Steinhoff: Kopsere om eisers van deur af te hou
Volgens die waarnemende finansiële hoof, moet die skuld verminder word om die herstruktureringsplan wat tans ontwikkel word, te implementeer.
Nellie Brand-Jonker - Die beleërde Steinhoff, wat ’n skuldlas van R154 miljard (€10,4 miljard) het, gaan in Mei ’n herstruktureringsplan aan sy leners voorlê.
Steinhoff het Vrydag op sy jaarvergadering bekend gemaak sy skuld sal drasties verminder moet word voordat herstrukturering kan plaasvind omdat hy ’n kleiner maatskappy (gemeet aan markwaarde) is en sy kredietgradering gedaal het.
Joost Schmets, hoof van die departement van ekonomie van die Nederlandse beleggingsvereniging VEB, het gesê Steinhoff is nou ’n baie kleiner maatskappy sonder die kunsmatige winste wat tot dusver gesien is en die maatskappy het ’n laer kredietgradering.
“As jy kyk na die finansiële state van die verlede is daar buitengewone lae rente op die skuld wat Steinhoff gehad het, in sommige gevalle is dit rentekoerse van 1% tot 2%. Hoe gaan ’n kleiner maatskappy sy skuld kan betaal met die laer kredietgraderings en hoër rentekoerse wat dit gaan meebring?”
Danie van der Merwe, waarnemende uitvoerende hoof van Steinhoff, het erken dit is ’n probleem dat die gradering van die maatskappy verlaag is.
“Dit is een van die redes hoekom ons die skuld moet verminder, omdat die aanduiding tans is dat ons nie naastenby soveel sal kan leen as wat die skuld is nie.”
Nog verkope oorweeg
Philip Dieperink, waarnemende finansiële hoof, het gesê die skuld moet verminder word om die herstruktureringsplan wat tans ontwikkel word te implementeer.
Volgens hom sal oorweeg word om nog bedrywighede te verkoop om sy skuld verder te verminder.
Die maatskappy het bekend gemaak dat hy tans onder ’n “informele skuldstilstand” met sy krediteure bedrywig is omdat sekere bepalinge onder leningsooreenkomste reeds geskend is.
Die proses wat vroeër begin is om ’n algemene kwytskelding te kry van krediteure van die bepalinge in die leningsooreenkomste, is ook gestaak tot die herstruktureringsplan aan die krediteure voorgelê word.
Dieperink het gesê voortdurende dialoog is nodig met die krediteure tans om ’n “venster van stabiliteit” te skep terwyl die herstruktureringsplan ontwikkel word.
Hy het gesê hulle hoop nadat die herstruktureringsplan in Mei aan leners voorgelê is, kan hulle meer oor die proses sê om kwytskelding te kry.
Louis du Preez, handelsdirekteur, het oor die informele skuldstilstand gesê ’n aantal “tegniese skendings” van die bepalings van die verskillende leningsooreenkomste het plaasgevind.
“Ons is voortdurend besig om met die krediteure te skakel om te verseker dat die tegniese skendings nie ’n wanbetaling deur Steinhoff veroorsaak nie.”
“Ons skakel soms daagliks en meestal weekliks met krediteure.”
Internasionale aanspreeklikheid
Mark Hodgson, ’n ontleder van Avior Capital Markets, wou op die jaarvergadering weet tot watter mate die Suid-Afrikaanse balansstaat die internasionale aanspreeklikhede waarborg.
“Dit is duidelik die Suid-Afrikaanse balansstaat is sterk, maar onduidelik wat die regsverhouding is en wat die implikasies vir valutabeheer is.”
Du Preez het gesê die Reserwebank het vereis dat al die plaaslike skuld eers afbetaal word voordat sowat €200 miljoen (R3 miljard) uit Suid-Afrika aan Europa oorbetaal kon word om ’n likiditeitskrisis in bedrywighede daar op te los.
Die proses om die skuld plaaslik af te betaal duur voort. Die verkoop van 17% in KAP teen R3,7 miljard (€251 miljoen) asook 6% in Steinhoff Africa Retail (Star) teen R3,75 miljard (€254 miljoen) is deel van die proses.
Volgens hom is die laaste deel van die proses die terugbetaling van Star se sowat R15 miljard (€1 miljard) lening aan Steinhoff Africa.
“Dan sal al die Suid-Afrikaanse skuld terugbetaal wees . . .”
Saul Miller van Truffle Batebestuur, wat aandeelhouers in Suid-Afrika verteenwoordig, wou weet as Steinhoff toestemming kry van die Reserwebank om die R15 miljard terug te neem na Europa dit genoeg likiditeit sal gee sodat die groep dan nie nog Europese ondernemings hoef te verkoop nie.
Dieperink het gesê as Star sy lening aan Steinhoff terugbetaal, gaan die €1,4 miljard (R21,2 miljard) uitstaande skuld in Suid-Afrika eers terugbetaal word.
“Daardie R15 miljard gaan nie terug Europa toe nie, dit is eerstens om die Suid-Afrikaanse situasie uit te sorteer.”
Du Preez het ook gesê of nog geld Europa toe gaan, sal afhang van die kontraktuele regte van die leners en die aard en omvang van die tussenmaatskappylenings asook van die Reserwebank.
Du Preez het ook bekend gemaak dat Steinhoff eise van ’n aantal partye gekry het wat die afgelope jare bates aan die groep verkoop het.
Of nog geld Europa toe gaan, gaan ook daarvan afhang, want: “Die eise mag weliswaar teen sekere Suid-Afrikaanse entiteite wees,” het hy bekend gemaak.
Die groep het nie meer baie tyd om sy krediteure van sy herstruktureringsplan te oortuig nie.
Altesaam R22,7 miljard (€ 1,5 miljard) se skuld moet in Julie en Augustus terugbetaal word.
Die jaarvergadering was gekenmerk deur verduidelikings oor hoe kompleks die groep se skuld, waarborge en die lenings tussen filiale is en hoe dit die herstruktureringsplan wat opgestel moet word, bemoeilik.
Van der Merwe het gesê hulle verdeel tans die krediteure breedweg in vier groepe – met elke groepering wat sy “eie eienskappe het wat in ag geneem moet word in enige oplossing vir die balansstaat wat ons in die herstruktureringsplan voorstel.”
Sien die onderstaande grafiek wat die vier groepe in verskillende kleure weergee.
“Daar is nie een eenvoudige oplossing nie, omdat elk van die vier groeperings verskillende eienskappe en regte het.” - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie