'Stamprieters trek geen voordeel uit hervestiging'
'Stamprieters trek geen voordeel uit hervestiging'

'Stamprieters trek geen voordeel uit hervestiging'

Gemeenskap wil klagskrif opstel vir grondhervormingskonferensie
Elvira Hattingh
Geeneen van Stampriet se 6 000 inwoners het voordeel getrek uit die nasionale hervestigingsprogram van die afgelope 26 jaar nie, alhoewel die meeste van hulle sê dat hulle oor die jare daarvoor aansoek gedoen het.

Volgens ’n mediaverklaring wat onlangs deur die burgerorganisasie Namibiese Forum vir Nie-regeringsorganisasies (Nangof) uitgereik is, het hierdie feite onlangs aan die lig gekom. Dit volg op ''n raadplegingsvergadering oor grond wat in die laaste naweek in September belê is. Die vergadering is deur die grondaktivis, mnr. Uhuru Dempers, en die sosiaal wetenskaplike, me. Sima Luipert, gelei.

Luipert het tydens die geleentheid gesê die Hardap- en //Karasstreek is hoog op die prioriteitslys vir die eerste konsultasies geplaas as gevolg daarvan dat ’n groot aantal hervestigingsplase hier gekoop is.

In die volgende twee maande sal soortgelyke konsultasies in die Hardap-, //Karas-, Omaheke-, Khomas-, Otjozondjupa- en Erongostreek plaasvind, met verdere vergaderings wat ook in die suide van beide die Kunene- en Oshikotostreek sal plaasvind. Hierdie vergadering is deur Nangof aangebied ter voorbereiding van die komende nasionale grondhervormingskonferensie.

Luipert het gesê ongeag die feit dat die minister van grondhervorming, mnr. Uutoni Nujoma, op 24 Augustus aangekondig het dat ’n grondhervormingskonferensie in November sal plaasvind, was dit nie duidelik presies wanneer dit sal gebeur en of burgerlikes genooi is of geraadpleeg sal word nie.

“Ons sou ook graag wou weet watter besluite sedert die afloop van die eerste konferensie toegepas is,” het sy gesê.

Tydens die vergadering op Stampriet het lede van die gemeenskap gesê ten spyte van verskeie aansoeke, is niemand nog vir ’n hervestigingsplaas oorweeg of goedgekeur nie. Volgens die gemeenskappe besit een wit familie meer as twee plase terwyl die hele gemeenskap in 13 000 ha ingedruk word.

Die voorsitter van die Stampriet-gemeenskapkoöperasie, me. Rebekka Fleermuis, het tydens die vergadering gesê die gemeenskap gaan nou ’n komitee stig wat hulle by die grondhervestigingskonferensie moet verteenwoordig.

“Hierdie keer wil ons seker maak dat ons stemme gehoor word,” het sy gesê.

Volgens haar verwys die “plase” waarop hulle tans woon, na die agterkant van hul huise waar hulle vee aanhou.

“Die aanhou van vee in jou agtererf is ’n gesondheidsrisiko,” het sy gesê.

Sy het verder gesê ’n gebrek aan toegang tot grond het mense se armoede vererger terwyl ander hulle na die misbruik van alkohol gewend het. Die gemeenskap is van mening dat ’n gebrek aan grond die grootste oorsaak van armoede is.

Gemeenskapslede het aangedui dat hulle ’n petisie gaan saamstel en eis dat onderbenutte plase nie geadverteer moet word nie, maar vir koöperasies uitgehou moet word. Volgens gemeenskapslede word verskeie kommersiële plase nie ten volle benut nie.

Intussen het Dempers bekend gemaak dat ’n konferensie vir grondloses aangebied sal word sodra die streekkonsultasies afgehandel is, sodat die bydraes van die onderskeie gemeenskappe hersien en bespreek kan word.

“Die doel is om te kan seker maak gemeenskappe se bydraes, voorstelle en bekommernisse uit die onderskeie streke word korrek saamgevat. Dit moet in ’n finale dokument uiteengesit word wat tydens die grondhervormingskonferensie in November voorgelê moet word,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!