Stappe teen Steinhoff kan binne 2 maande kom
’n Finansiële waghond gaan glo binnekort ’n vervolging in ’n saak oor binnehandel by die maatskappy aankondig.
Nellie Brand-Jonker – Die nuwe Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het gesê stappe kan binne die komende twee maande teen Steinhoff gedoen word oor die vals en misleidende inligting wat die maatskappy aan beleggers uitgereik het.
Die maatskappy het al meer as ’n jaar gelede aangekondig twee van sy boekjare se finansiële jaarstate is nie meer geldig nie.
Dit is ingevolge die Wet op Finansiële Markte ’n oortreding om vals en misleidende inligting aan beleggers uit te reik.
Brandon Topham, nuwe hoof van ondersoeke en wetstoepassing van die FSCA, het Maandag in Kaapstad ook beloof hy gaan seker maak individue wat by die publikasie van die vals en misleidende inligting betrek word, gaan strafregtelik ingevolge dié wet aangekla word.
Volgens hom gaan die FSCA ook binne die komende twee maande ’n vervolging in ’n saak oor binnehandel by Steinhoff aankondig.
Die FSCA het in Desember gesê ’n ondersoek oor binnehandel fokus op aandele wat van November tot Desember 2017 verkoop is in verskeie rekeninge wat aan individue, trusts en korporatiewe entiteite behoort.
Topham het erken daar was ’n afhanklikheid van verskeie reguleerders in Suid-Afrika van die bevindings van die forensiese ondersoek wat deur PwC uitgevoer word oor die beweerde ongerymdhede met die maatskappy se boeke “omdat Steinhoff ’n uiters gekompliseerde groepstruktuur het en alle aanduidings daar is dat bedrog betrokke is’’.
Topham het gesê hy het ook verneem Steinhoff gaan nie meer die volle forensiese verslag van PwC bekend maak nie.
Volgens hom het die FSCA volgende week ’n vergadering met Steinhoff om die kwessie te bespreek en oor watter inhoud van die verslag hulle toegang toe kry en wat nie.
“Steinhoff het ons hul volle samewerking aangebied. Die huidige direksie het tot hede hul volle samewerking belowe. My interpretasie daarvan is jy gee ons wat ons vra, plus wat ons nie voor vra nie wat relevant is.’’
Hy het daarna verwys dat ’n boete wat ’n maatskappy of individu opgelê kan word, verminder kan word deur die mate van samewerking wat verskaf word vir die ondersoek.
“Jy kan óf ’n reuseboete óf ’n groot boete kry as jy skuldig is daaraan om vals of misleidende inligting te publiseer. En daar is geen twyfel dat ’n entiteit wat op Sens dit gepubliseer het ’n groot risiko daarvoor het nie.
Wanneer vals en misleidende inligting aan beleggers uitgereik word, kan ’n maatskappy vervolg word asook enige individue wat betrokke was by die publikasie van die inligting.
Hy het gesê dit is te vroeg om te sê watter individue by Steinhoff moontlik vervolg gaan word.
Daar is veral staatgemaak op die PwC-verslag ten opsigte van die individue wat vervolg gaan word.
“Maar as ons dit (die verslag) nie binnekort kry nie, gaan ons voort daarsonder.’’
Topham het gesê sy benadering is ook om nie te wag vir die PwC-verslag nie.
“Ons sal voortgaan met of sonder die PwC-verslag. As ons dit nie kry nie, gaan daar duidelik ’n paar komplikasies vir ons wees, maar ons gaan met of daarsonder voortgaan.
“Ons het nie net daarvoor gewag nie, ons het ook ons eie ondersoek onderweg en het ons eie verklarings gekry.’’
Topham het gesê sodra ’n administratiewe bevinding gemaak word deur sy afdeling, word die persoon daarvan ingelig “en terselfdertyd gaan ek ’n strafregtelike saak open ten opsigte van die strafregtelike oortreding ingevolge ons wet”.
“Selfs al appelleer die persoon teen die bevinding, gaan ons voort om ’n klag aanhangig te maak.’’
Topham het gesê die FSCA sal enige ondersoek van die polisie ondersteun met inligting wat versoek word. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie