• Tuisblad
  • Sake
  • Steinhoff se plan met skuld wat wins verdwerg
Steinhoff se plan met skuld wat wins verdwerg
Steinhoff se plan met skuld wat wins verdwerg

Steinhoff se plan met skuld wat wins verdwerg

Die maatskappy se finansiële hoof sê einde Maart het die totale skuld van die groep byna €10,8 miljard beloop.
Nellie Brand-Jonker – Die beleërde Steinhoff het Dinsdag erken hy sit met te veel skuld omdat die opgeloopte rente daarop sedert Desember meer as die wins in die jongste halfjaar beloop.

Die groep het Dinsdag die eerste aanbieding oor sy finansiële resultate aan beleggers gehou sedert die opspraakwekkende gebeure in Desember 2017 wat tot die ineenstorting van sy aandeelprys gelei het.

Philip Dieperink, finansiële hoof, sê einde Maart het die totale skuld van die groep byna €10,8 miljard beloop.

Die deel waarvoor die moedermaatskappy, Steinhoff NV, die waarborggewer is en wat herstruktureer moet word, beloop byna €9 miljard.

Volgens Dieperink beloop die rente wat op dié skuld opgeloop het sedert ’n reëlingskema met skuldeisers in Desember in werking getree het, €421 miljoen.

Die groep se bedryfswins voor finansieringskoste en waardevermindering (ebitda) uit voortgesette ondernemings het in die halfjaar tot einde Maart €393 miljoen beloop.

Nie winsgewend genoeg

Louis du Preez, uitvoerende hoof, sê daar is bedryfsmaatskappye in Steinhoff se stal wat goed vaar, maar daar is ook ander ondernemings wat sukkel.

Die rekeningkundige ongerymdhede het boonop "ook die swak finansiële prestasie van sekere van die ondernemings verbloem”.

Terwyl die groep se omset sterk is, is die groot probleem sy winsgewendheid, sê Du Preez. “Die rente verskuldig vergeleke met die wins, is ’n kommerwekkende syfer om na te kyk.”

Wilhelm Hertzog, portefeuljebestuurder van Rozendal Partners, wou in vraetyd weet met die skuld en die wins op dié vlakke en die talle regsgedinge teen die groep wat ’n bykomende aanspreeklikheid meebring, wat bly oor vir aandeelhouers?

“Dit is ’n billike vraag waarmee ons ook worstel. Dit is duidelik dat die winsgewendheid ’n probleem is,” het Du Preez gesê.

“Al hoe dit opgelos kan word, is om die skuld te verminder, want ons kan nie uit dié situasie uit handel dryf nie.”

Hy sê hulle sal teen volgende jaar met krediteure en aandeelhouers begin gesels oor nog bates wat verkoop kan word.

Du Preez het in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê dit kan ’n opsie insluit om ’n belang in Pepkor Europa te verkoop deur middel van ’n notering.

Daar is verlede week oor dié moontlikheid bespiegel, maar hy sê geen besluit is al op die tafel nie.

Komplekse herstrukturering

Die groep is besig met ’n komplekse finansiële herstrukturering wat 20 maande geneem het om tot dié punt te kom. “Om te sê dit was hoogs kompleks en veeleisend, is om dit lig te stel.”

Die finansiële herstrukturering bestaan uit 'n reëlingskema met skuldeisers wat in Desember goedgekeur is, en ’n skuld-stilstand. Die skuld-stilstand sal geld tot einde Desember 2021.

Die finansiële herstrukturering is noodsaaklik om die groep te stabiliseer omdat die gebeure van Desember 2017 veroorsaak het dat al die skuld van die groep betaalbaar geword het, het hy verduidelik.

Die uitwerking van die herstrukturering is dat die verskillende skuldinstrumente van die groep heruitgereik word. Du Preez sê dit is uiters duur skuld.

Volgens hom gee die skuld-stilstand die groep tyd om die skuld te verminder deur bates te verkoop.

Du Preez sê die skuldlas kan ook hanteer word deur die kapitaalstruktuur van die moedermaatskappy te verander. “Maar dan moet jy mense oortuig van sy toekoms. En dit gaan nie gebeur as die regsgedinge nie eerste opgelos word nie.”

Steinhoff wil skik oor regsgedinge

Hy sê daarom werk die bestuur hard daaraan om ’n skikking te vind vir die talle regsgedinge. Dit sluit in die groepsgedinge teen die groep asook verskeie eise van partye wat belange in ondernemings aan Steinhoff verkoop het in ruil vir sy aandele.

“Die belangrikste is om die regsgedinge uit te sorteer, want niemand gaan met jou praat oor ’n nuwe kapitaalstruktuur as dit (die regsgedinge) oor die groep hang nie.”

Die toekoms is onseker

Hy sê daar is mense wat vra waar Steinhoff gaan opeindig. “Ek wil hê ons moet eerlik antwoord. Daar is in ’n mate onsekerheid oor wat môre vir Steinhoff inhou. Ons glo as die sterk ondernemings in die groep gekoester word, is daar ’n môre. Ons moet seker maak die sterk ondernemings kry die geleentheid om voort te presteer en dat Steinhoff se eienaarskap nie ’n hindernis daarvoor is nie.”

Pepkor in Suid-Afrika en Pepkor in Europa is sy sterk ondernemings.

Du Preez meen waar Steinhoff voorheen ’n tipe bedryfsmaatskappy was met tesourie-; finansierings- en ander korporatiewe funksies op groepvlak, moet die wyse waarop die groep bedryf word, verander.

“Ons glo die enigste manier waarop die groep kan oorleef, is as hy ’n suiwer beleggingsbeheergroep word wat ondernemings in die kleinhandel en verwante bedrywe besit. Daarom word bates verkoop wat nie in dié sektore val nie.”

Hy het aan Bloomberg gesê dit kan behels dat van die belange in sy kleinhandelaars verklein word.

As alles goed verloop tot einde 2021 en die regsgedinge is uitgesorteer, kan aandeelhouers dalk dan genader word vir ’n herfinansiering.

“Maar dit gaan afhang van wat die skuldvlak in daardie stadium is. Dit kan nie tot dan gelos word nie. Ons sal waarskynlik volgende jaar met leners en aandeelhouers begin praat.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-09-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Manchester City 2 vs 2 Arsenal | Brighton 2 vs 2 Nottingham Forest LaLiga: Real Madrid 3 vs 2 Deportivo Alaves | Valencia 0 vs 0 Osasuna | Sevilla 2 vs 1 Real Valladolid | Real Betis 1 vs 2 Mallorca | Rayo Vallecano 1 vs 1 Atletico Madrid | Villarreal 1 vs 5 Barcelona | Athletic Club 3 vs 1 Celta Vigo | Getafe 1 vs 1 Leganés SerieA: Atalanta 2 vs 3 Como | Inter Milan 1 vs 2 AC Milan | AS Roma 3 vs 0 Udinese | Monza 1 vs 2 Bologna | Fiorentina 2 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Preston North End 0 vs 0 Blackburn Rovers English Championship: Preston North End 0 vs 0 Blackburn Rovers #N/A Currency: GBP to NAD 22.93 | EUR to NAD 19.2 | CNY to NAD 2.45 | USD to NAD 17.22 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.27 | EGP to NAD 0.35 | KES to NAD 0.13 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.64 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.13 | RUB to NAD 0.19 | INR to NAD 0.21 | USD to DZD 131.81 | USD to AOA 933.05 | USD to BWP 13.12 | USD to EGP 48.5 | USD to KES 128.48 | USD to NGN 1596.98 | USD to ZAR 17.23 | USD to ZMW 26.37 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1845.32 Up +0.73% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 14193.3 Down -0.53% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 30871.1 Down -0.49% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI 9651.25 Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 654.83/OZ DOWN -0.0013 | Copper US$ 4.46/lb DOWN -0.0091 | Zinc US$ 3 008.50/T DOWN -0.26% | Brent Crude Oil US$ 74.10/BBP DOWN -0.0148 | Platinum US$ 989.62/OZ UP +0.13% #N/A