Stad wil skole se water en krag sny
Die munisipaliteit het 'n besluit bevestig om skole se water en elektrisiteit af te sny weens die ministerie van onderwys, kuns en kultuur se wanbetaling vir dienste.
Hoofredaksie
'n Beampte van die Windhoekse munisipaliteit het gisteroggend by een van Windhoek se spogstaatskole opgedaag met die opdrag om die water- en kragtoevoer summier weens wanbetaling deur die regering af te sny.
Die feit dat kinders besig was om eksamen te skryf, moes in onderhandelinge namens die skool ingespan word.
Die munisipaliteit se woordvoerder, me. Lydia Amutenya, het aan Republikein bevestig die plaaslike owerheid het begin uitvoering gee aan 'n besluit om die water en elektrisiteit van skole in Windhoek te sny, maar sy wou geen besonderhede verskaf oor watter skole geraak word en hoeveel die skuld beloop nie.
Die munisipaliteit se optrede het volgens 'n ingeligte bron daartoe gelei dat die ministerie van onderwys, kuns en kultuur onderneem het om so gou as moontlik N$15 miljoen oor te betaal op sy agterstallige rekening. Dit is nie duidelik hoeveel geld in totaal deur die ministerie aan die munisipaliteit verskuldig is nie.
Blykbaar het die munisipaliteit al dikwels soortgelyke beloftes van betaling ontvang - sonder dat beloftes nagekom is. Die munisipaliteit gaan nou glo eers wag en indien nodig verder toeslaan.
Ouers by die betrokke skool was gister bekommerd of hul kinders hul rekenaareksamen sou kon voltooi. Sommige was bereid om 'n noodgeldinsameling te hou om die water en ligte aan te hou totdat die eksamens afgehandel is.
Sonder water en krag kan skole in chaos gedompel word. Skole met koshuise sal nog erger geraak word as ander.
Onder die bedeling van “gratis onderwys” word rekeninge direk na die streekdirektoraat gestuur wat verantwoordelik vir betalings is.
Republikein het in Februarie berig die Windhoek-munisipaliteit het vir die vorige boekjaar 'n tekort van N$420 miljoen getoon, hoofsaaklik as gevolg van sowat N$634 miljoen wat aan die munisipaliteit verskuldig was. Groot sondaars was ministeries, wat die hoofstad altesaam N$80 miljoen geskuld het, asook verskeie staatsondernemings, wat N$18,5 miljoen verskuldig was.
Republikein het verskeie oproepe na die ministerie van onderwys gemaak, waar die waarnemende permanente sekretaris, me. Veno Kauaria, onderneem het om op die koerant se vrae te reageer. Geen reaksie is teen druktyd ontvang nie.
Die minister, me. Katrina Hanse-Himarwa, en mnr. Gerard Vries, direkteur van onderwys vir die Khomasstreek, kon ook nie vir kommentaar bereik word nie, terwyl niemand anders by die munisipaliteit bereid was om die koerant se vrae te beantwoord nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie