Steinhoff dagvaar Markus Jooste
Steinhoff dagvaar Markus Jooste

Steinhoff dagvaar Markus Jooste

Nellie Brand-Jonker – Steinhoff het ’n aansoek in die hooggeregshof gebring om sy voormalige uitvoerende hoof, Markus Jooste, as ’n party tot die eis te voeg wat deur die voormalige eienaars van Tekkie Town teen die maatskappy gebring is.

Die aansoek is Vrydag in die hooggeregshof in Kaapstad gebring.

Dit is die eerste keer wat Steinhoff ’n hof in Suid-Afrika versoek om Jooste as ’n derde party by ’n eis te voeg.

Jooste het tien dae om aan te dui of hy die aansoek gaan teenstaan en dan nog 20 dae om sy verweer teen die eis, of teen Steinhoff se aansoek, in te dien.

Bernard Mostert, een van die voormalige eienaars van Tekkie Town wat die eis in Mei 2018 teen Steinhoff gebring het, het by navraag gesê dit beteken wanneer hul eis slaag, Steinhoff op sy beurt ’n eis teen Jooste wil instel.

Steinhoff voer in die hofstukke aan as die eis teen hom slaag, dat Jooste dan aan hom aanspreeklik is vir die bedrag waarvoor die maatskappy aanspreeklik is.

Braam van Huyssteen, die stigter van Tekkie Town, Mostert en drie ander voormalige eienaars eis hul belang in die maatskappy terug, of alternatiewelik die betaling van altesaam R1,8 miljard.

Hulle het hul belang in Tekkie Town in 2016 aan Steinhoff verkoop in ruil vir aandele in die maatskappy wat nou niks werd is ná die ineenstorting van sy aandeelprys.

Steinhoff voer aan hy het tot nou gewag om die aansoek te bring om Jooste as ’n derde party tot die saak te voeg omdat daar gewag is op die uitslag van die forensiese ondersoek wat deur PwC sedert Desember 2017 uitgevoer is.

In die eedsverklaring wat die aansoek vergesel, sê Nicholas James Lewis, maatskappysekretaris van Steinhoff, die maatskappy het dit as verstandig beskou om te wag vir die bevindinge van die forensiese ondersoek wat 14 maande geduur het.

Die aansoek word ingevolge die hofreëls van die hooggeregshof gebring omdat die tyd waarbinne so ’n aansoek gebring moet word, reeds verstreke is.

Die toesighoudende direksie van Steinhoff het op 15 Maart vanjaar ’n verklaring oor die forensiese ondersoek van PwC uitgereik. Die oorsig oor die forensiese ondersoek is aangeheg aan die hofaansoek.

Lewis verwys na die belangrike bevinding van die ondersoek wat lui dat ’n “klein groep voormalige topbestuurders en ander mense buite Steinhoff onder aanleiding van ’n uitvoerende bestuurslid, talle transaksies oor verskeie jare gestruktureer en geïmplementeer het wat daartoe gelei het dat die wins en bates van die groep oor ’n verlengde tydperk wesenlik oordryf is”.

“Die uitvoerende bestuurslid waarna hier verwys is, is deur Steinhoff onder direkte opdrag van die parlement as Jooste geïdentifiseer.

“Die bevindinge (van die ondersoek) het onder meer bevestig dat Jooste op ’n wyse opgetree het wat nadelig was vir die belange van Steinhoff.”

In Steinhoff se verweer tot die eis wat verlede jaar in Julie ingedien is, word gesê dat Jooste vir Steinhoff in die onderhandelinge op 26 Februarie 2016 en daarna met die voormalige eienaars van Tekkie Town verteenwoordig het voordat die kontrak met hulle gesluit is.

Steinhoff voer aan tydens die onderhandelinge het hy voorstellings aan Mostert en Van Huyssteen gedoen (wat namens die eisers opgetree het) wat insluit:

· dat daar geen risiko was vir enige wesenlike negatiewe verandering in die aandeelprys van Steinhoff nie;

· dat hy in reaksie op ’n voorstel van die eisers dat Steinhoff moet waarborg dat die gepubliseerde finansiële state korrek, billik en akkuraat sy bates en aanspreeklikhede weerspieël, aangevoer het dat so ’n waarborg onnodig is in die lig van die feit dat die maatskappy behoorlik geouditeerde en gepubliseerde finansiële state het en dat sy aandele op ’n beurs genoteer is;

· dat alle verpligtinge en standaarde vir finansiële verslagdoening te alle tye nagekom is; en

· dat Jooste van geen feite of omstandighede weet, wat indien dit bekend sou word, ’n wesenlike negatiewe invloed op Steinhoff se aandeelprys sou hê nie.

Steinhoff voer ook aan dat Jooste te alle tye geweet het dat wesenlike finansiële en rekenkundige ongerymdhede oor verskeie jare in die groep plaasgevind het.

Steinhoff voer aan as uitvoerende hoof het Jooste sekere verpligtinge gehad ingevolge die gemene reg en ingevolge artikel 76 van die Maatskappywet (wat handel oor die gedrag wat van direkteure verwag word om eerlik en in goeder trou op te tree en op ’n wyse wat redelikerwys beskou kan word as in die beste belang en tot voordeel van die maatskappy).

Lewis voer onder meer aan dat Jooste:

· in gebreke gebly het om sy verpligtinge teenoor Steinhoff na te kom om “in goeder trou; nougeset; eerlik en in die beste belang van Steinhoff op te tree”;

· in gebreke gebly het om sy verpligting as uitvoerende hoof uit te voer op die standaard wat van ’n persoon in die posisie verwag word, veral gegewe hoe groot Steinhoff was en die omvang en kompleksiteit van die sake wat hy bedryf het”; en

· dat hy feite verberg het wat relevant was vir deeglike verslagdoening oor die finansiële sake van Steinhoff.

Na wat verneem word, het Steinhoff ook aansoek gedoen om Jooste by ander eise teen die groep in Suid-Afrika te voeg. Netwerk24 sal daaroor berig sodra dit vasgestel kan word. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!