Stel jou saak oor regulering van dagga
Stel jou saak oor regulering van dagga

Stel jou saak oor regulering van dagga

Voorleggings moet onder meer fokus op of daar enige voordelige gebruike van dagga en daggaverwante produkte vir mediese, wetenskaplike, industriële of enige ander doel is.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Skriftelike voorleggings kan nou gemaak word vir die regulering en beheer van die gebruik van dagga en daggaverwante produkte in Namibië.

Sekere lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC), insluitend buurland Suid-Afrika, het reeds toestemming vir die verbouing van dagga vir medisinale en navorsingsdoeleindes gegee. Bykomend hiertoe het sommige lande ook die gebruik van dagga gewettig.

Suid-Afrika het die eerste Afrikaland geword waar die gebruik van dagga gewettig is deur die verlaging vanaf skedule 7 na skedule 6-voorskrifmedikasie. Dit beteken dagga kan nou as wettige medikasie voorgeskryf word. In 2018 het dié land se konstitusionele hof 'n uitspraak gelewer wat bepaal die gebruik van dagga vir beide persoonlike en mediese gebruik is wettig. Dit is egter steeds onwettig om dit buite jou private woning te gebruik, asook om dit te koop en verkoop.

Volgens die Internasionale Narkotika Beheerraad (INCB) in sy ontleding van die impak van voorstelle deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) oor die herskedulering van dagga en daggaverwante middels, het 33 uit 154 lande in die wêreld reeds toestemming vir die verbouing van dagga vir medisinale en navorsingsdoeleindes gegee.

Dié voorstelle is die gevolg van 'n hersieningsproses wat deur die komitee van kundiges oor dwelmafhanklikheid (ECDD) uitgevoer is. Die ECDD is 'n onafhanklike wetenskaplike raadgewende liggaam vir die WHO.

Gebaseer op 'n wetenskaplike evaluering, potensiële gesondheidsrisiko's en terapeutiese voordele, stel die ECDD die gepaste skedulering van psigo-aktiewe middels binne die internasionale dwelmkonvensies voor.

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het nou in die lig van die regulering en beheer van die gebruik van dagga en daggaverwante produkte in Namibië 'n beroep op belanghebbers en die publiek gedoen om geskrewe voorleggings by die ministerie in te handig.

Die voorleggings moet onder meer fokus op of daar enige voordelige gebruike van dagga en daggaverwante produkte vir mediese, wetenskaplike, industriële of enige ander doel is. Antwoorde moet ook verskaf word of daar enige bewyse van mis- of wangebruik van dagga en verwante produkte in Namibië is.

Belanghebbers sal ook moet sê of hulle bewus is van enige gevare of maatskaplike euwels wat met daggagebruik geassosieer word en wat gesondheid, families, finansies, geslagsgeweld en misdaad betrek.

'n Mening moet ook gehuldig word oor die negatiewe of positiewe uitwerking wat die herskedulering van dagga en daggaverwante produkte in die land mag hê.

Die geskrewe voorlegging moet vervolgens ook fokus op die moontlike bestaan van bekostigbare en toeganklike behandelingsgeriewe vir inwoners wat dagga, daggaverwante produkte of enige ander middels misbruik.

Melding moet gemaak word van wat die moontlike vereistes moet wees om 'n daggabedryf in Namibië te reguleer, terwyl ook gefokus moet word op die vereiste hulpbronne en geriewe om 'n moontlike toename in dwelmmisbruik te hanteer.

Enige bykomende inligting oor dagga en daggaverwante produkte wat die land kan help om 'n ingeligte besluit oor die regulering te neem, moet deel van die voorlegging vorm.

Namibië is 'n ondertekenaar van die Internasionale Konvensies vir die Beheer van Narkotiese en Psigotropiese middels, naamlik die Enkele Konvensie vir Narkotiese Middels van 1961; die Konvensie vir Psigotropiese middels van 1971 en die Konvensie teen die onwettige handel in Narkotiese en Psigotropiese middels van 1988. Dié konvensies verbied die gebruik van middels onder hulle beheer vir enigiets anders as vir medisinale en wetenskaplike navorsingsdoeleindes.

Sommige van dié lande, ingesluit Suid-Afrika, is in die SADC.

Voorleggings kan voor 22 November aan mnr. Eric-Sunny Kambonde by [email protected] of na mnr. Johannes Gaeseb by [email protected] gestuur word. Gaeseb kan ook vir enige verdere navrae gekontak word.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!