Stasi-vuis ‘beheer’ miljoene inwoners vir vier dekades

Die Stasi-museum in Berlyn is ’n tasbare terugblik op die ministerie van staatsveiligheid en sy onverbloemde strewe om die staat te beskerm en die bevolking te beheer.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – In ’n neutedop wys dit hoe die lang arm en ystervuis van ’n ministerie en bewind vir 40 jaar miljoene mense geïndoktrineer en beheer het, met enige teken of intensie van weerstand wat summier onderdruk is.

Dié geskiedenis skop af in 1949 toe die Duitse kommuniste met die hulp van die Sowjetunie die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) stig. Aan die hoof van die staat staan die Sosialistiese Eenheidsparty (SED) en onder die beskerming van die Sowjet-besettingskrag vestig die SED ’n bewind wat op die diktatorskap in die Sowjetunie gebaseer is. Geen vrye verkiesings nie en die regsbank word deur die SED beheer wat ’n uitgebreide veiligheidstelsel geskep het om sy houvas te verseker. Die ministerie van staatsveiligheid (MfS) oftewel die Stasi is op 8 Februarie 1950 gestig en was die party se sentrale pilaar.

Die MfS het homself bestempel as die “swaard en skild van die party” en is die taak opgelê om “ongewenste en vyandige elemente” te verwyder.

Die MfS was ’n politieke geheime polisie, agentskap vir misdaadondersoeke en buitelandse intelligensiediens, alles in een, en is aanvanklik deur die Sowjetunie bestuur. In 1957 word Erich Mielke as minister aangewys en kry die SED ’n nog groter houvas op staatsveiligheid.

Dwarsdeur die DDR se bestaan het lede van die SED en MfS die basiese idee versprei dat die republiek onder ’n konstante bedreiging van die kapitalistiese en imperialistiese “vyand” in die Weste was.

Daar is volgehou ekonomiese mislukkings in die republiek was die “werk van ongediertes” en westelike sabotasie. Kritiese menings, onkonvensionele leefstyle en opposisionele gedrag deur lede van die bevolking is as “vyandige, negatiewe manifestasies” beskou wat deur “Westerse manipuleerders” beheer is. Dit was die werk van die ministerie van staatsveiligheid om uit te vind wie dié mense was en hulle “onskadelik” te stel sodat sulke optrede in die toekoms vermy kon word. In dié verband is veral aandag aan die Federale Republiek van Duitsland gegee.

Die SED en MfS het nie net dié beeld van die vyand gepropageer nie, maar het dit vas oortuig as die waarheid bestempel. Deur te glo hulle was omring deur vyande, het hulle hul eie oortuiging versterk dat permanente waaksaamheid en ’n volgehoue verdediging absoluut noodsaaklik is.

In sy kern was dit die MfS se doelwit om te verseker die SED se mag bly dieselfde. Die voorwaardes vir optrede het egter soos die tyd verloop het, verander in reaksie op gebeure op die binnelandse sowel as buitelandse front. Of daar gereageer is op ’n politieke krisis in die DDR en ander Oosbloklande, of die verandering van verhoudinge tussen Oos en Wes sedert die 1970’s, het die Stasi voortdurend sy werkmetodes en raamwerk verander om aan te pas by nuwe eise om sodoende die houvas en stabiliteit van die SED-heerskappy te verseker.

’n Groter aanvraag na personeel het na vore gekom soos nuwe metodes vir intimidasie en dissipline ontwikkel en voorkomingsmaatreëls ingestel is. Nuwe dienseenhede en werksgebiede is ook geskep om op struktuurvlak die invloed van die Stasi te verhoog.

Sowat 2,7 miljoen mense het die DDR tussen 1949 en 1961 verlaat.

Die meeste het die grens tussen Oos en Wes oorgesteek wat oop gebly het. Deur “met hul voete te stem”, is die bestaansreg van die SED-staat bevraagteken. Op die vooraand van 13 Augustus 1961 het die SED-leierskap die grens aan die kant van Wes-Berlyn afgesper. Hindernisse in die pad is gou deur die Berlynse muur vervang en die SED het ’n swaargewapende grensstelsel ingestel om miljoene mense binne die land te hou.

Die Berlynse muur sou op die ou einde die lewe van ten minste 138 mense eis. Die konstruksie van die muur het vir nuwe verantwoordelikhede vir die Stasi gesorg. Nou moes dit die grens ver binne die DDR beveilig, “ontsnappings uit die republiek” hokslaan en sterftes toesmeer wat langs die grensvestings plaasgevind het.

In Junie 1953 kom mense in meer as 700 stede en dorpe in die DDR in opstand teen materiële tekorte, salarisbesnoeiings en politieke vervolging. Die opstande het die SED en die MfS onverhoeds betrap.

Sowjet-tenkwaens moes ingebring word om die opstande te onderdruk, met die hoof van die Stasi wat in die daaropvolgende maand gedwing word om te bedank. Sy opvolger het die “inligtingsgroepe van die MfS” in die lewe geroep om te keer dat soortgelyke “onvoorsiene optrede” weer gebeur. Die nuwe inligtingsgroepe het op gereelde basis verslae oor die veiligheidsituasie aan die party en staat se leierskap voorsien. Dit sou ook die basis vorm vir die Sentrale Evolusie en Inligtingsgroep (ZAIG) wat later gevorm is.

Alexander Dubcek, die nuwe hoof van die Kommunistiese Party, kondig in 1968 breedvoerige hervomings in sy land, Tsjeggo-Slowakye, aan. Die doel was om “’n menslike gesig aan sosialisme” te gee. Dié hervormingseksperiment is egter met geweld onderdruk. Die Sowjetunie en al sy bondgenote – Hongarye, Poland en Bulgarye – stuur op 21 Augustus 1968 troepe na Tsjeggo-Slowakye met Sowjet-tenkwaens wat Praag se strate oorneem en Dubcek wat uit sy amp onthef word.

Die SED vrees die idees van die bogenoemde Praag Lente kan na die DDR versprei, met die Stasi wat nougeset die geringste tekens van solidariteit onderdruk. Vir die Stasi het die jaar 1968 meer bewyse gelewer dat die “vyand” vele gesigte het en orals op die loer lê.

Op 3 September 1971 onderteken die Geallieerde Magte – Amerika, die Sowjetunie, Groot Brittanje en Frankryk – die Vier Magte-ooreenkoms oor Berlyn. Die verdrag herbevestig die verbintenis tussen Wes-Berlyn en die Federale Republiek van Duitsland. Voorts verslap dit reis- en besoekregulasies tussen Wes- en Oos-Berlyn en die DDR. In 1972 stem die Federale Republiek en die DDR in tot die Oorgangs-ooreenkoms en die Basiese Verdrag wat verder die situasie ontlont. Dié veranderinge sorg vir nuwe verantwoordelikhede vir die Stasi. Die oorgangspaaie moes beheer word en reisigers wat aankom en vertrek, moes gemonitor word. Hoofdepartement VI wat in 1970 gevestig is, is in beheer van die nuwe take geplaas. Die departement het nou saam met die polisie, doeanebeamptes en ander eenhede gewerk.

In 1989 het die leierskapvlak van die MfS grootliks uit mans bestaan wat tussen 1920 en 1940 gebore is, die meeste uit werkersklas kommunistiese families en wat net primêre skoolopleiding agter hul name gehad het. Baie het van die People’s Police oftewel die FDJ, die DDR se nasionale jeugorganisasie, by die MfS aangesluit. Werknemers kon die leer klim, sou hulle politieke lojaliteit tot die party toon en aan die kriteria van die Stasi se veiligheidspolisie voldoen.

Om die SED se heerskappy te verstewig, het die staatsveiligheid ’n uitgebreide wapenarsenaal tot sy beskikking gehad. Die militêre karakter van die Stasi is die duidelikste deur die Felix Dzerzhinsky-regimentwagte weerspieël. Ander eenhede soos die “spesiale magte” van die minister se Werkgroep (AGM/S) is egter ook toegerus om gewapende konflikte te hanteer. Nadat die SED-leierskap simpatie met die bloedige onderdrukking van die Chinese beweging vir demokrasie in Junie 1989 betoon, is daar verhoogde vrese dat die MfS moontlik gewapende magte teen die burgerbeweging in die DDR sal gebruik.

Die MfS het “gewapende elemente” in die DDR behoort en het ’n streng militêre organisasiestruktuur gevolg. ’n Uniform en ’n wapen is aan amptelike werknemers uitgereik, met die “permanente wapendraers”, gewoonlik hoëvlak-offisiere, wat toegelaat is om ten alle tye hul wapens te dra.

Stasi-werknemers was oor die algemeen nie maklik uitkenbaar in die openbaar nie. Hulle het gewone drag gedrag of dikwels hulself as polisie- of brandweerlede in geheime operasies vermom. Net die Felix Dzerzhinsky-regimentwagte, die militêre operasionele arm van die MfS, het openlik as ’n gewapende eenheid in uniform in die openbaar verskyn.

MfS-werknemers moes hul werksaamhede geheim hou, selfs vir hul gesinne, en om oor jou dag by die werk te praat, was verbode. Rolle in die familie was gewoonlik tradisioneel. Vroue was vir die grootmaak van die kinders en die onderhoud van die familiewoning verantwoordelik.

Die Stasi het ’n “regte huwelik” as noodsaaklik beskou om sy werknemers te “stabiliseer” en het dikwels die vroue en kinders van werknemers aangemoedig om ook vir die organisasie te werk. Werknemers van die Stasi het bogemiddelde salarisse ontvang asook ’n hele aantal byvoordele geniet. Die MfS het ook sowat 300 ontspanningsentrums, verskeie kleuterskole, tuistes vir bejaardes, sy eie hospitaalsale en tot winkels gehad. In Oos-Berlyn alleen was tot 18 000 woonstelle tot sy beskikking. Dié stelsel van voordele het gesorg MfS-personeel is tevrede en werknemers het mekaar op die Stasi-pad gehou.

Dissiplinêre stappe is teen enige persoon gedoen wat gewaag het om af te wyk van die MfS se gedragskode en werkregulasies. Veral dié wat as “verraaiers” bestempel is en “in die hande van die vyand gespeel het”, was daar spesiale strawwe.

Natuurlik was daar ook spesiale toerusting wat gebruik is om geheime foto’s te neem en telefoongesprekke af te luister. “Bewegingsprofiele” is geskep waarin aangeteken is wie was op watter tyd waar. Afluisterapparate is in private woonstelle geïnstalleer wat beteken het inwoners was selfs in hul eie huise nie ver van die oë en ore van die Stasi nie.

In verspreidingsentrums en doeanekantore het Departement M inkomende pos en wat van pakkies tot telegramme ingesluit het, in aparte, afgesonderde kantore hanteer. Uitgebreide kaartlêers is geopen waarin die name van beide die afsender en die ontvanger, sowel as hul posadresse in die DDR en die buiteland aangeteken is. Items wat deur ander dienseenhede gebruik kon word, is summier teruggehou.

Die staat het opgehou ingryp toe grootskaalse betogings op 9 Oktober 1989 in Leipzig begin. Toe die speaker van die SED Politburo op dié dag op televisie aankondig besoeke aan die Weste is weer moontlik en kan onmiddellik begin, stroom duisende na die grens en dwing die opening van ’n paar grensposte na Wes-Berlyn af. Die SED kon nie meer op die Sowjetunie en sy tenkwaens staatmaak om sy mag te behou nie, terwyl inwoners van die DDR in opstand kom teen “bedrieglike plaaslike verkiesings”.

Op 18 Oktober word die algemene sekretaris van die SED se Sentrale Komitee in die pad gesteek en op 7 November bedank die DDR se raad van ministers. Die grens word op 9 November oopgemaak, met inwoners dat die MfS ontbind en sy werksaamhede ondersoek word.

*Bron: Stasimuseum Berlin

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!