Steinhoff 'wil bonusse terugeis'
Die forensiese ondersoekspan van PwC het sy eerste terugvoering gegee oor die ondersoek na dié maatskappy se boeke.
Nellie Brand-Jonker
Die voormalige topbestuur van Steinhoff kan dalk binnekort die vet bonusse kwyt wees wat hulle die afgelope jare gekry het.
Steinhoff het verlede week in 'n verklaring gesê die forensiese ondersoekspan van PwC het sy eerste terugvoering gegee oor die ondersoek na Steinhoff se boeke.
“Die rolle en verantwoordelikhede van diegene wat voorheen aan die stuur van die groep was, word ondersoek as deel van die PwC-proses. Die groep sal so spoedig moontlik toepaslike stappe (teen die voormalige topbestuur) doen,” lui die verklaring.
Sodra regsadvies ingewin is oor PwC se bevindings, sal verdere aankondigings hieroor gedoen word.
Een van die stappe wat oorweeg word, is om die bonusse wat in die verlede aan sekere senior bestuurders betaal is, terug te eis.
Steinhoff sê ook hy het die hof in Amsterdam versoek om Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, in te sluit by 'n groepsgeding teen Steinhoff.
Steinhoff sê die verhoor oor die groepsgeding wat die Vereniging van Effectenbezitters (VEB) teen hom aanhangig gemaak het, begin voor einde September in Amsterdam.
Sedert sy jaarvergadering het hy ook 'n groepseis van Duitse beleggers teen hom ontvang.
Steinhoff sê in die verklaring die terugvoer van PwC stem wesenlik ooreen met, en bevestig die onreëlmatighede wat Deloitte geïdentifiseer het wat daartoe gelei het dat die ouditfirma nie Steinhoff se jaarstate vir 2017 wou afteken nie.
Die ondersoek handel oor die geldigheid en verhaalbaarheid van sekere bates buite Suid-Afrika wat aanvanklik op €6 miljard geraam is.
Daarby het hy sedert Desember boonop 'n oordrywing van winste en verwante-party-transaksies gevind wat tot 'n wesenlike bykomende afskrywings gaan lei.
“Die omvang hiervan word nog ondersoek, en gaan deel vorm van die aanbieding oor die tussentydse resultate van die groep wat Junie uitgereik word.”
Steinhoff sê hy wend elke moontlike poging aan om sy resultate vir die halfjaar tot einde Maart voor die einde van Junie uit te reik. Dit sal nie geouditeer wees nie. Dit sal 'n balansstaat tot einde September insluit, maar ook dít sal nie geouditeer wees nie.
Die groep mik nog om sy geouditeerde resultate vir die jaar tot einde September 2017 einde Desember uit te reik en die geouditeerde jaarstate tot einde September 2018 voor einde Januarie volgende jaar uit te reik.
Met verwysing na Christo Wiese, voormalige voorsitter, se eis van R59 miljard teen Steinhoff, sê die maatskappy: “Die posisie oor Wiese . . . is anders as met ander verkoper- en aandeelhouerseise vanweë die intieme betrokkenheid van Wiese by die groep oor baie jare. Die maatskappy sal ten einde die groep en sy belangegroepe te beskerm, alles in sy vermoë doen om die stappe deur Wiese te verdedig.”
Steinhoff het ook aangekondig 'n eis van R1,4 miljard is van GT Ferreira, die Stellenbosse bankier en eienaar van die Tokara-wynplaas, asook van R1,7 miljard van Tekkie Town ontvang.
'n Handelsoorsig sal in Junie uitgereik word.
Steinhoff het ná die opdatering aan beleggers amper 4% of 4c laer op R1,74 gesluit. Dit is weer 'n nuwe laagtepunt.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie