Stadig eers met belowende Brevis, maan Faul
Krieket
In krieketkringe word reeds gefluister dat die ster van die Suid-Afrikaanse o.19-span, Dewald Brevis, binnekort by die senior Protea-span betrek moet word.
Maar stadig eers daarmee, maan Jacques Faul, die Titans se uitvoerende hoof. Brevis (18) het reeds ’n volwaardige kontrak by die Titans, wat hom gewerf het toe hy nog op skool by die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) was.
“Laat hom toe om te ontwikkel. Jy kan sekere ouens op die snelbaan sit, maar jy moet versigtig wees om hom nie gunste te bewys nie,” sê Faul.
“Laat hom eers deur die plaaslike struktuur kom. As hy goed vaar, sal die nasionale keurders hom raaksien.
“Ons weet hy is spesiaal, maar ons weet ook hy is jonk. Hy moet ook homself wees. Hy is klein Brevissie; hy moet nie iemand anders wees nie.”
Faul verwys na die vergelykings tussen Brevis en sy mentor en held, AB de Villiers. Selfs sy eie spanmaats noem Brevis “Baby AB”, en De Villiers self het twee weke gelede aan Netwerk24 gesê die ooreenkomste in styl en kolfingesteldheid is beslis daar.
Brevis was Woensdag weer die Jong Proteas se uitstaande speler in hul nederlaag met ses paaltjies teen Engeland in die kwarteindronde van die Wêreldbeker-toernooi vir o.19-spanne in die Karibiese Eilande.
Hy het 97 lopies van 88 aflewerings gemoker. Dít nadat hy vroeër in die toernooi tellings van 65, 104 en 96 aangeteken het. In die span se laaste opwarmwedstryd voor die toernooi, het hy ook 50 lopies teen die Windies geslaan.
Hy is verreweg die voorste kolwer in die toernooi, met 362 lopies in vier wedstryde, teen ’n gemiddeld van 90.50 en ’n treftempo van 86.39. Die naasvoorste kolwer, Thomas Prest van Engeland, het 275 lopies op sy kerfstok.
Brevis is boonop slegs die tweede kolwer wat vier opeenvolgende vyftigtalle by ’n o.19-WB kon aanteken. Die ander kolwer is Shubman Gill (22) van Indië, wat kort ná sy goeie vertonings in junior krieket reeds sy senior buiging vir sy land gemaak het.
Faul sê al het Brevis nog nie vir die Titans gespeel nie, hoop hulle om hom binnekort te kies.
“Ons het hom so twee seisoene gelede in ’n T20-opwarmwedstryd laat speel, toe kry hy 60 van 40 balle, teen ons topboulers. Hy was nog op skool,” sê Faul.
“Hy gaan hopelik nou vir ons speel as hy klaarmaak by die WB-toernooi. Ons het vir hom ’n kontrak gegee en dit gebeur nie gereeld dat ’n skoolseun ’n kontrak kry nie. Die kontrak is slegs vir een jaar, maar ons sal natuurlik graag aan hom wil vasklou.”
Die SA o.19-span sal nog in twee wedstryde speel. Hulle ding nou mee om die vyfde plek.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie