n strategiese vergadering in 2011 aanvaar is.
Dié besluit word tans in ’n eis deur die Lady Pohamba Private Hospitaal in die hoërhof uitgedaag, met die hospitaal wat geriewe hiervoor by sy perseel het.
Tydens ’n ondersoek deur Republikein is onder meer bevind nageboortes en plasentas by hospitale moet gevries en dan geweeg word om eers die koste vir die verbranding daarvan deur die munisipale verbrandingsgeriewe te bepaal. Volgens een laboratorium het die koste vir verbranding van N$7 673 per maand met nagenoeg 450% tot N$42 700 gestyg.
’n Hospitaal in die hoofstad het die situasie as ’n “verskriklike krisis” beskryf.
Die volume mediese afval is tydens die Covid-19-pandemie op die spits gedryf met onder meer maskers en persoonlike beskermende drag (PPE’s) wat verskeie kere per dag vervang moes word.
HONDERDE TONNE TER SPRAKE
Gedurende ’n golf wissel die mediese afval by ’n hospitaal van sowat 1 800 ton tot 2 300 ton per maand. Vir net een hospitaal met ’n Covid-isolasiesaal beloop dié volume tans nagenoeg 1 400 tot 1 600 ton per maand. Volgens ’n bron in die bedryf het dit in “normale maande” in 2020 en later sowat 1 000 tot 1 350 ton per maand beloop.
Volgens regulasies moet die mediese afval in rooi sakke geberg word. Die rooi sakke moet vervolgens in plastiekhouers geseël en in ’n vrieskas gestoor word wat aan die nodige vereistes voldoen, voordat dit na die munisipale verbrandingsoond vervoer word. Die houers, vrieskaste, krag teen verhoogde koste, spesiale berging en vervoer is alles vir die rekening van die hospitaal of laboratorium.
“Die vervoer mag slegs deur geregistreerde mense en voertuie, of ten duurste kontrakteurs of op eie stoom in spesiaal goedgekeurde voertuie, waentjies en drywers geskied.
“Dis alles ekstra kostes vir gesondheidsinstellings,” verduidelik die bron. In 2018 moes die betrokke hospitaal N$36,77 (BTW uitgesluit) per kilogram vir mediese afval opdok, teenoor die N$44,78 (BTW uitgesluit) van 2021.
“In 2018 tot einde 2020 was die gemiddeld ingesluit N$61 000 per maand.
“In 2021 was die koste maandeliks gemiddeld N$85 000 met die isolasiesaal wat geopen is. Tydens ’n Covid-golf kan dit tot N$100 000 of N$120 000 per maand kos.”
Volgens die bron kan die koste en volumes tussen instellings skerp verskille toon, omdat die spesifieke dienste en prosedures wat verskaf word, ’n groot rol speel.
“Hospitale se bestuur sal ’n finansiële besluit moet neem om te bepaal of dit die moeite werd sal wees om dit intern te doen. Die maandelikse uitgawe maak dat die kapitale uitgawe egter die moeite werd sal wees.”
Volgens die bron is dit “absoluut die moeite en koste werd” om mediese afval intern en op die instelling se eie perseel te verwerk.
“Dit kan veel vinniger gebeur, hoef nie geberg of vervoer te word nie, en is oor die algemeen veel veiliger as om dit met voertuie die hele dorp vol te karwei.”
Ondanks die aanvanklike groot uitgawe om die nodige toerusting aan te koop, meen die bron dit sal vinnig afbetaal word.
Koste vir geriewe word sodoende gespaar, wat dan in pasiëntesorg teruggeploeg kan word. Nog ’n bron in die bedryf sê sedert Windhoek se munisipaliteit die monopolie op die verwydering en verwerking van mediese afval in die hoofstad verkry het, is die koste om daarvan ontslae te raak, met tot “500% verhoog”.
“Dis heeltemal buite verhouding tot wat elders in die land en Suider- Afrika aan die gang is,” het die bron gesê.
Volgens dié bron word staatshospitale se mediese afval by hul verbrandingsoond verwerk, maar “die staat se oond wil geen afval van die private sektor ontvang nie, alhoewel daar sover ons weet geen wetgewing daarteen bestaan nie”.
Private instellings mag ook glo nie afval vir verwerking buite Windhoek se munisipale grense vervoer nie.
“Die munisipaliteit het dus ’n monopolie geskep,” sê die bron.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie