Stap die Kanniedood-wandelroete
Daar heers 'n rykdom van fauna en flora, asook interessante stories.
Anné Noelle
Die Kanniedood-wandelroete in die noordweste van Namibië op die plaas Safari van Con en Cathy Swart is my lekkerste geheim.
Dit bied 'n rykdom van fauna en flora en interessante staproetes in 'n ongerepte en afgeleë deel van die land. Dit laat my soms dink aan die Visrivier met die klouter oor rotsblokke in die ravyn, die Inselberge, die rotswande, maar die boomreuse sal jy nêrens anders vind nie.
Hier besef jy niks is so dringend of so belangrik soos wat jy gedink het nie. Laat jou wegraap vir twee dae om maande se rus in te haal of bars uit jou nate en ontdek 'n nuwe wêreld.
Ons was vier mense: Twee rondom 'n fikse 60 en twee in hul laat dertigs wat gereeld draf.
Die staproete ruk nie jou beursie nie en dit sluit die eerste nag in 'n chalet of berghut en een nag se kamp in die veld in.
Teen skemer op dag 2 bring Con jou eie kamptoerusting en sy lekker wildsvleis met Cathy se vars brood kamp toe teen 'n minimale bedrag vir die kospakkie en afleweringsfooi per groep.
Vir die eerste nag kan jy Con se kospakkie bestel of jou eie lekkernye bring.
Die gids se fooi vir twee dae per groep is die moeite werd, want dikwels volg julle dierevoetpaadjies of klouter oor koppies om aan boomreuse te vat.
Probeer om Vrydag daar aan te kom en later Sondagmiddag weer te vertrek.
Con hou daarvan om sy gaste onverwags met koue water, 'n yskoue bier of 'n koeldrank in hierdie onherbergsame wêreld te bederf.
Jy moet moeite doen om hier uit te kom want jy kry perspektief en jy leer lewe.
AANWYSINGS
Net buite Outjo op pad Etosha toe draai jy af op die C40 na Kamanjab vir 100 km en dan neem jy die D3246 wat links afdraai. Volg die bordjies vir sowat 18 km op die tweespoorpaadjie tot by Safari. Jy stap nou in die spore van vier geslagte van pioniers en vasbyters.
Nee, die opstal is nie 'n lodge nie. Dis 'n huis waar mense swaarkry vir vier geslagte lank lekker klaargekry het. Grootoupa Paul Swart worstel met sy kinderdae nadat sy ma hom vir haar kinderlose suster gegee het.
Uit die Groot Marico het hy wind in geslaan toe sy verstand hom toelaat en hy het hierdie laaste lappie aarde vir ongesiendes teen sy bors gedruk.
Op die plaas Huab waarvan Safari 'n deel was, het hy en sy fyne Fien Opperman van Otjiwarongo nuut begin in 1929. Hul seun Lourens, almal noem hom Koos Swart, het oorgeneem en saam met een van die voorste mediese susters van Namibië, Laurine Swart, het hulle vyf kinders grootgemaak.
As die droogte dreig, werk Oupa Koos as 'n staatsamptenaar op Khorixas of op Sesfontein en Ouma Laurine begin die eerste kliniek op Kamanjab. Sy vat vas.
Nou is dit Con en sy seun Jaco met vietse Erika en hul kinders wat hierdie unieke hemel met ons deel.
ROETE
Op dag 1 stap jy ongeveer 20 km van die huis na die hoekkamp – al met die olifantpad langs tot by die brak water van Soutpos. Dis tweespoorpaadjies, klouter plek-plek en sandstap deur sytakke van die Huab.
Jy is bly jy dra nie 'n volle rugsak nie, maar jou 2 tot 3 liter water is baie nodig, sonroom en 'n properse hoed ook.
Teen vroegmiddag bereik jy Soutpos, maar jy val in die koel sand van die rivier neer en skop jou skoene uit.
Reël met Con as jy 'n rooster en ander toerusting nodig het, maar daar is genoeg hout om 'n “lang” vuur te kan maak. Hy sorg vir n tenk vol soet water. Dit is stil, die helderste sterre skyn tydloos.
Dit was aand en dit was môre, die lekkerste dag: Op dag 2 durf jy 'n ietwat uitdagende 18 km aan.
Jy stap saam met die grotes: Woestynaangepaste olifante wat weghou as hulle geraas hoor, luiperds wat jou sien, maar jy sien hulle nie. Jy voel gerus want die gids is by.
Jy stap saam met die raarstes: Die swart muishond, die damararooibekneushoringvoël en loer na 'n skuilplek van die bruin hiëna. Die witkruisarend het sy warboelnes op 'n rotsnaald gebou. Die kranse is sy vriende.
Die swart muishond (Galerella nigrata) en nie die Kaokolandse swartkwasmuishond nie, is 'n spesie op sig, goed toegerus om in hierdie geharde en droë omgewing te oorleef. Hulle is dapper en eet prooi wat dikwels baie groter as hulself is – tarentale en klipdassies. Alles hier is dapper.
BOME
Wat jou bybly is die bome: Jy behoort ten minste ses verskillende kanniedoodspesies te eien. Die mooiste eksemplare van die persstamkanniedood (Commiphora multijugo) staan ongestoord ingegrawe tussen die rotsblokke, die bosluisboom (Sterculia africana) pryk spierwit en koninklik teen die blou lug.
Die breëblaar witgat (Boscia mossambicensis) staan kordaat wag teen die rotshange. Op dag 2 stap jy deur 'n appelblaarwoud, deur 'n mopaniewoud en jy besef hoe niksbeduidend jou bestaan is in die skaduwee van 'n 30 meter hoë anaboom (Faidherbia albida) in die Huabrivier.
'n Reuse-louriervy (Ficus ilicina) het koelte en rusplek vir stappers deur 'n rots geskeur. In die Huab het die hardekoolbome sprokiesreuse geword met 'n stamomvang van tot sewe meter.
Buiten die gesiene grotes is dit die opstandingsbossie of wonderbossie (Myrothamnus flabellifolus) wat jou leer om nie handdoek in te gooi nie.
ROTSKLIM
Laat weet vir Con as julle rotsklimmers is, sodat hy plan kan maak om vir Drickus Bezuidenhout, eertydse rotsklimkoördineerder van die Oos-Kaapse Bergklimklub SA saam te stuur.
Drickus klim al van 1995 af en hy reken hierdie gasteplaas hou meer “bouldering” of rotsblokklouter in oor die 34 granietkoppies wat ook die potensiaal van goeie granietwande insluit.
Daar is baie moontlikhede, maar julle sal dit so saam met Drickus algaande ontwikkel in sportroetes en tradisionele roetes.
As jy weer kom, dra 'n rotswand jou naam!
Ek is versigtig vir die staproete in die snik van die somer, maar as jy neffens die oggendster begin stap en rus onder die reuse as die son begin byt, kan jy wen. Eerlike waarheid: Wag vir die herfs.
Bly in die omgewing vir 'n week want hierna kan jy die versteende woud, die vingerklip en die orrelpype besigtig, rotstekeninge by Twyfelfontein opspoor of by die luukse Grootberg Lodge oornag.
Skakel vir Con Swart op Whatsapp by 081 127 5875 en sê julle kom.
* Anné is 'n onderwyseres en vryskutskrywer van Otjiwarongo.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie