Stelsel vir bateverklarings skiet tekort
Stelsel vir bateverklarings skiet tekort

Stelsel vir bateverklarings skiet tekort

Nodig vir deursigtige, korrupsievrye samelewing
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Namibië se huidige stelsel vir bateverklarings word deur verskeie tekortkominge lamgelê.
Dit sluit in dat te min amptenare verplig word om verklarings te gee en dat die meeste lede van die regbank, hooggeplaastes soos die president en kabinetsministers asook hoofde van staatsbeheerde ondernemings daarvan kwytgeskeld word.
Mnr. Max Weylandt van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) het gister dié bevindinge in Windhoek bekend gemaak. Dit vloei uit ’n studie wat onder die IPPR-­navorsingsprogram oor teenkorrupsie uit­gevoer is.
Die studie het aangedui dat enige een boonop maklik daarmee wegkom deur nie sy bates te verklaar nie en selfs dié wat wel die moeite doen, hoef dit nie baie breedvoerig te doen nie. Boonop word bateverklarings nie geverifieer of geoudit nie en word daar nie teen amptenare opgetree nie, selfs ook nie in gevalle waar ’n botsing van belange voorkom nie.
Weylandt het egter gesê dat die beweging na bateverklarings al meer steun in Namibië werf en die regering al meer bereidwilligheid toon om bateverklaringstelsels in te stel.
“Nadat president Hage Geingob aanvanklik sy bates verklaar het, het die Nasionale Vergadering ’n nuwe gedragskode opgestel vir die regulering van verklarings deur parlementariërs.
“Verskeie probleme bestaan egter nog. Die meeste stelsels maak voorsiening vir interne verklarings, maar verklarings moet openbaar wees.
“Boonop vorm Namibië deel van verskeie internasionale verdrae waarvolgens bateverklarings geïmplementeer moet word. Dit sluit in die VN Konvensie Teen Korrupsie, die AU Konvensie op die Voorkoming en Bestryding van Korrupsie asook die Handves vir Staatsdiens in Afrika,” het Weylandt gesê.

BELANGRIK VIR DEURSIGTIGHEID
Weylandt het gesê bateverklarings is ’n belangrik in teen-korrupsieveldtogte en noodsaaklik in ’n deursigtige samelewing.
“Dit help die samelewing om vertroue in regeringsamptenare op te bou en dui aan dat diegene niks het om weg te steek nie. Dit is noodsaaklik om botsende belange te voorkom en verminder die potensiaal vir korrupsie,” het hy gesê.
Volgens die studie kan dit help om te keer dat ’n permanente sekretaris byvoorbeeld ’n tender toeken aan ’n besigheid wat sy self besit en subtiele maniere uitwys waarin amptenare hulself kan bevoordeel uit besluite wat hulle moet maak as verteenwoordigers van die regering.
Weylandt het gesê bateverklarings verminder nie op sigself korrupsie nie, maar vorm deel van ’n gemeen­skap waar die oppergesag van die reg domineer en deel van ’n wyer stelsel van verantwoordbaarheid is, wat media verslaggewing, wetstoepassing, dissipline onder partye en stemgeregtigheid insluit.
Weylandt sê daar bestaan geen wet wat die president verplig om sy bates te verklaar nie, maar dat Geingob dit ter wille van deursigtigheid gedoen het. Minister Calle Schlettwein het sy voorbeeld in Julie vanjaar gevolg en gesê hy sal voorts jaarliks ’n bateverklaring doen.
“Kabinetministers moet hul finansiële belange aan die president verklaar, maar dit word nie openbaar gemaak nie.”
Hy het ook na die Harambee-welvaartplan­ verwys wat voorsiening daarvoor maak dat openbare ampsdraers en staatsamptenare verklarings moet maak.
“Dié plan maak egter nie bekend of enige van die verklarings openbaar gemaak sal word nie en wie sal besluit of die mense enige botsende belange het nie,” het Weylandt gesê.
Volgens hom hoef regters nie hul finansiële belange te verklaar nie en sou so iets ’n moeilike proposisie wees, aangesien die regbank oor die algemeen spesiale beskerming moet geniet.
“Regters maak egter baie belangrike besluite – dikwels ook oor finansiële­ geskille. Regters in hoë posisies moet egter aan dieselfde ondersoeke as senior ampsdraers onderhewig wees,” het hy gesê.
Hy het ook gesê, ten spyte van die Grondwet wat parlementariërs verplig om finansiële belange te verklaar, het die Nasionale Vergadering nie gehoor hieraan gegee nie.
“Hulle het slegs in 2003 en toe weer in 2009 bateverklarings gedoen. Tydens die laaste geleentheid het 13 lede nie enige bates verklaar nie. Toe Geingob president geword het, het hy die publiek belowe dat hierdie praktyk weer ingestel sal word.
“Die Nasionale Vergadering het intussen verskeie spertye gemis.
“Die Nasionale Raad, daarteenoor, het sedert 2005 jaarliks sy register van belange gepubliseer,” het Weylandt gesê.

OPLOSSINGS
Die IPPR sê oplossings sluit in dat bateverklarings deel moet vorm van ’n breedvoerige voorkomingstelsel vir die botsing van belange, wat deur wetgewing geanker word.
Boonop moet die omvang van bateverklarings vergroot word en onder andere die president en visepresident insluit.
Weylandt het ook gesê bateverklarings moet deur ’n onafhanklike liggaam verwerk en gemonitor word en dat dit so ver moontlik openbaar gemaak moet word. Doeltreffende strawwe moet toegepas word op diegene wat byvoorbeeld sekere bates nie verklaar nie of ander oortredings begaan.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!