Steinhoff vaar beter
Daar is skrale troos vir Steinhoff-beleggers, maar net meer probleme vir die onteerde uitvoerende hoof Markus Jooste.
Erika Gibson
Steinhoff se aandeelprys het in die eerste week van 2018 met meer as 90% gestyg om op R8,80 te sluit. Dis nadat een van Steinhoff se Britse filiale, Poundland, rekord-Kersverkope bekend gemaak het en sommige Steinhoff-besighede finansieringstransaksies kon beklink.
Steinhoff het egter Woensdag in 'n markverklaring gewaarsku dat “noemenswaardige korttermynlikiditeit” vir sommige besighede vereis word.
Die maatskappy is besig om oral kontant te soek. Die luukse Gulfstream G550-sakestraler waarmee Jooste in die laaste maande van sy bewind rondgevlieg het, word aan 'n onbekende Duitse koper vir US$15 miljoen (R172 miljoen) verkoop, verneem Rapport.
Steinhoff het bevestig die straler word verkoop, maar wou nie meer besonderhede bekend maak nie.
Die onteerde voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste, se persoonlike probleme neem ook toe.
Benewens die feit dat sy eiendomme in Hermanus beskadig is met die woorde “thief” en “con artist” wat met spuitverf op die mure gespuit is, word hy ál meer gemarginaliseer in sy geliefde perderesieswêreld.
Sun International het in korrespondensie aan die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA) gesê nóg Jooste nóg sy perde is welkom by die Sun Met-perderesies op 27 Januarie nadat die vakbond gedreig het om hul lede te laat opruk.
Ivan Fredericks, die VSA se hoofbestuurder, byt egter moeilik hieraan. Hy sê Mayfair Speculators, Jooste se maatskappy wat die perde besit, sal dalk nie deelneem nie, maar Jooste het steeds aandele in van die ander perde wat aan die resies deelneem.
“Jooste maak steeds miljoene op dié manier terwyl 230 000 staatsamptenare miljarde van hul pensioengeld weens sy optrede verloor,” sê Fredericks.
Die nasionale perderen-owerheid van Suider-Afrika (NHRA) het aangekondig Jooste het sy perderesieskleure vir sy perde opgeskort en ook as lid van die NHRA bedank.
Die VSA het Steinhoff egter steeds in hul visier. Dié het 'n kennisgewing gestuur dat hulle hul regte ingevolge die Maatskappywet wil uitoefen om inspeksie te doen op sekere dokumente soos finansiële state en notules.
Dit is omdat hulle lede 'n geldelike belang in Steinhoff het deur die Suid-Afrikaanse staatspensioenfonds (GEPF) en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) wat as die fondsbestuurder van die GEPF optree.
Die GEPF het vroeër bevestig hy het R12 miljard se waarde verloor met Steinhoff se inploffing in Desember, hoewel dit net 0,6% van die pensioenfonds se bates verteenwoordig.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie