Staking by NBC vou
Staking by NBC vou

Staking by NBC vou

Die stakende werkers van NBC moet terugkeer werk toe nadat Napwu die hofsaak laat vaar, en die staking beëindig het.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die sekretaris-generaal van die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu), mnr. Peter Nevonga, het gisteroggend stakende NBC-werknemers ingelig dat die vakbond die hofsaak teen die NBC en die regering teruggetrek het, en die staking tot ’n einde gekom het.

“Kom ek som op. Die staking is beëindig. Die hofsaak is teruggetrek. Ek het die inligting gedeel wat ek gedeel het, en op daardie noot is hierdie toespraak afgehandel,” het Nevonga gesê nadat die werknemers hom begin uitjou het.

Ná meer as ’n maand van protesaksie voor die hekke van die nasionale uitsaaier, NBC, se hoofkantoor in Windhoek, en sonder enige toegewing rakende die meeste eise wat aan NBC se bestuur gestel is, was die werknemers ongelukkig oor dié nuus.

Die NBC se direkteur-generaal, mnr. Stanley Similo, het gesê die raadsvoorsitter, mnr. Lazarus Jacobs, het Dinsdag met Nevonga vergader en die terme vir ’n ooreenkoms is vasgestel om die staking te beëindig en om die hofsaak terug te trek.

Volgens Similo het 231 werknemers reeds teen dié tyd terug werk toe gekeer.

“Volgens die ooreenkoms sal NBC probeer om langer termyn kontrakte te verseker vir werknemers wat tans op jaarlikse kontrakte aangestel is. Die raadsvoorsitter sal ook ’n span lei om ondersoek in te stel oor hoe die NBC verhoudinge tussen werkgewer en werknemers kan stabiliseer,” luidens die vrystelling.

’n Ondersteuner van die staking en plaaslike aktivis, me. Rosa Namises, het Nevonga gisteroggend gevra vir “eerlike leierskap sonder enige ego,” maar die vakbondleier het haar bydrae verwerp en as aanhitsing beskryf.

“Vir jou om te probeer sê jy gee meer vir hierdie mense om as ons, is ’n nagmerrie,” het hy aan Namises gesê, en ook “hier handel ons nie met politieke kwessies nie.”

Toe van die betogers hom vra oor die vakbond se verhouding met Swapo het Nevonga gesê: “Napwu is ’n filiaal van die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW), en dit eindig daar.”

Oor sy betrokkenheid by Swapo se sentrale komitee, sê Nevonga sy lidmaatskap “is in my eie reg, en julle kan dit nie verander nie, of enige iets daaraan doen nie, net soos julle nie daarby kan inmeng nie.”

Nevonga en ander top- Napwu-leiers kon gister nie vir verder kommentaar bereik word nie.

Hul selfone was onbeantwoord, gesprekke is kortgeknip met die verskoning dat hulle vergaderings moet bywoon en kort boodskappe is geïgnoreer.

Een van die werknemers, wat terug werk toe is, sê hulle is nie oor die vakbond se redes vir die opskorting van die staking, óf die terugtrekking van die hofsaak ingelig nie.

“Niks is gekommunikeer nie. Die union het niks gesê nie,” volgens hom.

Nog ’n staker sê hy is “baie, baie teleurgestel in die uitkoms. Ek dink daar kon vooraf beter beplan gewees het. My mening is daar moes nooit ’n staking gewees het nie, want daar is nie geld op die oomblik in die land nie. Die vakbond het van meet af slegte raad aan sy lede gegee.”

Hy sê hy is dankbaar aandag is op ’n manier aan die lot van kontrakwerkers gegee.

Hy is teleurgesteld in die manier hoe onderhandel is, “en ook oor die geen werk, geen betaling, maar dit is ’n risiko wat jy moet loop as jy aan so ’n wettige staking deelneem.

“Vakbonde in Namibië is by ’n kruispad, omdat dit moeilik is om na die belange van werknemers om te sien, as jy na die pype van marionetmeesters moet dans, veral Napwu, wat ompad geaffilieer is aan ’n politieke party. Ek hoop dit is ’n wekroep vir vakbonde.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer