Stap die Doodsakker saam met ystervrou

Anette Grobler pak 'n nuwe avontuur in Angola aan en nooi Namibiese vroue saam.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Avontuurvrou Anette Grobler is op soek na Namibiese vroue om saam met haar die “gevreesde” Doodsakker in Angola te voet en per 4x4-voertuig aan te pak.

Dié staptog van vier dae oor 66 km met 20 vroue word beplan vir 28 Augustus tot 6 September.

Anette was op haar dag 'n majoor in die Suid-Afrikaanse weermag en die eerste vrou wat Recce-opleiding ontvang het.

Sy het bekendheid in Namibië verwerf ná sy in 2011 vroualleen die Skedelkus met 'n riksja gestap het.

Anette het ook al hoë berge uitgeklim soos Kilimanjaro in 2002, Elbrusberg in Rusland in 2006 en Mount Aconcagua in Argentinië in 2009. Boonop het sy al 10 Argus-fietsrenne agter die blad.

In 2005 het Anette die eerste mens geword wat die onherbergsame stuk woestynkus noord van die Kunene-mond alleen aangedurf en deurgestap het.

Sy het binne 17 dae meer as 300 km van die Kunene af tot by die kusdorp Namib gestap en gedraf.

Nou, 12 jaar later, keer Anette terug. Dié keer bied sy ander vroue met murg in hul pype die geleentheid om saam met haar die uitdagendste stuk van haar 2005-staptog, die berugte Doodsakker, aan te durf.

“Wat hierdie spesifieke stuk van die woestynavontuur so uitdagend maak is dat daar 'n beperkte periode is vir stappers en ryers om 'n moeilike sandstrook van 44 km te oorkruis met die stygende seegety na links en die hoë sandduine na regs. Jy moet jou stap en jou ry ken, en goed ken!” sê Anette.

Sy soek soveel moontlik Namibiese vrouespanne om aan die eerste Angolese Death Acre Dash deel te neem.

Die koors loop reeds hoog in ­Suid-Afrika, en Anette hoop die oorblywende plekke sal deur Namibiese vroue gevul word, “omdat hierdie land en sy mense my so na aan die hart lê,” sê sy.

“Die voordeel vir Namibiese deelnemers is natuurlik die feit dat hulle 'n soveel korter afstand moet aflê om by Angola uit te kom, en Namibiërs het boonop nie 'n visum nodig om Angola te besoek nie, wat aansienlike besparings inhou.”

Stappers moet hul eie vroulike bestuurder met 'n voertuig saambring om hulle van punt A na punt B van die avontuur te besorg.

“Die drywers gaan ook 'n uiters opwindende ervaring hê waarmee hulle vir die res van hul lewens om kampvure sal kan spog,” sê Anette.

Stappers gaan 16 km per dag stap en die laaste dag 20 km sonder om te stop.

“Jy sal die hooggety moet oorwin om te voorkom dat jy vasgevang word tussen inkomende branders aan die een kant en die 28 meter hoë duine aan die ander kant,” sê die ystervrou.

“Vir vier dae sal jy in ekstreme ­woestynweer met jakkalse, strandwolwe, adders en reusekrappe moet oorleef. Jy sal omring wees deur niks anders as sand, see en wilde diere nie!”

Vroulike stappers en 4x4-bestuurders wat glo hulle het die nodige moed om die Doodsakker te troef, kan meer inligting en aansoekvorms by silentsteps.co.za kry.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!