Steinhoff verander sy deuntjie oor verslag
Die opdrag aan PwC is drieërlei: Om te bepaal wat gebeur het, die finansiële ondersoek, en om vas te stel wie verantwoordelik is.
Nellie Brand-Jonker
Presies wat het by Steinhoff verkeerd geloop – en wie moet daarvoor boet? Dit lyk nou asof benoude beleggers – insluitend die meerderheid pensioenfondse in die land – nog veel, veel langer sal moet wag vir antwoorde. Nellie Brand-Jonker, wat die Steinhoff-sage sedert Desember verlede jaar nougeset volg, verduidelik wat die parlement die afgelope week oor die forensiese ondersoek gehoor het... en nié gehoor het nie.
Die finale verslag oor die forensiese ondersoek wat PwC na Steinhoff se boeke doen, sal nié teen einde vanjaar gereed wees nie.
Die skriftelike voorlegging wat Steinhoff Woensdag by die parlement ingedien het, lui dat die PwC-ondersoek na verwagting einde 2018 “wesenlik” voltooi sal wees.
David Maynier, DA-LP, het gesê dit blyk baie van die reguleerders wat terugvoering gegee het oor die vordering met hul eie ondersoeke na Steinhoff, glo “baie hang af van die finale PwC-verslag”
“In die voorlegging sê julle die ondersoek sal wesenlik voltooi wees einde 2018. My gevolgtrekking is PwC gaan eers ’n tussentydse verslag uitreik en die verslag gaan nie (teen Desember) afgehandel wees nie.”
Hy wou weet of sy afleiding reg is.
Louis du Preez, kommersiële direkteur van Steinhoff, het gesê: “Ek dink die mark verwag dat daar een omvattende verslag gaan wees. Dit is nie korrek nie.”
Om die vraag te antwoord, moet verstaan word wat die doelstellings en benadering van PwC is, sê Du Preez.
Die opdrag aan PwC is drieërlei: Om te bepaal wat gebeur het, die finansiële ondersoek, en om vas te stel wie verantwoordelik is.
Volgens hom doen die maatskappy alles wat hy kan om voor die einde van die jaar sy geouditeerde jaarstate vir die boekjaar tot einde September 2017 uit te reik. PwC se opdrag is deels om dit moontlik te maak.
TERUGVOERING
Intussen gee PwC mondelings terugvoering en het die firma reeds twee skriftelike verslae aan Steinhoff verskaf oor wat skeefgeloop het.
Du Preez sê die verslae is op regsadvies aan die reguleerders oorhandig, waaronder die Valke.
Volgens hom help PwC ook vir Steinhoff met die regsgedinge wat teen die groep aanhangig gemaak is en met potensiële regstappe wat die groep moontlik teen individue aanhangig gaan maak.
Alf Lees van die DA het sê baie van die gesprekke (voor die parlementêre komitees) het daaroor gehandel dat daar gewag word vir ’n verslag, en “nou klink dit asof daar nie ’n verslag gaan wees nie”. “Maar daar móét ’n verslag wees om dinge vorentoe te neem.”
Maynier wou weet wat wél voor die einde van die jaar verwag kan word.
Du Preez het gesê inligting oor wat by Steinhoff gebeur het, sal stuksgewys uitkom namate dit ontbloot word. “Dit gaan in fases plaasvind en die verslag sal ’n gesegmenteerde verslag wees.”
Dit het reeds gebeur en van die inligting wat ontbloot is, het tot skorsings gelei.
Ben la Grange, voormalige finansiële direkteur, en Stéhan Grobler, wat voorheen as ’n direkteur van Steinhoff-filiale gedien het, is geskors nadat PwC onlangs twee verslae aan Steinhoff verskaf het.
“Daar kan verdere stappe teen individue in die afsienbare toekoms kom,” het Du Preez gesê.
SIVIELE OPTREDE
Die derde afdeling van PwC se opdrag behels dat siviele optrede deur Steinhoff ingestel kan word teen mense wat verantwoordelik gehou kan word vir die maatskappy se probleme.
Die onthullings deur PwC sal ook help met strafregtelike sake wat aanhangig gemaak gaan word of ondersoek moet word.
“Dit gaan nie een groot boek wees nie, maar ’n verslag wat in stukke afgehandel word. Uiteindelik kan dit ’n massiewe verslag van sewe, agt of tien volumes wees.”
Maynier het wéér gevra of dit dus korrek is dat die finale verslag nie in Desember uitgereik sal word nie. Du Preez het geantwoord: “Dit is korrek.”
Du Preez het in sy voorlegging gesê hy en die bestuurspan het weeklikse kontak met PwC. Hy praat twee keer per week met hulle. Volgens hom werk 100 mense van PwC aan die ondersoek en die koste beloop reeds meer as R200 miljoen.
Die toesighoudende direksie kry maandeliks of twee keer per maand mondelingse verslae van PwC en twee skriftelike verslae is reeds uitgereik. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie