Stadsbase bou nou self huise
Stadsbase bou nou self huise

Stadsbase bou nou self huise

Die hoofstad het besluit om sy eie staatsonderneming vir dié doel te vestig.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die hoofstad Windhoek het besluit hy doen dit voortaan sommer self as dit kom by gronddiens en behuising. Dié was een van verskeie uitkomste van laas week se weeklange slypskool vir raadslede wat oor oplossings vir grond- en behuisingskwessies beraadslaag het.
Die burgemeester dr. Job Amupanda het gister op ’n regstreekse uitsaaigeleentheid in die munisipale raadsaal die lang lys optredes uiteengesit waarop die beraad ooreengestem het.
“Ons het besluit om dit op ons eie te doen,” het hy oor die komende benadering tot nuwe behuising gesê.
Die naam van die nuwe stedelike vlak staatsonderneming is reeds voorbehou: Nova Actus Holdings. Hierdie onderneming sal 100% in die stad se besit wees en sal verskeie filiale vestig, insluitend die eerste wat binne ses maande op die been moet kom en kwessies soos die gronden behuisingstekort moet takel.
Deur Nova Actus wil die stadsraad die aanvraag na grond en behuising in die hoofstad versadig deur nuwe lewe in vertraagde projekte soos Goreangab Uitbreiding 4 en Otjomuise Uitbreiding 10 te blaas. In Goreangab wil die stad die erwe wat in die massabehuisingsprojek ongebruik is, terugneem vanaf die Paaiekontrakteursmaatskappy (RCC), wat deur die burgemeester as “onbevoeg” beskryf is.
In Otjomuise beplan die munisipaliteit om die kontrakteur te dwing om voltooide huise spoedig beskikbaar te stel.
Amupanda sê die hoofstad sal hom aan openbare-private-vennootskappe (PPP’s) onttrek en ondersoek hoe om die waarde van die betrokke grond terug te eis. Die reëlings wat met PPP-verhoudings gepaard gaan, is problematies, sê Amupanda. Hy bevraagteken hoekom ’n eenmalige konsepprojek tot sowat tien verskillende ooreenkomste gelei het.
“Met PPP’s is die ooglopende probleem dat tenderpreneurs op die grond sit, in sommige gevalle sedert 2013 of 2017 en steeds het niks gebeur nie. Hulle moet betaal. Ons het ’n probleem, want ons kan nie vertraag word nie. Ons soek spoed,” sê hy.
Amupanda sê die stad sal ’n ander model vir PPP’s soek, of ’n ander manier waarop saamgewerk kan word. Die stad sal steeds met spaargroepe soos die Shack Dwellers Federation of Namibia (SDFN) en met NHE saamwerk, sê hy.
Die stad beplan intussen sy eie bekostigbare behuisingsprogram om die teiken van 600 huise teen Desember van sy vennootskap met die streeksraad, die ministerie en NHE aan te vul. Tweehonderd van dié huise is klaar gebou.
Die Windhoek behuisingsprogram beplan om teen Januarie 2022 in Goreangab 4 op klein skaal te begin en dan op sowat 24 hektaar in Cimbebasia uit te brei om 900 huise te bou en munisipale huur as ’n praktyk te vestig. Hiervoor is reeds N$22 miljoen in die boekjaar begroot.
Volgens die munisipaliteit sal huise ter waarde van tussen N$220 000 en N$350 000 gebou word, met 70 in die eerste groep. Volgens die stad se behuisingsafdeling wil Windhoek wegbeweeg van die segregasie van eenvormige waardes van huise in ontwikkelinge, na inklusiewe ontwikkeling vir buurte met huise van verskeie waardes.
Nog ’n filiaal van Nova Actus sal voorstelle vir finansiering aan die raad maak, terwyl die stadsraad onderhandel om ou skuld aan die regering van N$700 miljoen af te skryf, of ’n omruiltransaksie aan te gaan.
Die munisipaliteit se finansiële uitvoerende beampte, me. Jennifer Comalie, het bevestig dat die oorspronklike lening N$350 miljoen was.
Daar moet ook oor hervorming van plaaslike owerheidsbestuur met die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling gepraat word, en oor beleid om verstedeliking te beheer, sê Amupanda.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!