Stadspolisie van hardhandigheid beskuldig

Mnr. Richard Davids hou vol hy het geen oortreding by die padblokkade begaan nie.
Denver Kisting
Denver Kisting – ’n Inwoner van Groot Aub, mnr. Richard Davids, voer aan ’n beampte van die stadspolisie, waarnemende sersant Erwen Katiti, het hom Dinsdaglaatmiddag op dié nedersetting suid van die hoofstad aangerand.

In ’n video, wat 15 sekondes beslaan en wat deur ’n ooggetuie gemaak is, kan twee beamptes gesien word terwyl hulle met Davids stoei.

Hy kan gehoor word dat hy aan hulle sê “julle kan vat wat julle wil”.

Kort daarná sê hy: “Ek baklei nie met julle nie.”

Terwyl hulle hom teen die grond platgooi, sê hy weer: “Jirre Jissis, I am not fighting you. Etsê.”

Een van die beamptes merk dan op dat Davids ’n baie groot fout sou begaan het. Dit is nie duidelik wat dié misstap behels nie.

Volgens hom het die skermutseling ontstaan toe Katiti hom by ’n padblokkade op Groot Aub gevra het om stil te hou.

Terwyl die beampte besig was om sy voertuig te deursoek, het ’n rusie glo ontstaan omdat Davids vir Katiti om die motor gevolg het, beweer Davids.

Nadat hy glo hardhandig behandel en in hegtenis geneem is, is hy vir ure by die Groot Aub-polisiekantoor aangehou, voer hy aan.

Hy is veral ook gegrief omdat net een van die twee beamptes tydens die skermutseling ’n masker dra. Dit is nie duidelik of hulle handskoene gedra het terwyl hulle met hom omgaan nie.

Volgens hom is hul optrede teenstrydig met die huidige noodtoestandregulasies om die verspreiding van die Covid-19-pandemie hok te slaan.

Hy is later vrygelaat waarná hy by die Katutura-staatshospitaal om mediese hulp gaan aangeklop het.

Terwyl hy daarná besig was om in Windhoek ’n klag teen Katiti aanhangig te maak, het die beampte glo daar opgedaag en hom opnuut in hegtenis geneem.

Hy hou voet by stuk hy het geen oortreding begaan nie.

Katiti het by navraag oor wat op die video uitgebeeld word, gesê: “Iemand word gearresteer.”

Toe hy daarop gewys word Davids beweer gewelddadigheid aan die hand van die polisie en dat hy by die Katutura-staatshospitaal behandeling ontvang het, het Katiti gesê: “(Ek) neem kennis, dankie.”

Katiti het geswyg oor Davids se plan om strafregtelike klagte teen die owerhede aanhangig te maak.

’n Navraag oor watter oortreding Davids sou begaan het, is eweneens met stilte begroet.

Die hoof van die stadspolisie, mnr. Abraham Kanime, sê hy dra kennis van die voorval. Volgens hom word dit tans ondersoek.

Die nasionale woordvoerder van die Namibiese polisie, adj.komm. Kauna Shikwambi, sê dit blyk of Davids hom teen inhegtenisneming verset het. In daardie geval mag beamptes krag gebruik om die vermeende oortreder onder bedwang te bring, sê sy.

“Ek is positief iets moes gebeur het wat tot die inhegtenisneming gelei het.”

Sy het egter alle navrae na die stadspolisie verwys.

Davids wat glo op Rehoboth aangehou sou word, se selfoon was sedert Woensdag afgeskakel.

Die identiteit van die tweede beampte is nie aan Republikein bekend nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!