'Stakende' vissermanne weer in diens
'Stakende' vissermanne weer in diens

'Stakende' vissermanne weer in diens

Altesaam 290 vissermanne wat vyf jaar gelede deel van 'n groter groep stakers was en later afgedank is, is weer in diens geneem.
Leandrea Louw
Leandrea Louw op Walvisbaai – Tweehonderd-en-negentig vissermanne wat ná 'n staking vyf jaar gelede werkloos gelaat is, is deur Hangana Seafood in diens geneem.

'n Ooreenkoms is Donderdag tussen Hangana en die ministeries van visserye en mariene hulpbronne en van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping onderteken.

Die ooreenkoms sal ­terugwerkend tot 1 Junie aangepas word en die vissers sal teen die einde van die maand hul eerste salarisse ontvang.

Hangana het reeds met mediese ondersoeke, induksie en vaardigheidsontledings begin om vas te stel waar die werknemers sal inpas.

Die minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Derek Klazen, het gesê hy het met sy aanstelling hom daartoe verbind om die indiensnemingsproses van die vissermanne te voltooi.

Klazen het gesê hy en die minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Utoni Nujoma, het onverpoos gewerk om die ooreenkoms gereed te kry.

“Vanjaar se toekenning van visvangkwotas is afgehandel. Ek gee die laaste beskikbare kwota vir Hangana om hierdie werkers in diens te neem. Die ooreenkoms kan outomaties hernu word as die maatskappy aan alle voorwaardes voldoen, soos uiteengesit in die ooreenkoms. As die maatskappy ons werkers behou, sal ons aanhou om kwotas aan hulle toe te ken,” het Klazen gesê.



'nEEM VERANTWOORDELIKHEID'

Nujoma het gesê: “Ons is verheug dat daar voldoen is aan die basiese voorwaardes, soos uiteengesit in die arbeidswet, sowel as die verskillende internasionale ooreenkomste wat ons as 'n land onderteken het.”

Hy sê die geskilpunte waaroor die vissermanne vyf jaar gelede gestaak het, is ook in die ooreenkoms uit die weg geruim.

“Die werknemers moet ook verantwoordelikheid neem. Ons leef in 'n mededingende wêreld en kan nie staak sonder om aan die basiese voorwaardes van onderhandelinge te voldoen nie.

“Daar is prosedures wat gevolg moet word om hierdie geskille te hanteer. As jy kies om dinge onwettig te doen, moenie verwag om met handskoene hanteer te word nie,” het hy gesê.



NOG WERKSKEPPING

Die besturende direkteur van Hangana Seafood, mnr. Herman Theron, sê volgehoue belegging in die bedryf het dit moontlik gemaak vir die maatskappy om die vissermanne in diens te neem.

“Die ooreenkoms wys dat die bedryf, vakbonde en die regering kan saamwerk om vir almal 'n beter toekoms te skep.

“Hangana het tans sowat 1 451 werkers in diens en met die bykomende 290 werknemers kom dit op 1 741 te staan – 'n arbeidsmag om mee rekening te hou. Ons doel is om 2 000 mense teen 2025 in diens te hê en ek glo ons is op koers om dit te bereik,” het Theron gesê.

“Hangana is besig om 'n fabriek van sowat N$360 miljoen te bou wat meer werksgeleenthede sal skep. Ons het N$100 miljoen in ons perlemoenplaas op Lüderitz belê en bou tans viswinkels. Ons het ook ons dienste gediversifiseer in terme van die beskikbaarstelling van aanlegsteiers (jetty space) aan ander ondernemings in die bedryf, asook om 'n nuwe kommersiële koelkamer te bou wat ook meer mense in diens sal neem.”

Dit was Klazen se eerste amptelike besoek aan Walvisbaai as minister van visserye en mariene hulpbronne.

“Ek is bly om vandag hierdie sage van die werklose vissermanne te beëindig. Ons kan nie ons mense op straat hê sonder kos om op die tafel te sit nie. Hangana het bewys enigiets is moont­lik.”– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!