Starlile beklink naelbyt sege

Sokker
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die sokkerklub African Stars het Saterdagaand die eindstryd van die 2018 Debmarine-beker met 1-0 teen Unam by die Sam Nujoma-stadion in Windhoek ingepalm, hoewel die wenspan eers vir 75 minute moes sweet voordat Treasure Kauapirura die wendoel behaal het.

In ’n opwindende skaakspel van 90 minute het beide spanne se spelers hul lywe in ’n brutale botsing in ’n stampvol stadion op die spel geplaas.

As dit nie vir Starlile se rotsvaste verdediging was, kon die telling heel moontlik anders gelyk het. Maar die rekordboeke sal sê dat Starlile vir die derde keer (ook in 2013 en 2014) die Namibiese Sokkervereniging se NSV-trofee ingepalm het wat vanaf 2013 deur Bidvest en nou deur Debmarine Namibië geborg word.

Unam het in die eerste helfte goed aangeval en gedomineer met aanvalle langs die kantlyn af en het ná 45 minute ’n “doel” behaal (Manchester Macgyver) wat nie toegeken is nie. Volgens die skeidsregters is die bal deur een van die spelers met die hand hanteer.

In die tweede helfte het Starlile sterker as ’n eenheid na vore gekom en die balbesit begin oorheers.

Die druk was eenvoudig te groot vir Unam se verdediging toe Treasure Kauapirura, plaasvervanger vir Alfeus Handura, ’n hoekskop van Edwin Korokuve teen die doelnet laat klap.

Unam het alles in sy vermoë gedoen om die telling gelyk te maak, maar met die minute wat verby tik, vermors Marcel Papama en kaptein Heini Isaacks ’n vryskop, wat hulle duur te staan kom.

Unam se laaste doelpoging deur Edmund Kambanda word wonderbaarlik deur Ratanda Mbazuvara, doelwagter van Stars, se uitgestrekte regterbeen gekeer, met die eindfluitjie wat kort daarna tot die uitspattige vreugde van Stars se ondersteuners blaas.

Met Stars se oorwinning Saterdag, asook die 2018 MTC Namibiese Premierliga-kroon in die sak, het hy sy status as die onbetwiste klubkampioen van Namibië onderstreep.

Bobby Samaria, hoofafrigter van Stars, is as die beste afrigter (N$15 000) van die kompetisie beloon, terwyl Godwin Jena (Stars) en Donald Geiseb (Civics) die prys van N$20 000 as die voorste doelskoppers gedeel het. Beide het agt doel aangeteken.

Ratanda Mbazuvura, doelwagter van Stars, is as die beste in sy klas bekroon (N$15 00), terwyl die hardwerkende buksie Marcel Papama van Unam as die beste speler van die kampioenskap met N$20 000 weggestap het.
Papama is ook Saterdag eenparig deur die media as speler van die wedstryd (N$5 000) gekies vir die enorme bydrae wat hy vir sy span gelewer het.

Beamptes is ook vir hul rol in die toernooi erken met skeidsregter Nehemia Shovaleka wat as die beste aangewys is (N$10 000) en Isaskar Boois was as bobaas assistentskeidsregter N$10 000 ontvang het. Met Stars se oorwinning word die klub se bankbalans met N$500 000 versterk, terwyl Unam as troosprys N$250 000 ontvang.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!