• Tuisblad
  • Sake
  • Steinhoff: 4 nuwe direkteure kry R62,3 m. per jaar

Steinhoff: 4 nuwe direkteure kry R62,3 m. per jaar

Die vergoeding wat Steinhoff se nuwe direkteure sal ontvang is weer in die kollig.
Nellie Brand-Jonker

Steinhoff se beleggers kry Vrydag die geleentheid om oor die aanstelling van vier nuwe direkteure in die besturende direksie te stem.

Dié vier sal altesame R62,3 miljoen oor die volgende jaar betaal word.

Steinhoff het onlangs onder druk geswig en die resolusie oor die vergoeding van sy toesighoudende direksie van die agenda van die jaarvergadering verwyder. Dit was omdat sekere toesighoudende direkteure bykomende vergoeding sou kry vir hul harde werk sedert die krisis in Desember by die maatskappy aan die lig gekom het.

Hoewel aandeelhouers nie oor die vergoeding van die nuwe besturende direkteure kan stem nie, wys die agenda wat hulle gaan verdien.

Netwerk24 het hul vaste vergoeding wat in euro aangetoon word, teen die jongste wisselkoers in rand omgeskakel.

Danie van der Merwe, wat as uitvoerende hoof waarneem sedert Markus Jooste in Desember onder ’n wolk bedank het, het in die boekjaar tot einde September 2016 ’n basiese salaris van €1,35 miljoen (sowat R20 miljoen) verdien en met sy bonusse ingesluit €2,8 miljoen (sowat R42 miljoen).

Dis nie bekend wat hy die afgelope jaar verdien het nie omdat dié jaarstate nog nie uitgereik is nie, en die groep het nie bekend gemaak wat hy in die volgende jaar gaan verdien nie.

Die vyf besturende direkteure – Van der Merwe en die vier nuwes – gaan die maatskappy meer per jaar kos as sy besturende direksie van drie in 2016. As Van der Merwe se salaris stilgestaan het, sal die besturende direksie in die huidige boekjaar ’n vaste vergoeding van R82 miljoen verdien.

Van der Merwe is die enigste lid van die 2016- besturende direksie wat steeds daarin dien.

Al vier die nuwe direkteure word vir ’n termyn van vier jaar benoem en kom in aanmerking vir bonusse as sekere mylpale bereik word. Daar word nie meer inligting gegee oor wat die teikens vir die bonusse is nie.

Die vier nuwe direkteure is:

Philip Dieperink (61), ’n Suid-Afrikaanse en Nederlandse burger: Sy jaarlikse vaste vergoeding sal €1,5 miljoen (sowat R22 miljoen) beloop. Hy is op 4 Januarie as die waarnemende finansiële hoof aangestel hangende sy aanstelling in die besturende direksie toe Ben la Grange bedank het.

La Grange is blykbaar nog by die groep om onder meer die jaarstate van 2017 af te handel. Dit is nie bekend of sy vergoeding onveranderd gehou is nie. Hy het in die jongste boekjaar waarvoor state beskikbaar is €1,1 miljoen as basiese vergoeding verdien en €2,4 miljoen saam met bonusse.

Dieperink het ’n honneursgraad in rekenkunde aan die Universiteit van Pretoria verwerf en is in 1980 by Deloitte aangestel waar hy in 1981 as ’n geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer het.

Hy het in 1987 ’n belastingvennoot geword.

Hierna is hy na Unitrans waar hy tien jaar lank by die strategiese rigting en groei betrokke was totdat Steinhoff die maatskappy in 2007 gekoop het. Hy was in verskeie ander rolle in die Steinhoff-groep en dien onder meer in die direksie van Steinhoff Asia Pacific en Cofel. Hy het in 2007 na Brittanje verhuis waar hy as finansiële hoof van Steinhoff UK Holdings aangestel is

Theodore Le Roux de Klerk (48): Sy jaarlikse vergoeding sal €700 000 (sowat R10 miljoen) beloop. Hy is ’n Suid-Afrikaner wat sy klerkskap by Ernst & Young voltooi het en vier jaar as ’n belastingkonsultant gewerk het. Hy het toe vir Murray & Roberts as finansiële direkteur van sy mariene-konstruksie-onderneming gewerk en vyf jaar by Gensec Investment Bank as deel van korporatiewe adviesdienste waar hy op samesmeltings en verkrygings, en kapitaalinsameling, gefokus het. In 2008 is hy aangestel as uitvoerende hoof van SteinBuild, Steinhoff se boumateriaalonderneming. Hy het in dié pos gedien tot 2015. Hy is tans ’n direkteur van verskeie Steinhoff-bedryfsmaatskappye en bestuur ’n aantal strategiese projekte namens Steinhoff. Hy is sedert Oktober 2017 ’n nie-uitvoerende direkteur van KAP Industrial.

Alexandre Nodale (40), ’n Fransman: Sy jaarlikse vaste vergoeding sal €1 miljoen (sowat R16 miljoen) beloop. Hy is van 2009 by die Conforama-groep as adjunkdirekteur in beheer van finansies. In 2012 het hy die adjunk- uitvoerende hoof geword en in 2015 die uitvoerende hoof. Conforama is deur Steinhoff aangeskaf. Nodale is op 19 Desember as adjunk- uitvoerende hoof van Steinhoff aangestel. Hy sal steeds as uitvoerende hoof van Conforama dien en sy jaarlikse vergoeding sluit dít in.

Louis du Preez (48), ’n Suid-Afrikaner: Sy jaarlikse vaste vergoeding beloop €1 miljoen (sowat R16 miljoen). Hy het ’n BCom LLB-graad van die Universiteit Stellenbosch verwerf en is in 1997 ná sy klerkskap tot die balie toegelaat. Hy het by Jan S. de Villiers begin werk en is in 1998 as vennoot aangestel.

Ná die samesmelting met Werksmans in 2009 het hy lid van die uitvoerende komitee van die firma geword tot vroeg in 2017. Hy is middel 2017 na Steinhoff as algemene raadgewer en is op 19 Desember as kommersiële direkteur en lid van die besturende direksie aangestel hangende sy verkiesing op die jaarvergadering.

Hy is sedert Oktober 2017 ’n nie-uitvoerende direkteur van KAP Industrial, wat gedeeltelik deur Steinhoff besit word. Hy is ook sedert Januarie ’n nie-uitvoerende direkteur van Steinhoff Africa Retail.

As hul weë van die maatskappy skei, kry hulle ’n skeidingspakket wat gelykstaande aan hul vaste jaarlikse vergoeding is.

Al vier het aandele in die maatskappy.

Die drie direkteure van die voormalige besturende direksie (Jooste, Van der Merwe en La Grange) het in die boekjaar tot einde September 2016 ’n basiese salaris van altesame R77,1 miljoen verdien. Met hul bonusse ingereken, het hulle saam R160 miljoen verdien, luidens die jaarverslag. Dit sluit in uitgestelde bonusse. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer