Stellmachers in bloedige boedeltwis

'n Weduwee en haar dogters spoeg tans bloed oor die ­bestorwe boedel van die bekende dr. Franz Stellmacher op Rehoboth.
Denver Kisting
Denver Kisting



Die weduwee en dogters van een van Rehoboth se bekendste inwoners, dr. Franz Stellmacher, bevind hulle midde-in 'n rowwe erf­debakel.

Dié toedrag van sake het daartoe gelei dat Stellmacher se weduwee, die 79-jarige Fawzia, tans in 'n hofstryd met een dogter, die bekende Windhoekse uroloog, dr. Golda ­Stellmacher, gewikkel is.

Franz Stellmacher is luidens sy vrou se hofverklaring op 2 Februarie 2016 aan 'n longkwaal oorlede.

Volgens Fawzia moes sy haar noodgedwonge tot die hof wend om toegang tot haar en haar ontslape man se huis te bekom nadat Golda glo die slotte vervang het.

Die egpaar se woonhuis is in Rehoboth se Blok B-woongebied geleë en hulle het vyf dekades saam daarin gewoon. Fawzia sê voorts sy en haar man is in 1966 buite gemeenskap van goedere getroud – die jaar voor hy tot sy dood as huisdokter op die Hardapdorp begin praktiseer het.

Sy sê hulle het hul vyf kinders – vier dogters en een seun – in daardie huis grootgemaak. Volgens haar het wyle Stellmacher al sy kontant en kontantbeleggings, voertuie, juweliersware, meubels en ander persoonlike goed aan haar bemaak.

Die res van sy boedel moes kragtens sy jongste testament in 'n trust gestort word. Sy, en drie dogters, Golda, Ute en Zia is die trustees van die trust. Fawzia sê vervolgens sy het onder die indruk verkeer dit word allerweë aanvaar sy het verblyfreg in die huis vir so lank as wat sy wil, ondanks die feit dat alle onroerende eiendom aan die trust behoort.

Ná haar man se dood het sy ononderbroke en in vrede in die huis gewoon tot Januarie vanjaar, sê sy.

Vanweë die huwelik buite gemeen­skap van goedere beskik sy oor haar eie boedel wat onder meer bestaan uit twee plase, bees en 'n Angus-stoet, dui Fawzia verder aan.

Sy sê sy ag dit ook nodig om die hof se aandag daarop te vestig dat sy aan hartversaking ly. “Ek is nie gesond nie.” Wat haar veral ook gegrief het, is toe Golda na bewering in Oktober verlede jaar die huis se landlyn laat afsny het, wat meegebring het dat Fawzia geen oproepe kon maak nie en slegs oproepe kon ontvang.

“Ek wys uit dat ek 79 jaar oud, sieklik en elke liewe dag alleen is. Haar optrede teenoor my is voortgebring deur 'n gemene gees en om my te teister.”

Volgens haar het haar skoonseun, mnr. Quinton Diergaardt, sedert ­Februarie 2016 by haar gewoon om met die boerdery te help.

Hy was egter bedags weg en het saans laat teruggekeer.

“Ek was gestrand sonder 'n telefoondiens om die buitewêreld te kontak. Ek gebruik geen selfoon nie.”

Diergaardt is Ute se man.

Fawzia hou ook vol Golda tree nie behoorlik as eksekuteur van die boedel op nie. Daarnaas sê die weduwee Golda probeer haar glo beheer en is onbeskof en oneerbiedig wanneer sy met haar in gesprek tree.

Van herhaalde pogings van Fawzia se regspan om Golda se regsverteenwoordigers te vra dat Golda haar gedrag verander, het dadels gekom, sê Fawzia. 'n Ander dogter, Rosa, woon oorkant haar in 'n boedelhuis, maar het sedert haar pa se heengaan nog nooit by haar kom kuier nie, kla Fawzia ook in die hofstukke.

Rosa en Golda was glo in Desember 2017 daar “om iets uit die oorledene se spreekkamer te kom haal”.

“Ek is sonder respek behandel deur dié twee dogters en hulle het geloop met Rosa wat sê: 'Golda, kom ons loop. Ma weet f*kk*l,'” sê Fawzia.

Hoewel Golda die geding teengestaan het, het die hof gelas Golda moes teen die einde van Vrydag alle nuwe sleutels en spaarsleutels aan haar ma oorhandig en 'n kostebevel is teen Golda toegestaan.

Regter Thomas Masuku was op die bank. By navraag wou Golda se ­prokureur, mnr. Tobias Louw, nie op vrae reageer nie. Volgens hom het hy nie die mandaat om die pers namens haar te woord te staan nie.

Die Stellmacher-landlyn op Rehoboth het onbeantwoord gebly.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!