Steenkool sal volgens plan afskaal, su00ea Gwede
Steenkool sal volgens plan afskaal, su00ea Gwede

Steenkool sal volgens plan afskaal, sê Gwede

Francois Williams – Hernieubare energie lewer nou 2,4% van Suid-Afrika se energie, en met die gepubliseerde skedule vir die aftakeling van die ou steenkoolkragstasies, sal die bydrae van hernieubare energie stelselmatig toeneem om kweekhuisgasvrystellings te verminder.

Gwede Mantashe, minister van minerale en energie, het Woensdag in vraetyd in die parlement probeer verduidelik hoe die nuwe geïntegreerde hulpbronplan toegepas gaan word.

Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor energie, het Mantashe gewys op die besoedelingsvlakke van steenkool.

Hy wou weet presies wanneer die volgende bodronde vir groenkragaankope sal begin.

Volgens Mantashe is dit nie ’n kwessie van ’n keuse tussen steenkool en hernieubare energie nie, maar hy kon steeds nie aan Mileham ’n tyd gee wanneer die vyfde ronde vir groenkragaankope sal begin nie.

Die gebruik van fossielbrandstowwe sal eers teen 2030 ’n toppunt bereik, maar Mantashe het gesê Suid-Afrika is geseën met steenkoolreserwes en moet dit gebruik. Dit gaan nie oor 30 jaar opgebruik wees nie, en daarom sal steenkool steeds gebruik word.

Maar kragtegnologie wat minder kweekhuisgasse vrystel sal wel stelselmatig by steenkool oorneem op ’n manier waarop gemeenskappe rondom bestaande steenkoolbedrywighede nie geskaad word nie – in die sogenaamde billike oorgang, het hy verduidelik.

Windkrag sal teen 2030 18% van Suid-Afrika se krag lewer, het Mantashe belowe.

Hy het herhaal dat die eerste groenkragprojekte baie duur was. Sonkrag wat in die eerste ronde van die regering se groenkragprogram gekontrakteer is, kos R4 per kWh. Dit is net die laaste ronde van groenkrag waar koste tot onder R1 gedaal het, het Mantashe gesê.

Intussen het Tito Mboweni, minister van finansies, vrae aan hom oor die herstel van ekonomiese groei gesystap en gesê parlementslede moenie probeer om dinge vooruit te loop oor wat hy volgende week by die mediumtermynbegrotingsraamwerkrede gaan sê nie.

Oor die vraag van Floyd Shivambu van die EFF oor die bekwaamheid al dan nie van die huidige Eskom-leierskap, het Mboweni gesê ’n nuwe uitvoerende hoof van Eskom sal binnekort aangekondig word.

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, het gesê min het al geword van die lys dringende take wat pres. Cyril Ramaphosa voorheen aangekondig het om die ekonomie aan die gang te kry. Hy wou by Mboweni weet wie in die regering belemmer die uitvoering van dié take, maar Mboweni wou nie byt aan dié vraag nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!