Stembriewe onder loep

Ofskoon elektroniese stemtoestelle net weer in ’n verkiesing gebruik mag word wanneer ’n naspeurbare papierspoor moontlik is, is die huidige toestelle in elk geval verouderd.
Sanet de Waal
Denver Kisting – Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) het by monde van sy hoofkiesbeampte, mnr. Theo Mujoro, toegegee die elektroniese stemtoestelle (EVM’s) wat dié liggaam sowat sewe jaar gelede bekom het, sal moontlik nooit weer gebruik kan word nie.

Hy het Maandagaand tydens ’n paneelbespreking, Election Talk, op NBC gesê die huidige toestelle is verouderd.

Die hooggeregshof het op 5 Februarie vanjaar gelas EVM’s mag net weer in ’n nasionale verkiesing gebruik word mits dit vergesel word met ’n naspeurbare papierspoor.

Dít kom nadat dr. Panduleni Itula, ’n mededinger in verlede jaar se presidensiële verkiesing, die kommissie hof toe gesleep het oor die uitslae.

Die ECN het toe gesê dit sal nagenoeg N$100 miljoen kos om die tegnologie te verkry wat ’n naspeurbare papierspoor moontlik sal maak.

Oor die stand van Namibië se EVM’s sê Mujoro: “Ons het gepraat met die Indiese staatsonderneming waar ons ons tegnologie verkry het. Ons het ons EVM’s in 2013, 2012 gekoop. Intussen het hulle (die Indiese vervaardiger) opgegradeer na ’n nuwe weergawe van EVM’s. Ons moet nou omgaan met versoenbaarheidskwessies. Ons weergawe is nogal oud op die oomblik.”

Op ’n vraag of dit beteken nuwe EVM’s sal aangekoop moet word sou dié toestelle ooit weer gebruik word, het Mujoro gesê: “Dit blyk dít sal die implikasie wees.”

Oor twee weke maak Namibiërs vir die eerste keer sedert 2014 gebruik van tradisionele stembriewe tydens die komende streekraad- en plaaslike owerheidsverkiesing op 25 November.

Mujoro het Maandagaand gesê die gebruik van stembriewe hou talle uitdagings in. Onder meer duur dit langer om stemme wat op daardie manier uitgebring word, te tel, sê hy.

Daarnaas, is bedorwe of verwerpte stembriewe eweneens ’n kopseer, sê die hoofkiesbeampte.

Lang rye by stempunte en hoe lank dit neem om verkiesingsuitslae bekend te maak, is ander uitdagings, sê hy.

“Daar was ook foute weens uitbranding; menslike foute en ander goed.”

Mnr. Graham Hopwood, uitvoerende direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), sê naas die koste verbonde aan die verkryging van aanvullende tegnologie, “of daar steeds op die oomblik openbare steun vir dit (EVM’s) is, is te bevraagteken”.

Maar, sê hy, tradisionele stembriewe hou hul eie tekortkominge in.

“Ek het mense gesien in die sosiale media wat sê: ‘Wow, dit beteken geen bedrog nie – niks kan verkeerd gaan nie. Enigiemand met ’n geheue van langer as 10 jaar, sal onthou daar was probleme soos dié waarna Theo (Mujoro) pas verwys het en daar was talle hofsake en daar was talle vertragings.”

Dit is belangrik om te besef geen kiesstelsel is volmaak nie, het Hopwood gemaan. “Watter stelsel ons ook al gebruik, daar is potensiële nadele en potensiële voordele. Ons moet bewus wees van hulle en verseker die stelsel werk so goed soos dit kan.”

Hopwood meen dit is waarskynlik goed dat dié terugkeerproeflopie saamval met die streekraad- en plaaslike owerheidsverkiesings vanweë die kleiner stempersentasie wat gewoonlik met dié verkiesings die tendens is.

“Ons weet nie wat die stempersentasie sal wees nie, maar geskiedkundig het ons ’n laer stempersentasie (vir dié verkiesings). Die tellery neem dus nie so lank soos in ’n nasionale verkiesing nie.”

In die verlede is daar tot ses of sewe dae op uitslae gewag ná ’n stembriefverkiesing, sê Hopwood.

“En wat ’n mens tans in die VSA sien wanneer goed vertraag is, styg agterdog. Dit mag dalk volkome vals agterdog wees, maar mense begin dink iets is agter die skerms aan die broei.”

Me. Carola Engelbrecht, direkteur van Citizens for an Accountable and Transparent Society (CATS), sê partye wat verkiesings verloor of minder stemme op hulle verenig, is dikwels die mense wat ’n kiesstelsel verkwalik vir hul verlies.

“So, toe ons stembriewe gehad het, het almal gesê kom ons kry EVM’s, want dit was al die politieke partye wat na Indië gegaan het, teruggekeer het en gesê het: ‘Ja, kom ons gaan daarvoor.’”

Sy is van mening EVM’s is skadeloos, sê die ontleder.

Trouens, sê sy, sy het reëlings getref vir ’n etiese kuberkraker om die toestelle in die teenwoordigheid van alle politieke partye te toets in aanloop tot verlede jaar se Nasionale Vergadering- en presidensiële verkiesings.

Opposisiepartye het egter ’n stokkie daarvoor gesteek. “Ek dink dit was ’n verpaste geleentheid.”

Prof. Victor Tonchi, die eertydse ECN-voorsitter, het op sy beurt ook sy bedenkinge uitgespreek oor die hernude gebruik van stembriewe. Syns insiens is die terugkeer na stembriewe uit ’n ontwikkelingsoogpunt ’n “vreemde skuif”.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer