Steinhoff: Binnehandel deur meer as 60 ondersoek
Die stof wil maar eenmaal nie gaan lê oor die gekonkel wat by Steinhoff aan die gang was nie.
Nellie Brand-Jonker - Die nuwe Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) in Suid-Afrika maak vordering met die ondersoek na binnehandel deur meer as 60 aandeelhouers van Steinhoff.
Tientalle van dié aandeelhouers is waarskynlik die afgelope maande gedagvaar deur die FSCA se direktoraat vir markmisbruik om oor beweerde binnehandel te getuig.
Die FSCA het vandeesweek by navraag gesê hy vorder met die ondersoek.
Alex Pascoe, die direktoraat se hoof van ondersoeke, het einde Maart op ’n sitting van vier parlementêre portefeuljekomitees oor Steinhoff gesê hy behartig vier ondersoeke wat met Steinhoff verband hou.
Drie daarvan hou met potensiële binnehandel verband.
Een gaan oor aandele wat tussen September en Desember verkoop is. Meer as 60 aandelerekeninge is hierby betrokke.
“Hierdie rekeninge behoort aan verskillende individue, trusts en korporatiewe entiteite, en sommige daarvan is oorsee gesetel.
“Ons bepaal of hierdie rekeninge verband hou met Steinhoff of enige van sy uitvoerende beamptes of met verwante partye aan Steinhoff.”
Sedert Desember was daar verskeie onbevestigde gerugte dat sommige partye voor 6 Desember ingelig is dat daar probleme by die maatskappy is, en dat hulle toe hul aandele verkoop het.
Pascoe het in die parlement gesê weens die omvang van die ondersoek sal dit waarskynlik eers teen die einde van die jaar afgehandel wees. Hy het vandeesweek by navraag gesê die FSCA gaan voort om getuies en verdagtes in al die ondersoeke te roep.
Nog ’n ondersoek na binnehandel hou verband met verhandeling in ’n buitelandse rekening voor die publikasie van ’n berig in Augustus verlede jaar. Dit is waarskynlik ’n verwysing na ’n berig in die Duitse tydskrif Manager Magazin op 24 Augustus dat Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, deur die Duitse owerhede gesoek word weens beweerde bedrog.
Steinhoff se aandeelprys het daardie Donderdag in ’n stadium met 17% geval.
Volgens Pascoe word dié aandelerekening deur ’n buitelandse entiteit besit. “Ons ondersoek of enige ongepubliseerde pryssensitiewe inligting voor die publikasie beskikbaar was.”
Die FSCA werk met die finansiële owerhede van Duitsland, Amerika en Brittanje saam om die nodige inligting hieroor te verkry.
Pascoe sê die grootste ondersoek is of Steinhoff vals en misleidende stellings aan aandeelhouers gemaak het. Dit hou verband met die 2015- en 2016-jaarstate, asook die tussentydse resultate tot einde Maart 2017.
Die FSCA moet wag vir die heropgestelde state om te bepaal watter wanvoorstellings gemaak is, en “wie daarvan moes geweet het”.
Terwyl die FSCA hiervoor wag, word bewyse van die finansiële owerhede van Nederland, Duitsland en Brittanje ingesamel.
“Verskeie getuies en topbestuurslede van Steinhoff is reeds ondervra en ons het dagvaardings uitgereik vir die ondervraging van nog – sowel huidige as voormalige – topbestuurslede.”
Dagvaardings word ook uitgereik vir ander getuies wat met die ondersoek kan help. Jooste is ook gedagvaar om te getuig, maar dit is nie bekend of hy dit reeds gedoen het nie.
Die vierde ondersoek hou ook verband met binnehandel en wanvoorstellings. Dit handel oor ’n verslag wat in Desember gepubliseer is nadat Steinhoff op die JSE se nuusdiens, Sens, onthul het daar is ongerymdhede met sy boeke en dat Jooste bedank het as uitvoerende hoof.
“Die verslag is deur ’n buitelandse navorsingsmaatskappy uitgereik wat dalk toe kortposisies in Steinhoff se aandele gehad het.”
Hy het nie ’n naam genoem nie, maar dit is bekend dat die kortverkoper Viceroy ’n verslag uitgereik het en dat dit ondersoek word.
By navraag of die FSCA kontak kon maak met Viceroy, het hy net gesê hulle samel nog inligting in en die ondersoek gaan voort. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie