Stapelvoedsel duurder in September
Inflasie wat ál hoër mik en die invloed wat dit op die volhoubaarheid van rentekoerse het, word stip deur die sentrale bank dopgehou.
Jo-Maré Duddy – Hoër insetkoste, aangevuur deur stygende pryse plaaslik en internasionaal, het Namib Mills genoop om sy stapelvoedselprodukte van volgende maand duurder te maak.
Op 1 September styg dié Namibiese vervaardiger se pryse op sy pastaprodukte met 2%, buiten vir Polana Pasta, wat 6% meer gaan kos. Rys word 4% duurder en die prys van ander produkte styg as volg: Suiker (3%), mahangu (2%), brood (3%), meel (3%) en brouersgis (2%).
Namib Mills se finansiële bestuurder, mnr. ST Ackermann, skryf die stygings onder meer toe aan stygende brandstof- en kragpryse, asook hoër algehele inflasie. Laasgenoemde beïnvloed salaris- en loonverhogings, asook die algehele uitgawes van die maatskappy.
Die brandstofprys in Namibië het die afgelope nege maande met 19% opgeskiet. Namib Mills se direkte verspreidingskoste het gevolglik met 8% gestyg, aldus Ackermann.
“Tot op hede het ons nog nie dié styging in ons verkooppryse verhaal nie,” sê hy.
Elektrisiteitstariewe – ‘n groot komponent van die vervaardiger se kostestruktuur – het met 2,92% verhoog.
EKSTERNE FAKTORE
Buitelandse faktore het ook die prysverhogings genoodsaak.
Volgens Ackermann ervaar die verskepingsbedryf wêreldwyd tans ‘n tekort aan vraghouers en dit het ‘n “massiewe styging” in skeepstariewe veroorsaak.
“Die verhoogde verskepingskoste het beduidende prysstygings tot gevolg in kommoditeite wat per skepe vervoer word. Namib Mills voer die meeste van sy koring, suiker en rys oorsee met skepe in,” sê Ackermann.
Warm en droë weerstoestande in die vernaamste produksiegebiede vir koring met ‘n hoë proteïen-inhoud het oeste met 35% teenoor die vorige jaar laat krimp. Oeste was voorts 32% kleiner as die gemiddeld die afgelope vyf jaar.
Die gevolglike tekort het dus die invoerkoste van rou koring en koringverwante produkte verhoog.
Ernstige uitdagings in die buurland se suikerbedryf het gelei tot ‘n prysstyging van 2,4% deur die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (Sasa).
PRYSMONSTER
Teen 4,0% was Namibië se algehele inflasiekoers verlede maand amper dubbel dié van Julie 2020.
Die president van die Bank of Namibia (BoN), mnr. Johannes !Gawaxab, het gister tydens die sentrale bank se monetêre beleidsaankondiging gesê stygende inflasie is toenemend ‘n risiko vir die volhoubaarheid van die huidige vlak van die repokoers.
Die BoN het nietemin sy repo – die koers waarteen dit geld aan handelsbanke leen – onveranderd op 3,75% gelaat. Dit beteken die prima-uitleenkoers van plaaslike handelsbanke van 7,5% bly dieselfde.
!Gawaxab het egter bygevoeg dat die BoN se monetêre beleidskomitee (MPC) die situasie “fyn monitor”.
Voedsel is die tweede grootste item waarop Namibiërs geld bestee, naas behuising, water en krag.
Volgens die Namibië Statistiekagentskap (NSA) gee die verbruiker gemiddeld 16,45% van sy besteebare inkomste hierop uit.
Hoewel Julie se algehele voedselinflasie van 6,5% nie baie hoër as die 6,2% van ‘n jaar terug was nie, het inflasie vir brood en graanprodukte van 1,2% na 4,1% gespring. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie